Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 288 of 345

Here hoor my as ek tot U nader!

Skriflesing: Nehemia 1
Teksvers: Nehemia 1:4-10

Nehemia fokus in hierdie eerste van tien gebede op die grootheid van die Here. Dit is sy basis waarop hy staan om tot die Here te nader.

Die Here is die groot en ontsagwekkende God. Verder bely hy die sonde van homself, sy gesin en die van die Israeliete. Dan eers kan hy op die Here fokus wat getrou bly aan sy beloftes.

Laastens kom hy in hierdie gebed om sy behoefte aan die Here te stel. Geen gebed kan gebid word sonder die be-sef van die Here se grootheid en ons eie afhanklikheid aan die Here nie.

Mag jy met groot verwagting tot die grote God nader in gebed, wetende dat jy totaal en al van Hom afhanklik is.

Laai af

Word kragtig in die Here

Skriflesing: Efesiërs 6:10-20
Teksvers: Efesiërs 6:10-13

Hoe kom ‘n mens by die hart van ‘n probleem uit? Ons het deesdae soveel teorieë oor wat presies die oorsaak van al die probleme in die wêreld, ons land, ons gemeenskap en lewe is. Ons word so gebombardeer met inligting en kitsoplossings, dat ons baiekeer nie by die hart van die saak uitkom nie. Ons behandel net die simptome.

Paulus beskryf egter vir ons die waarheid van die grootste probleem wat gelowiges in die gesig staar: Ons is besig met ‘n oorlog! ‘n Geestelike oorlog, geestelike worstelstryd wat vir elkeen van ons die belangrikste ding moet wees wat jy in hierdie wêreld doen. Is ons gereed? Weet ons wie ons is?

Laai af

Jesus is ons Eksodus

Skriflesing: Joh 13:31 tot 14:12
Teksvers: Johannes 14:6

“Laat julle harte nie ontstel word nie….” Maar glo! Glo in God, glo ook in Jesus Christus… Dit is die boodskap vanuit die Johannesevangelie wat so helder weergalm: Glo! Glo dat Jesus waarlik die Christus is, die Verlosser van hierdie wêreld.

Dit weerklink ook so duidelik in die “Ek is”-uitsprake waarmee Jesus dit bo alle redelike twyfel stel dat Hy waarlik die Verlosser is. Nie alleen is Hy die Brood van die lewe nie, Hy is ook die Lig van die wêreld. Hy is die deur van die skape. Hy is die goeie Herder wat Sy lewe gee vir die skape, want Hy self is ook die opstanding en die lewe… En nou hoor ons dit hier ook, dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe is…

In al hierdie dinge is Jesus nie alleen besig om Sy dissipels te leer wie Hy is nie, Hy is ook besig om hulle voor te berei vir alles wat nog voorlê: Die pad van geloof wat hulle moet stap.

Ons staan vervolgens stil by Jesus wat die Weg, die waarheid en die lewe is. Amen

Laai af

Negatiewe sake word deur God gebruik vir positiewe gesindhede

Die lewe kan so maklik vir ons negatief raak. Jou omstandighede kan jou so maklik negatief maak. Gebeure in jou lewe, in die skool, by die werk, in die politiek, in die ekonomie, in jou huwelik, in jou verhoudinge met jou werkgewers, onderwysers, ens. Maar hoe reageer jy hierop? Dit is so maklik om vanuit hierdie negatiwiteit te leef en self negatief te raak. Alles kan so maklik donker word om jou.

MAAR…

God is steeds in beheer van jou lewe en van die hele wêreld. Dit is so maklik om op jouself en jou gawes en jou omgewing te vertrou in plaas van op God.

Paulus was seker een wat baie negatief kon raak oor sy lewe en lewensomstandighede. Dink maar hoe het hy gely. Eers was hy ‘n Fariseër, ‘n dinamiese leier van die volk met ‘n blink toekoms van eer en aansien. Dan ruk God alles van hom weg deur hom met blindheid te slaan op pad na Damaskus. Dadelik weet Paulus dit is God wat met hom praat. Paulus word wederbaar sodat hy tot die besef kom dat God nie negatiewe dinge in sy lewe laat gebeur om hom, fisies en geestelik “te breek” nie, nee God gebruik hierdie dinge juis om hom sterk te maak vir sy dienswerk.

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” 2 Kor 12:9. Dit is juis wanneer jy altyd besef dat jy volkome op God moet vertrou. “Ora et labora!” Bid en werk. En wanneer jy besef Mat 5:3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Dit is wanneer ons in totale afhanklikheid van God leef dat ons weet dat ons met al ons swaarkry, wat dit ookal mag wees, na God toe moet gaan. Vertrou op God! God is in beheer. God sal nooit die werke van sy hande laat vaar nie. Maar deur swaarkry groei ons ook in ons geloof, omdat ons weet dat God altyd by ons is en vir ons sal sorg.

Ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »