Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 319 of 346

Is dit waar? Is dit mooi? Is dit noodsaaklik?

Ons gemeente het soveel wonderlike geleenthede. God seën ons met soveel mooi gelowi-ges wat lief het en omgee. Soveel wat met sagtheid met medegelowiges werk wat seer het.

Die teendeel kan ook waar wees. Kan jy dalk dink aan iets wat jy onlangs óór of vír iemand gesê het wat negatief was? Dit kan onnadenkend wees, of dit kan doelbewus wees. Tog weet ons dat die Here ons as geloofsgemeenskap oproep om teenoor mekaar en die wêreld positief te lewe. Waarom gebeur dit dat gelowiges mekaar soms so kan seermaak?

Waarheid sonder liefde, is tog nie die waarheid nie! Paulus roep ons op in Filippense 4:8 en 9 om te fokus op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is. Ja watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees, kom ons fokus ons gedagtes daarop. As ons doen wat die Here in sy Woord aan ons voorhou, dan sal God wat vrede gee, met ons wees.

Kan dit wees dat ek met my siening oor die waarheid en in die hantering van medegelowiges hulle dalk van die Here en die geloofsgemeenskap kan vervreem? Mag die Heilige Gees jou lei om met sagtheid te bemoedig, te vermaan en te vertroos. As dit nie waar is nie, as dit nie mooi is nie of as dit nie noodsaaklik is nie, bid dan eerder vir mekaar as om mekaar seer of verdag te maak.

Paulus waarsku ons telkens in sy briewe teen skeurmakery, verdeeldheid, afguns en jaloe-sie. So erg dat die gelowiges gewaarsku word dat hulle moet oppas dat hulle mekaar nie later sal verslind nie. Ons kan tog nie deel vorm van die spreuk: “Hond vreet hond” nie.

Die geloofsgemeenskap, ons tema vanjaar van “ons gee om” is deel van ons lewe om ‘n oog en ‘n oor en ‘n hart vir stukkende mense te kan ontwikkel.
Mag dit wees dat met dieselfde sagtheid wat die Here met jou werk, jy ook met ander sal werk. Mag jy eendag voor die Here staan en weet jy het gebou en nie afgebreek nie. Mag jy instrumenteel in die Hand van die Here wees om mense wat worstel, seer is, skaam, bang en bekommerd is te vertroos en toe te vou in die liefde van die Here.
Ds Paul

Hart van vrede in oordeel en genade

Skriflesing: Romeine 9
Teksvers: Romeine 9:22-24

Glo jy dat die Here altyd regverdig is? Dat wat Hy ookal doen of besluit regverdig is? Die enigste verskil tussen ‘n gelowige en ongelo-wige is God se genade. Sy genade is sy genade. Niemand van ons verdien enige genade nie. Die wat gered word, kan maar net die Here dank vir sy genade. Dit is ‘n genade om God se vredeshart te kan hoor en tot inkeer te kan kom. Die wat verlore gaan, kan hulleself maar net blameer. God is nie daarop uit om mense te vernietig nie. Hy het nie ‘n vendetta teen die mens nie, maar bied vir die mense die lewe.

Die getroue Verbondsgod het sy wil van genade aan ons in sy Woord geopenbaar. Sy wil is dat mense in Christus tot inkeer en bekering sal kom. In Christus fokus Hy op die nadertrek van mense en nie op die wegstoot van mense nie.

Mag jy weet dat die Here met ‘n vredeshart met alle mense besig is. Hy bied sy genade aan. Geseënd is jy wat die roepstem van die Heilige Gees hoor en binne God se genade in Christus kan lewe. Die wat vir sy genade “nee” sê, sal ewig lewe sonder Christus. Daar is immers net ‘n lewe in Christus of ‘n lewe sonder Christus.

Laai af

God bewaar altyd sy kinders

Skriflesing: Psalm 121
Teksvers: Psalm 121:7,8

Meeste mense het al in hul lewens werklik eensaam gevoel. Eensaam en bang vir gevare. Was dit ’n donker nag? Was dit eensaam en alleen op die pad? Was dit eensaam en alleen op kantoor, laat in die aand of waar ookal en wat ookal die omstan-dighede. Ons almal is in vandag se tyd bedag op rowers wat kan toeslaan laat in die nag, helder oordag, motorkapers of waar ookal. Maar hierdie Psalm leer aan ons God se trou en God se genade en God se bewaring.

  1. God het die pelgrims bewaar.
  2. God bewaar ons vandag.
  3. God sal sy kerk bewaar.

Laai af

Vervulling met die Heilige Gees

Hoe word jy vervul me die Heilige Gees? Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

“In die Nuwe Testament word daar nêrens aan die mense die eis gestel: word wedergebore of word met die Heilige Gees gedoop nie. Maar wel verneem ons telkens met betrekking tot die Heilige Gees ’n hele aantal bevele: “word vervul met die Gees” (Ef 5:18); “wandel deur die Gees” (Gal 5:16); “as julle deur die Gees gelei word” (Gal 5:18, voorwaardelik gestel); “wees heilig” (1 Petr 1:16).”
(Floor.1979:116)

God gee in Christus, uit vrye genade, aan al Sy kinders, sy lewendmakende Heilige Gees. Jesus Christus het ook aan ons geleer in Joh 14:16,17, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17) die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Ons moet onderskei tussen die “inwoning” en “vul” van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word aan al God se kinders gegee, (Ef 1:13) die oomblik van wedergeboorte sodat hulle kan glo. Niemand kan uit eie inisiatief in God glo en die verlossing verkry as God dit nie aan jou gee of dit aan jou openbaar nie. (Gal 3:2) Daarom bly die Heilige Gees in al God se kinders.

Maar omdat ons die Gees ontvang het, die kosbare heilige geloof, moet ons ook groei in die geloof, in kennis en vertroue, Gal 3:2.

Daarom moet ons ook biddend die Bybel lees, en doelbewus van die sonde wegvlug en ons volmaak met die sake van God. In Psalm 19:14 leer ons: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Om daarom met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons elke dag biddend ons sondes moet bely, wegvlug van die sonde af, en in gehoorsaamheid ons aan God toewy in gedagtes, woorde en werke. Dan het die Gees ’n vrye werking in ons om ons te lei. Sodoende word ons ook elke dag deur God se genade gelei om ’n al heiliger lewe te lei en meer en meer met die Heilige Gees vervul te word.

Ds Gerrit

Volhardende godsdiens teenoor kitsgodsdiens!

Skriflesing: Jak 5:7-11
Teksvers: Jak 5:7-11; 1 Petr 5:10

Ons lewe in ’n wêreld waar alles vinnig, maklik, gebruikersvriende-lik en sonder moeite moet geskied. Daarom is daar kitsrestauran-te, kitskos, kitsbanke, kitsgeluk, kitsrykdom, kitsantwoorde… maar daar is ook ’n soeke na kitsgodsdiens.

Kitsgodsdiens is waar “godsdienstige verbruikers” op soek is na ’n God wat hulle blitsvinnig kan help en tot hul diens is. Goedvoel-godsdiens, kitsgodsdiens, kitsgeloofsantwoorde, kitsgesondheid. Oppervlakkige godsdiens wat geen diepte het nie. Hierdie gods-diens is oppervlakkig. God vra van ons volharding en opregtheid en diepte. Daar is ook swaarkry wat lei na opregte geloof.

Ons gaan na drie sake kyk:

  1. Volhard in die geloof onder beproewings.
  2. Volhard soos boer, profete en Job.
  3. Volhard en weet dit is God wat die krag daartoe gee.

Laai af

« Older posts Newer posts »