Page 225 of 345
Skriflesing: Eksodus 20:12; Efesiërs 6:1-9
Teksvers: Eksodus 20:1
HK Sondag 39
In die vyfde gebod, waar dit oor gesag gaan, is die beginsel wat daargestel word, ‘n baie intieme en bekende verhouding: Eer jou vader en jou moeder!
Gesag begin by hierdie eerste verhouding waarin ons die wêreld binne kom. Jou ouers is die eerste persone wat jy ken. Hulle is die persone deur wie jy in die lewe kom. En hulle is uiteraard die eerste mense met wie jy te doen kry… As ouers is ons nie alleen in ‘n liefdesverhouding tot ons kinders nie, maar ook ‘n gesagsverhouding…
Hierdie gesagsverhouding weerspieël iets baie meer as net ons gesinstruktuur. Dit wys op ons gewilligheid om te leef onder die gesag van ons hemelse Vader. Ons staan stil by die vyfde gebod met die tema: Gehoorsame kinders leef tot eer van God.
Skriflesing: Markus 4:35-41; Markus 14:32-42
Teksvers: Markus 4: 38
Ons lewe in stormagtige tye. Dit raak elke dag moeiliker om sin te maak uit dit wat rondom ons aan die gang is en steeds kom meer en meer inligting deur al die media tot ons ore… meesal nogal slegte nuus. Soms word ons so oorweldig dat ons ook soos die dissipels die Here wil verwyt.
Kyk mooi na die teks en sien dan dat Jesus nie verskoning aanbied omdat Hy heerlik “op die kussing” aan die slaap geraak het nie. Hy was niks bang nie. Hulle was. Hulle projekteer. Hulle verwyt. Hulle verloor perspektief.
Dit is so menslik, so hartseer. Pasop dat jy nie ook jou vinger in God se oog wil druk met verwyte vir die tye wanneer jou perspektief ontbreek nie. Vrees jy God!
Hierdie jaar, was ‘n uiters uitdagende jaar gewees.
Uitdagings en swaarkry. Elkeen van ons het die swaarkry beleef. Aanvanklik ‘n totale inperking, huisgebonde… Die ekonomie het en ly daaronder. Ons het almal daaronder gely om nie die “normale” te kon doen nie. Party het hulle besighede verloor, ander hulle werk, sommige het verminderde salarisse gekry. Ons kon nie as gemeente “normaal” bymekaarkom nie. Ons kon nie “normaal” woon, werk, kuier, vakansie hou en sport beoefen nie. As kerk kon ons nie eredienste, vergaderings, Bybelstudies, Jeugaksies ens. hou nie. Daar was baie uitdagings wat ons die hoof moes bied.
God bly getrou. God bly egter altyd getrou. Ons kon die elektroniese media gebruik vir oordenkings, preke, dienste, katkisasie, vergaderings ens. Ons kon en kan God steeds voluit aanbid in ons binnekamer, in ons huise en nou ook as gemeente, al is ons beperk tot 250 mense per erediens. Ons hou egter nou weer vier dienste per Sondag met katkisasie vir die Hoërskoolkinders. Wat ‘n voorreg om God steeds te kan dien en aanbid, al is dit aangepas, nuwe maniere en met meer moeite om die gemeenskap van die heiliges te kan beleef. God is dieselfde God van geslag tot geslag. God het nog nooit verander nie. God wil steeds gedien word, geëer word en geloof word. God wil steeds dat ons Hom sal liefhê met ons hele hart en siel en verstand en met al ons kragte.
Ons moet in dankbaarheid leef en steeds bou. En ons moet juis met ons hele wese en bestaan, ons dankbaarheid teenoor God betoon. Moet nie ophou om God te dank en te dien en te loof en te prys nie. Al kan sommige weens besondere omstandighede nog nie voluit meeleef met eredienste ens. nie, kom ons verdra en dra mekaar. Kom ons bid vir mekaar. Kom ons dien die Here steeds voluit binne ons omstandighede en ons vermoëns. Stelselmatig soos ons kan en mag begin ons ook weer die kerkbedrywighede en kerkkalender volg soos wat ons kan.
God is getrou. God het nie in 2020 ons alleen gelos nie. God sal altyd by ons wees. Kom ons bou positief, biddend aan die koninkryk van God. Mag God ons genadig wees om spoedig, op Sy tyd, weer voluit as gemeente te mag saamkom in aanbidding en lofprysing.
Ons wag op die Here se tyd, biddend met harte vol verlange!
Ds. Gerrit Kruger