Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 203 of 332

Statistieke

Ons het die afgelope jaar nogal gewoond geraak om statistieke te hoor en daarop te reageer. Veral die Covid-syfers wat elke dag uitgesaai is… en as jy nie die konteks behou nie, kan dit maklik vrees en angs by jou opwek. Dit was en is ongelukkig een van die neweeffekte van die pandemie se gereelde statistieke. Dan daal die syfers weer en die pendulum swaai oor na die ander kant. In sulke tye van verwarring vlug ons maar na die veilige arms van die troue God en Vader wat alles weet, alles in geheel sien, lei en rig. 

Ander statistiek wat u dalk nooit regtig hoor of sien nie, al is u self deel daarvan, is dié van ons erediensuitsendings. Volgens ons elektroniese kommissie kan hulle presies sien en bereken hoeveel keer die video- of oudio-opnames bekyk of beluister word, hetsy in tyd of latere opnames daarvan. Net die laaste paar weke waar daar niemand toegelaat is om na die eredienste te kom nie, was dié syfers egter baie bemoedigend. Soggens was daar gereeld meer as 2000 luisteraars en saans ongeveer 700. 

As u uself so bietjie in die prediker se posisie plaas om op die preekstoel te staan en daar is niemand of regtig weinig mense in die kerk (want nét die diensdoenende ampsdraers was daar vir toesig oor die woordbedienaars, soos die kerkorde dit vereis), dan raak hierdie syfers mens nogal baie. Om vir ‘n letterlik leë kerk te preek, is nie so maklik as wat dit dalk lyk nie. Ek dink die ander leraars sal saamstem dat ons nie kan wag om weer vol kerke te sien nie. 

Om egter te besef dat ons in hierdie uitdagende omstandighede byna méér luisteraars na die Woordbediening trek, is ‘n riem onder die hart. Dit ‘bewys’ ook dat die omstandighede mense weer terugdwing na die Woord en na die God van die Woord. Nou is dit my stille wens dat, sodra die kerkgebou weer meer en meer oopgestel word, die gemeente in dieselfde volle krag sal optrek kerk toe. 

Vergun my dus ‘n spesiale woordjie van dank aan die hele elektroniese span wat met groot toewyding deur die hele grendeltyd gesorg het dat die eredienste onverpoosd uitgesaai en op verskeie maniere beskikbaar gestel is aan die hele gemeente. 

Ons sien mekaar DV binnekort in die kerkgebou vir die eredienste!

Ds Maarten 

Die huis van gebed moet nie ‘n rowerspelonk wees nie

Skriflesing: Jeremia 7:1-34; Markus 11:12-26
Teksvers: Markus 11:9-11
HK Sondag 47

“Mag die koning ewig lewe” so het die mense van ouds die koning gegroet. Want niemand wat met ‘n koning begin te praat val net weg en vertel hom hoe sleg hy is en wat hy alles verkeerd doen nie. Dit is immers die koning. En al is hy ‘n slegte koning, beklee hy ‘n waardige posisie.

Soveel te meer vir die ware en ewige Koning voor wie ons neerbuig in aanbidding. In die eerste bede leer ons Here Jesus ons om te bid: “Laat U Naam geheilig word.” Want daarmee moet ons afsien van ons eie begeertes en belange om te fokus op die waardigheid van God.

Ons staan vanaand stil by hierdie eerste bede in die lig van Jeremia se verskrikking en ons Here Jesus se woede met die tema: Die huis van gebed moenie ‘n rowerspelonk wees nie.

Amen

Wapens vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen

Skriflesing: 2 Kor 5:11-6:12: Ef 6:10-20
Teksvers: 2 Kor 6:6,7; Jes 55:6

‘n Bekende en tog ‘n onbekende vyand is besig om die wêreld aan te val. Ons is almal baie bang vir hierdie vyand wat ons nie kan sien nie, maar die gevolge van sy teenwoordigheid beleef. Ons beleef die gevolge met inperkings, met siekes met oorvol hospitale, met selfs die dood. Die vyand self, die Covid 19 virus met al sy variante, kom van Satan self. Die doel is om God se kinders van Hom af weg te trek vanweë ongeloof, kleingeloof, dalk verwyte ens. Op allerlei manier is die Satan elke dag besig om die kerk, Christene aan te val en te probeer oorwin. Paulus verduidelik hier aan die gemeente van Korintiërs sy wapens, aanvals- en verdedigingsmetodes en sy doel met sy dienswerk in hierdie stryd.

  • Paulus se wapens.
  • Paulus se aanvals en verdedigingsmetodes.
  • Paulus se doel.
« Older posts Newer posts »