Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 289 of 345

Jesaja sien die Here, – die Nood, – die Uitkoms

Skriflesing: Jes 6:1-13
Teksvers: Jes 6:13

Jesaja se roeping was sigbaar en hoorbaar en voelbaar en so intens dat hy gedink het dit is klaar met hom. Hy het gedink hy gaan doodgaan.

Hoe intens beleef ons ons roeping?

Maar hierdie roeping het daartoe gelei dat hy gesien het dat daar baie nood onder die volk was. Nood dat hulle God se roeping en nabyheid nie beleef het nie, nie gesien het nie. Maar God se onmeetlike groot genade is altyd daar. Daarom sal daar ’n uitkoms wees.

Laai af

Vals profete! Ware profete! Gehoorsame profete!

Skriflesing: 1 Joh 4:1-6
Teksvers: 1 Joh 4:4-6

Wie is Vals profete? Wie is Ware profete? Wie is Gehoorsame profete? Dit raak vandag al hoe moeiliker om die onderskeiding te maak.

Ons lees ook in die Skrif dat Satan hom voordoen as ’n engel van die lig. Daar is so baie kerke vandag, kerkgroepe. Wie het die Gees van die waarheid en wie het die gees van dwaalleer?

Ons gaan daarom juis vandag kyk na die drie sake uit ons Skrifgedeelte:

  • Vals profete.
  • Ware profete.
  • Gehoorsame profete.

Laai af

Dwaas by die wêreld, is wys by God!

Skriflesing: I Kor 1:18-31
Teksvers: I Kor 1:18-21
DL: Afsluiting

As daar iets sou wees soos ‘n “heilige sarkasme” sou dit in hierdie teks staan: “…het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking dié te red wat glo” (1:21). Die dwaasheid hier bedoel is nie onskuldige onnoselheid nie. Die Griekse “moria” beteken immers om moedswillig nie jou verstand te gebruik of reg te gebruik nie.

‘n Moros of moron/moroon is dus ‘n dwaas.

“Moria” staan direk teenoor die “sofia” (wysheid/etiek) van die Grieke. Tiperend van die heidense ‘sofia’ is die vertikale lyn van onder na bo – die mens moet opklim na die hoëre wêreld van die goeie. Die evange-lie is daarom dwaasheid (moria) vir die Grieke… want die boodskap van Christus is een van Bo na onder!!

God gryp van bo in met herskepping en wedergeboorte, alleen op grond van sy ewige uitverkiesende liefde en genade.

Die ‘woord van die kruis’ nl. God se werk in die dood en opstanding van Christus, is dus dwaasheid vir die Grieke (heidene), maar dit is ware ‘sofias’ (ware wysheid) by God! Die ‘moron’ sal dit egter altyd betwyfel, bevraagteken en bestry.

En ek en jy? Vir ons is dit verlossing van bo… dít is ware wysheid van God, tot ryke troos en krag vir elke dag!!

(Weens tegniese probleme wat tans ondervind word is die opname nie volledig nie)

Laai af

Ons was Vyande, ons is Verander, ons staan Vas vorentoe

Skriflesing: Kol 1:14-23
Teksvers: Kol 1:21-23

Jy het verander. Dit hoor mens gewoonlik na ‘n lang tyd van geleidelike verandering, wanneer iemand skielik besef dat jy nie meer dieselfde persoon is nie. Nadat jy ander gewoontes en ander maniere aangeleer het, dan eers verander jou status in iemand se oë.

Met die Here werk dit anders. Jy word nie verander deur iets wat jy doen nie, maar jy word deur Jesus verander na iets heeltemal anders toe. Dan sit ons wel in die ongemaklike plek dat ons gewoontes moet opvang by dit wat ons werklik is.

Daarom ervaar ons wrywing in ons geloofslewe, omdat Jesus ons verander het vanaf ‘n vyand na ‘n heilige toe.

(Weens tegniese probleme is die opname dalk nie volledig nie)

Laai af

Die gevare van ‘n boesemsonde

“Die vraag is sekerlik: Wat is ‘n boesemsonde? Dit gebeur dikwels dat ‘n bepaalde persoon ‘n sterk neiging het om ‘n spesifieke sonde te doen, om een of meer gebooie van die Here op ‘n bepaalde wyse te oortree. Dit kan byvoorbeeld wees ‘n neiging tot diefstal, seksuele losbandigheid, pornografie, drankmisbruik, verwaandheid, eersugtigheid, spandabelrigheid, gierigheid ens.

Daar word gewoonlik gepraat van iemand se swakpunt of sy boesemsonde. Dit is ‘n geliefde of verslawende sonde waartoe iemand maklik verlei kan word. Dit is ‘n punt waar hy in sy stryd teen Satan en die sonde, baie kwesbaar is. Indien iemand so ‘n boesemsonde het – en die meeste mense het dit – moet hy goed daarvan bewus wees en homself nie probeer bluf deur te maak asof hy daar niks van weet nie. Hy moet besef dat Satan hom juis op daardie punt van sy lewe sal probeer aanval om op die wyse sy hele lewe te verwoes.

Dit is immers altyd so as daar oorlog gevoer word: die een vegtende groep probeer die ander groep altyd op die swakste en kwesbaarste plek aanval, die plek waar hy die maklikste en terselfdertyd die grootste skade kan aanrig. So doen Satan ook met die mens.

Daarom moet die gelowige juis ten opsigte van daardie swak punt in sy lewe uiters waaksaam en op sy hoede wees. Hy moet homself nêrens, maar veral nie ten opsigte van sy boesemsonde aan die verleiding of versoeking van Satan blootstel nie. Wie byvoorbeeld ‘n sterk neiging tot drankmisbruik het, moet alle plekke of byeenkomste waar sterk drank bedien word, waar enigsins moontlik vermy.

Wie keer op keer in ‘n boesemsonde val, moet nie moedeloos word en ophou om daarteen te stry nie; inteendeel, hy moet steeds met groter inspanning stry, terwyl hy God aanhoudend en baie ernstig bid om hom te help in sy stryd teen die sonde.”

  • Bly teen die boesemsonde stry.
  • Bely dit opreg en eerlik voor God.
  • Bid vir krag deur die Heilige Gees om te kan oorwin.
  • Glo steeds dat God aan jou die krag en genade sal gee om dit te kan oorwin.

(Bron. PJ de Bruyn. 2008. Die Tien Gebooie. bl. 265)

« Older posts Newer posts »