Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 219 of 332

So is ek gedra in my stryd met Covid-19

Na my huisbesoek by ondergetekende lidmate van wyk C08, waarin ons die Here gedank en geloof het vir sy genade en versorging, het ek vir Frikkie gevra om iets op skrif te stel.

Sy getuienis betreffende die liefdevolle ondersteuning van sy wyk en die res van die gemeente was opvallend en wil ek graag as aanmoediging vir die res van die gemeente hier deel.

(Ds Maarten)

2 Kor 12:26 “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”

So is ek gedra in my stryd met Covid-19

(Aug 2020)

Die lyfseer, kortasem en hoofpyn, so tiperend, was my voorland, en die toets het dit wat ek instinktief geweet het, bevestig. Koud en klinies was die dokter se opdrag: jy word opgeneem.

Dit was ʼn skok ja, maar ons weet ons hulp is van die HERE, ons sal geen onheil vrees nie. Uit Sy hand ontvang ons dag-vir-dag die goeie, maar ook die onvermydelike van hierdie lewe, laat Hy toe om ons te louter en te suiwer vir Sy Koninkryk.

Die dae in die hospitaal was uiters lank en onpersoonlik, maar ek volg instruksies getrou. Maar ure se moedeloosheid oor die onmagtigheid wat my soms soos ʼn kombers wou vers-moor, het my elke keer opnuut laat soek na God en het Hy my versterk op sy tyd.

Toe ek uiteindelik weer kon kommunikeer bring die selfoon talle boodskappe en oproepe, ʼn inspirasie wat toe só nodig was. Baie belangrik was die persoonlike oproepe van ons leraars. Woorde van bemoediging en ook die wete dat hulle omgee vir ons was meer as goud werd .

Baie dankie aan al die lede van ons wyk se whattsapp-groep wat ons ondersteun het en ook vir ons gebid het. Aan al die gemeentelede wat vir ons gebid het, baie dankie vir julle en dat julle vir almal wat dit nodig het, bid. Dankie vir die blomme en kos wat aangedra is!

Aan my wederhelfte van 49 jaar, baie dankie ook vir jou gebede en versorging toe ek kon huis toe kom.

Die belangrikste van alles en almal is GOD ons Hemelse Vader wat ons elke dag bestuur en dat Sy Heilige Gees ons lei en bewaar. Aan U, ons Vader, al die eer, die lof, die dank en die aanbidding.

Frikkie (en Poppie Brits) Wyk C08

Sonder goeie werke is ons geloof dood

Skriflesing: Jakobus 2:14-26
Teksvers:  Jakobus 2:17
HK: Sondag 32

Wat ‘n verskriklike aanklag: Sonder goeie werke is jy geestelik morsdood! Baie mense reken dat ons nie enige iets kan saamneem hemel toe nie, en tog bly dit duidelik dat ons nie sonder goeie werke die hemele sal kan binnegaan nie.

Daar is wel ‘n wesenlike onderskeid: Ons doen nie goeie werke om in die hemel te kom nie, nie om gered te word nie, maar omdat ons gered is. Goeie werke is die bewys van ons verlossing.

Ons staan vanaand stil by die tema: Sonder goeie werke is ons geloof dood. Amen

Laai af

Ons krag is by die Here wat Almagtig is! Klipdassies, het min krag, maar hulle bly teen kranse

Skriflesing: Spreuke 30:24-28
Teksvers: Spreuke 30:25; 2 Kor 12:10; Open 3:8

Ons meet dikwels die kerk se sukses in getalle, mag, gesag en impak in die wêreld. Ons hunker na gesag en mag om die evangelie uit te dra en om ons lewens te vergemaklik. Ons wil graag met krag en mag en gesag lewe en werk. Maar ons lees van ‘n klein dassie, met min krag en met min gesag wat uitermate wysheid het omdat hulle juis lewe soos wat God hulle geskape het. Daarom is die kerngedagte juis dat ons krag is by die Here, ons Rots. Ons het wel min krag, maar God is ALMAGTIG. Ons gaan na drie sake kyk:

Dassies het buitengewone wysheid met betrekking tot:

  • Blyplekke.
  • Beskermingsmetodes.
  • Oorlewing.

Laai af

« Older posts Newer posts »