Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 316 of 346

Glo jy?

Skriflesing: Joh 1:1-12; Joh 20:26-31
Teksvers: Joh 1:1 en 20:30,31

Die evangelis/apostel Johannes skryf aan ons sý weergawe van die Evangelie naas dié van die Sinoptiese Evangelies (Mat, Mar, Luk) om sy lesers te oortuig dat Jesus van Nasaret werklik die Messias is wat so lank verwag is. Hy wil ons en al sy lesers oortuig dat geloof in hierdie Jesus die verskil maak tussen ewige lewe en ewige dood. Sy aanpak is dus nie om ‘n chronologiese weergawe van die ver-haal van Jesus te gee nie. Van die 35 opgetekende wonders word net na die 8 verwys en daar is geen gelykenisse in Johannes se skrywe nie.

Dus skryf hy op ‘n heel unieke wyse aangaande Christus. Om sy leser te prikkel noem hy Jesus aanvanklik ‘Die Woord’ (Logos). Ons woordjie “logika” stam daarvan af.

My konklusie is dus dat Johannes wil skryf: Dit is absoluut logies dat as jy die ewige lewe begeer, dan moet jy glo dat Jesus werklik die Christus, jou Verlosser is. Daarsonder is jou geloof tevergeefs.

Laai af

Die aanloop tot Dordrecht (1618)

Die Dordtse Leerreëls is die geformuleerde reaksie van die Sinode van Dordrecht op die remon-stransie (protes of teenbetoog) van ’n groep predikante wat later as die Remonstrante bekend geword het. Die Sinode, wat in dié stad in Nederland plaasgevind het, word op 13 Nov geopen en sluit af op 29 Mei 1619.

Die aanloop tot die Sinode word ietwat vroeër gevind in die dispuut wat tussen twee professore ontstaan aan die teologiese fakulteit van Leiden en hul volgelinge, naamlik Jacobus Arminius (1560-1609) en Franciscus Gomarus (1563-1641). Die dispuut tussen hulle ontstaan oor die uitverkiesing wat vir Arminius daarop neerkom dat God van ewigheid besluit het om sommige in Christus vir wie Hy geloof skenk, te regverdig, tot kinders aan te neem en aan hulle die ewige lewe te skenk. Eweneens is die verwerping van ander ’n besluit van die toorn of van die streng wil van God waardeur van ewigheid besluit is dat hulle nie sal glo nie en buite die gemeenskap met Christus gestel is, verdoem tot die ewige dood. Eenvoudiger gesproke het dit ook gegaan oor die vraag of gelowiges ’n bydrae tot saligheid kan lewer al dan nie.

Die aanvanklike meningsverskil tussen Arminius en Gomarus en hul volgelinge verbreed en loop uit op twee strydende partye wat bekend sou staan as die party wat Arminius gesteun het, naamlik die Remonstrante, teenoor die Contra-Remonstrante wat uit die aard van die saak Gomarus se standpunt verder gevoer het. Behalwe die twee kerklike partye wat teenoor mekaar te staan gekom het, raak die owerheid ook betrokke – wat in dié tyd as normaal beskou is.

Die aard en omvang van die verskille tussen Arminius en Gomarus kom aan die lig in die dispu-tasies of openbare lesings wat respektiewelik op 7 Feb en 31 Okt 1604 plaasvind. Die spanning verhoog sodat dit uiteindelik vir die kerkraad van Leiden en die kuratorium duidelik word dat daar inderdaad diepliggende verskille tussen die twee professore was. Arminius wend hom tot die Staten van Holland en Wes-Friesland (die owerheid van twee Nederlandse provinsies), en op 30 Mei 1608 verskyn Arminius en Gomarus saam met vier predikante op las van die Staten voor die sogenaamde Hoge Raad. Die samekoms lewer nie die gewenste resultaat nie, selfs as onder leiding van Johan van Oldenbarnevelt (1547-1619) (raadspensionaris of landsadvokaat) op 12 Aug1609 verdere gesprek gevoer word oor regverdiging, predestinasie en hersiening van die belydenis. Die spanning neem toe en versprei verder in die kerk. Nog voor die vergadering formeel beëindig is, moes Arminius hom weens siekte onttrek; hy sterf op 19 Okt 1609. Tydens die Sinode van Dordrecht 1618 word egter beslis dat Arminius se dwaalleer nie aanvaar word nie en die Dordtse Leerreëls word as antwoord opgestel.

Ds Maarten

God stel alles in werking om sy wil deur te voer

Skriflesing: 1 Samuel 16
Teksvers: 1 Samuel 16:18 en 23

In hierdie perikoop openbaar die Here sy mag en beheer oor alles wat in die wêreld gebeur. Niks gebeur toevallig nie. Selfs die feit dat Dawid die gawe van die Here ontvang het om die lier (harp) te kon speel, word nou instrumenteel gebruik om Dawid in Saul se paleis te laat kom woon. God het dit so laat gebeur.

God is op tyd en op plek met die uitvoering van sy groot raadsplan. Selfs die oënskynlike kleinste dingetjies, soos ‘n lier, word gebruik om met nuuskierigheid en opgewondenheid te sien hoe die Here vir Dawid voorberei om eendag koning te word.

Kyk gerus weer ‘n keer hoe die Here in jou lewe selfs die klein-ste dingetjies gebruik om sy wil te laat geskied.

Laai af

Hoe word ek met die Heilige Gees vervul?

Skriflesing: Joh 14:15-31
Teksvers: Joh 14:16,17,25; Ef 1:13,14; Ef 5:18b

Ons moet onderskei tussen “die inwoning” van die Heilige Gees en “die vervulling” met die Heilige Gees. Ons ontvang die Heili-ge Gees net een keer as Hy in ons kom woon. Niemand kan uit vrye wil besluit of die Heilige Gees in jou moet kom woon of nie.

God bepaal dit. Aan al sy uitverkore kinders gee Hy die Heilige Gees op sy tyd en op sy wyse. Maar as ons die Heilige Gees in ons het moet ons voortdurend bid om al meer en meer met die Heilige Gees vervul te word, dit is om al meer en meer onder sy beheer te staan. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Hoe kry jy die Heilige Gees
  • Hoe word jy vervul met die Heilige Gees?
  • Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

Laai af

« Older posts Newer posts »