Page 226 of 345
Skriflesing: Eks 20:8-11; Psalm 92
Teksvers: Ps 92:1,2,14 (Eksodus 20:8-11)
HK Sondag 38
Die Sabbatsgebod reël die mens se weeklikse roetine. Ses dae werk en een dag rus. So was dit van die begin af. Ja, selfs voor die gee van die Tien Gebooie was dit reeds die reël! (Eksodus 16 – die sewende dag was daar geen manna nie).
Die mens wat as die beeld van God gemaak is, ontvang dus hierdie reël van sy God. Op die sewende dag het God sy werk voltooi deur te rus. Die rus was die kersie op die koek! God laat Hom nie rusteloos voortjaag nie. Hy wil ook dat die mens in ‘n bepaalde roetine kom, en so nie ‘n slaaf van die dolle gejaag van die tyd word nie.
Het jy nog tyd vir die Here? Die Sondag wat in die plek van die Sabbat gekom het, is juis die dag waarop jy en ek kan rus, weer tot verhaal kan kom, om na te dink en weer van Hom te leer hoe ons Hom in die week moet dien!
“Ecclesia reformata semper reformanda”
Skriflesing: 2 Kon 17:1-41
Teksvers: 2 Kon 17:2,13,27,28,34,37,3
Hervorming is ‘n blywende opdrag. Reformeer terug na die Skrif toe, bly ‘n noodsaaklikheid. Nogtans leef ons in veranderde omstandighede, met nuwe uitdagings, met mense wat nuut dink en doen, daarom moet die kerk die mens van die dag bedien. Maar God en die Skrifwaarhede verander nie. Om met die tyd by te bly en God nog steeds opreg en eerlik te dien, is ‘n geweldige uitdaging. Daarom mag die kerk nie verwater nie. Daarom moet die kerk reformerend, relevant bly in ons tyd. Dit beteken nie dat ons reformasie altyd net moet sien as terugkeer na ou tradisies en gebruike van die verlede nie, maar dat ons moet aanpas in ‘n moderne tyd, maar nogtans die Skrif, belydenis en Kerkorde moet gebruik om God opreg en eerlik te aanbid soos wat Hy in sy Woord van ons vra.
Mag ons die wysheid altyd van God kry om ware kerk te bly!
Ek herinner my presies ‘n jaar gelede hoe ons in die beplanning van die jaarkalender vir 2020 gesoek het vir die regte jaartema. Na verskeie pogings en oorwegings het een van ons die mense se vrese oor die toekoms aangespreek en het ons tot bemoediging van die gemeente besluit die tema sal wees:
Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg- Ps 37:5.
Die besondere van hierdie besluit is dat nie een van ons daardie aand in die konsistorie geweet het wat rêrig in 2020 op ons wag nie!! En dit is presies die waarheid. Hy weet wat ons nie weet nie, en Hy lei ons ook in ons gedagtes ter voorbereiding.
Kyk ons dus terug op die jaar en dan na die jaartema van 2020, is dit aangrypend mooi om te weet dat Hy lankal besig was om ons voor te berei en te herinner dat Hy in beheer is van die toekoms. So lees ons in Deut 31:8 dat die Here ons vooruitgaan en by ons is. So stel Jes 52:12 dat die Here voor ons uit gaan en agter ons aan kom. So leer ons dat die goeie Herder ons lei. En Jesus self verklaar : “Ek is met julle al die dae…” (Mt28).
En hoe het ons dit nie ervaar nie. Ja, sommige van ons het baie verloor en seergekry. En tog sorg die Here. Hy het ons gedra deur die pandemie en sy nare gevolge. Op persoonlike vlak ons gedra. Op kerklike vlak ons soos ‘n herder versorg. Hy sal ons ook verder dra en versorg soos ‘n Herder en Vader, en soos net die Here alleen kan.
Dit laat mens opnuut weer dink aan Mary Stevenson se pragtige gedig: Voetspore
Ds Maarten
~Voetspore gedig~ Mary Stevenson
Een nag het ek ’n droom gehad. Ek het gedroom dat ek op die strand loop en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel. In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien: myne en die Here Jesus s’n. Toe die laaste toneel voor my afspeel‚ het ek teruggekyk na die voetspore in die sand en merk toe op dat daar soms net een ry spore was. Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewig-ste tye in my lewe! Dit het my gehinder en ek het gevra: “Here‚ toe ek begin het om U te volg‚ het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie. Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe? Ek kan nie verstaan waarom U‚ in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.” Die Here het geantwoord: “My liewe kind! Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie. Die tye wat jy net een ry spore gesien het was die tye toe Ek jou gedra het.”