Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 220 of 345

Die Vaders het groen druiwe geëet en die tande van die kinders het stomp geword

Dit is baie swaar om te dra aan ‘n las van die verlede wat jou opgelê word, sonder dat jy self daarvoor verantwoordelik is. Die afgelope week was daar baie geskryf in die openbare media oor die boek: The lie of 1652 wat onlangs verskyn het. Hiermee maak die skrywer sekere aannames en gevolgtrekkings wat direk toegepas word op vandag. 

Dit herinner aan die woorde van die Here deur die profeet Esegiël in hoofstuk 18 dat die ouers (vaders) groen druiwe geëet het en die tande van die kinders het stomp geword. Daarmee verwys die Here self na die spreekwoord van die Israeliete wat voel dat die kinders die las moet dra van die ouers se optrede. 

So word vandag se nageslag ook verantwoordelik gehou vir die optrede van voorgeslagte bykans 400 jaar gelede. Is dit billik of regverdig of iemand verantwoordelik te hou vir iets wat hulle nie gedoen het nie? Dit is ‘n baie moeilike en soms netelige saak oor presies hoe ons verantwoordelikheid kan neem om die verkeerdhede van die verlede reg te stel? Word die sondes van die vaders dan “gestraf” aan die kinders, die derde en vierde geslag? Of tot aan die duisendste geslag? 

Ongelukkig is dit so dat aksies gevolge het. Dit wat jy doen sowel as dit wat jy nie doen nie. 

Net so is dit ook waar dat die geskiedenis een ding bewys, dat ons nie leer uit die geskiedenis nie. Immers, niks onder die son is nuut nie, soos die Prediker sê. Om uit ons perspektief terug te kyk na die verlede, is dit baie maklik om sekere dinge duidelik te sien. Dit geld nie net vir ons eie lewe nie, maar ook vir die geskiedenis van die mensdom. 

Dit maak die koms van ons Here Jesus so belangrik en merkwaardig. Dat ons vergewe word vir ons verkeerdhede en sondes, en dat ons deur ons lewens te verander, sekere dinge kan regstel. Vergifnis is sekerlik een van die kragtigste dade wat ‘n mens se lewe verander. 

Daarom leer ons Here Jesus ons om te bid: vergewe ons ons skulde net soos ons ons skuldenaars vergewe… 

Dink maar aan die swaar las wat soveel mense dra omdat hulle nie kan vergewe nie, omdat hulle nie kan vrede maak met die verkeerdhede en sondes van ander mense nie. En soms ook nie met hulle eie sondes nie. 

Die kruisiging van ons Here Jesus Christus bring elke mens voor vergifnis en oordeel. Die twee misdadigers neem elkeen hul eie standpunt in. Die een wat pleit om vergifnis en genade, die ander een wat veroordeel. Die dissipels wat vlug en verraai en verloën word gekonfronteer met skuldgevoelens. Petrus wat pleit om genade en in trane uitbars en Judas wat nie kan vrede maak met wat hy gedoen het nie… 

As ons binnekort Kersfees vier, dan dink ons terug aan die verlede. Aan die onreg wat Jesus aangedoen is. Hy wat sonder sonde is, moes sterf ter wille van ons s’n. Maar Hy verkwalik ons nie daaroor nie, Hy gee ons nuwe hoop en nuwe moed. Niemand wat ploeg en agtertoe kyk is immers geskik vir die koninkryk van God nie. 

Lourens Venter (vdm) 

MARANATHA

Kom Here Jesus kom gou!

Openbaring 22:6-21 (20): “Hy wat dit getuig sê: Ja, Ek kom gou. Amen,
ja kom Jesus onse Here!”

Maranata is die Griekse weergawe van die Aramese bede, “Kom Here Jesus”. Dit lees ons in 1 Kor 16:22. Dit is ‘n hartsgebed, ‘n eerlike versugting van die gemeente wat uitsien na die wederkoms van die Here Jesus Christus met die wolke, ‘n opregte en eerlike versugting.

Die slot van Openbaring word gekenmerk deur herhaaldelike aankondigings van Christus se spoedige terugkoms.

Open 22:7 “Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou!…”

Open 22:12 “Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! …”

Open 22:20 “Hy wat dit alles getuig sê: Ja, Ek kom gou!…”

En juis die feit dat dit drie keer genoem word, maak dit so belangrik. Want in die Hebreeuse kultuur, as ‘n saak baie belangrik was, is dit drie maal herhaal. Die Gees Self is die Een wat hierdie woorde se waarheid in die harte van mense moet inbrand. Daarom volg die dringende uitnodiging in Open 20:17 aan letterlik alle mense deur die Gees en die bruid (vgl. Jes. 55:1) om te kom deel in sy ewige redding. Na ʼn ernstige waarskuwing om hierdie profetiese woorde nie te verag of af te water nie, omdat dit ewige implikasies inhou vir mense wat so dwaas sou wees (vers 18-20), volg ʼn laaste seën as Christus vir die derde keer in hierdie gedeelte uit-roep:

“Ja, Ek kom gou!” Open 22:20

Wat in Openbaring staan, is die ware en betroubare getuienis van Jesus Christus. (vgl. 22:6) Die inhoud van die boek handel oor die voleinding van die wêreld met die wederkoms van Christus. Dit is so dringend. God stel nie Jesus Christus se wederkoms uit nie. Maar ons moet onthou dat ‘n dag is soos duisend jaar en duisend jaar is soos een dag vir God. Jesus Christus se wederkoms is verseker. Maar daar is tyd om gereed te maak. Daar is tyd om tot bekering te kom. Maar die tyd is vinnig besig om uit loop. Die Wederkoms is naby. Dit kom soos ‘n dief in die nag. Ons weet nie wanneer nie. Daar is ‘n tyd om te vra:

IS EK REG VIR DIE WEDERKOMS?

Op daardie woorde van Jesus antwoord Johannes, en met hom die gelowiges saam: Amen! Kom Here Jesus!

Roep ons ook uit …

Maranata! Kom Here Jesus kom!
Asseblief, kom tog gou met die wolke!

Ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »