Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 221 of 332

Jy is jou broer se wagter

Skriflesing: Matteus 18:15-35
Teksvers: Matteus 18:18-20
HK: Sondag 31

Die Evangelie is ‘n sleutel waarmee die koninkryk van die hemele oop en toegesluit word. Deur die verkondiging van hierdie evangelie word ‘n nuwe wêreld vir die ongelowige ontsluit. ‘n Wêreld van genade en vergifnis. Maar terselfdetyd kan hierdie evangelie ook toesluit. Elkeen wat die deur van genade binne gegaan het, wat die vaderhuis verwoes en vandaliseer, word deur dieselfde evangelie vermaan en selfs by die deur uitgegooi.

Ons staan vanaand stil by die laaste Sondag oor ons verlossing, waarin die sleutels van die koninkryk ons voorgehou word aan die hand van Matteus 18, met die tema: Jy is jou broer se wagter.

Laai af

Waarom kom weer kerk toe?

Skriflesing: Mat 11:1-19 (Luk 7:18-35) Mat 3:2
Teksvers: Matteus 11:11

Wat ‘n groot voorreg dat ons weer kerk toe kan kom! Ja, al is daar nog beperkte sitplek, is daar darem nou weer hoop dat dat dinge binnekort gaan normaliseer. En in al die opwinding hieroor moet ons tog die bogestelde vraag aan ons eie harte stel.

Die pandemie het ons immers diep vrae laat vra. Was ons nie té besig nie? Het die Here ons horlosie ‘n wyle stadiger gestel…

En nou, ‘n paar maande later… Het ons alweer nuwe spoed opgetel? Nou nog vinniger. Amper angstiger? Vrae aan onsself en ons gees. Eerlike vrae. Daarom die bogenoemde vraag.

Waar pas die Here Jesus Christus in my lewe in?

Laai af

Nie selfvoldaanheid nie maar dankbaarheid!

Pred 9:1-12

Ons kan so maklik dink dat EK ‘n geweldig impak by die werk, skool in my omgewing maak. Die eie-ek is tog so dikwels ons norm. Daarom meet ons andere aan onsself, ek is die vinnigste, slimste, sterkste, oulikste, mooiste, rykste ens.

Maar wat het ek of besit ek wat ek self verdien het? Is alles nie genade van God nie? Is alles wat ek het nie aan my gegee om te dien nie. Die Skrif is duidelik dat hy wat die belangrikste wil wees, moet die minste wees. Ons Here Jesus Christus, die Koning van die konings, het op ‘n donkie gery. Op aarde het Hy nie sondaars voor Hom weggevee nie, maar vir hulle gebid, hulle bemoedig, vertroos en die evangelie verkondig. Trouens Hy het vir ons as sondaars Sy lewe kom aflê.

Die dissipels het gestry wie van hulle is die belangrikste in die koninkryk, selfs gestry oor wie langs Jesus sal sit. Dieselfde geld natuurlik vir intellektuele kapasiteit. Dit is nie noodwendig die intellektueles wat die beste daaraan toe is of wat die kitaar moet slaan nie. Dit is diegene wat biddend voor God staan, diep afhanklik van Hom.

Dit beteken nie dat jy jou eie talente moet minag nie, maar bloot dat jy dit na waarde skat soos wat God dit aan jou gegee het en dit gebruik tot eer van God en tot voordeel van jou naaste. Ons lees in Prediker 9 dat die goeie en die slegte met alle mense gebeur. Nie een is gevrywaar van die swaarkry op aarde nie. God gee reën en droogte, rykdom en armoede.

Daarom moet daar geen selfvoldaanheid wees nie, maar dankbaarheid. Daar moet dankbaarheid in ons harte wees dat ons kinders van God is. Dankbaarheid dat Hy ons gekoop het met Christus se kosbare liggaam en bloed. Dankbaarheid dat ons meer as oorwinnaars, deur Jesus Christus is. Doen alles dus met toewyding en werk hard maar rustig. God is in beheer.

ds Gerrit

« Older posts Newer posts »