Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 203 of 345

Ek stuur julle..!

Skrifgedeelte: Johannes 20:19-23, 21:1-14
Teksverse: Vers 21

Soos die Vader My gestuur (apostello) het, stuur (pempo) Ek julle ook…! Die Woordjie apostello is die woordjie wat ons ken as apostel. Dit beteken gestuurde. Jesus gebruik ‘n voltooide vorm van die werkwoord wat wys op die werk wat Hy reeds volbring het. Sy Vader het Hom gestuur/beveel en Hy het die werk gedoen/klaar gemaak. So gee Hy dan die opdrag aan die dissipels, dat hulle dieselfde opdrag verder gaan doen. Hulle word dan apostels.

Maar Petrus, Thomas en ‘n klompie ander dissipels stel nie belang om apostels te wees nie, hulle gaan terug na dit wat hulle ken, as vissermanne. Ons kyk na die sendingsopdrag met die oog op Jesus se hemelvaart en hoe Jesus ons ook stuur… Amen

Wees gelowig!

Skriflesing: Johannes 20:19-31 
Teksvers: Johannes 20:30-31 

Nie minder nie as tien keer verskyn die Here Jesus aan mense na sy opstanding uit die dood. Ten spyte daarvan dat soveel mense getuig van sy opstanding, bly Thomas volhard in sy ongeloof. As hy nie self die Here sien en self aan die gate in sy hande voel nie, sal hy nie glo nie. Thomas is vol voorwaardes soos baie mense vandag. Die Here moet eers Homself as te ware bewys voordat hulle sal glo… Tog is die Woord van God vir ons genoeg… 

Ons staan vanaand stil by Jesus wat vir Thomas oproep om nie ongelowig te wees nie met die tema: Wees gelowig! Amen 

Kanaän aan Moses belowe, vir hom gesluit, vir hom geopen!

Skriflesing: Deut 34:1-12 
Teksvers: Deut 34:4 

Wonder u ook hoe lyk die hemel? Is dit groen weivelde? Hoe lyk die hemelskaar van engele en uitverkorenes? Is daar kore wat heeldag sing of is almal saam een massakoor? Hoe gaan dit in die hemel wees? So baie vrae en so min antwoorde. Wat openbaar die Skrif aan ons. Moses het ook ’n belofte ontvang van Kanaän, maar Kanaän was nie vir hom beskore om in te trek nie. Ons gaan na drie sake kyk met toepassing op ons vandag: 

  • Kanaän aan Moses belowe. 
  • Kanaän vir Moses gesluit. 
  • Kanaän vir Moses geopen. 

Waar Ruwe Rotse

Twee vader-oë kyk verward … sy seun, die afgrond lag oor wilde skuurgedreun. 

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou, die vader bly sy hand oor sy oë hou. 

En dan gewaar hy in die skemering sy kind, deur rotseskouers vasgedring. 

’n Riem rol na die seun daaronder neer, “Bind vas, my kind … en Pa die sal probeer.” 

Maar dis vergeefs … die kransedraak hou vas, die riem bly stukkend breek, kry las op las. 

En hulp snel by … die rotsetande gryns, hier moet die mensverstand terug voor deins. 

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou: “Ek smeek dat Pa my skiet … en nou … ” 

’n Roer die bewe in die growwe hand, sag sif in skemerafgrond korrels sand. 

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan, en langs die sneller glans ’n afloop-traan. 

“Vergeef my, God!” … ’n skoot gedemp en dof … en bo die bergegraf styg kruit en stof. 

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar, dis stil … die aasvoëls kras … ’n vader staar. 

Hierdie gedig van CM van den Heever het my lewe diep geraak sedert ek dit die eerste keer gelees het. Dit is gegrond op die gebeure wat by Aasvogelkop oorkant die Caledonrivier by Gladdedrif in die Smithfielddistrik afgespeel het. Dit handel oor ‘n pa wie se seun in ‘n klipskeur geval het. Na dae se geswoeg om die seun tevergeefs uit te kry, laat dit die pa geen ander keuse as om sy seun uit die klipskeur te verlos met die dood nie. 

Hoe moeilik, nee, onmoontlik moet dit wees om jou eie kind met ‘n skoot van sy ellende te verlos. Maar dan dink ek aan ons Here Jesus en besef dat sy uitroepe om verlossing net in die stilte ongeantwoord bly as Hy uitroep: Eli, Eli, lama Sabagtani… 

Hoe geweldig groot moet die liefde wees van ons hemelse Vader om Sy Eie Seun te gee om die straf van die sonde te dra. Om Sy Eie lewe te offer. So leer ons Here Jesus ons om ook bereid te wees om ons naaste lief te hê soos onsself. Selfs nog meer as dit: Het ons die Here waarlik lief? 

Die afgelope jaar het ons gemeente deur die Skep Hoop fonds ongeveer R600 000 ingesamel en reeds 60% daarvan gebruik om meer as 30 gesinne in hierdie tyd van nood te help. Ons weet daar lê nog baie uitdagings voor. Daarom word ieder en elk van harte bedank. 

Mag die Here ons die wysheid gee om aan sy Woord en sy beloftes vas te hou en ons medemens nooit uit die oog verloor nie. 

Soos Paulus skryf aan die Korintiërs oor die wysheid wat God ons gee deur Christus: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” 

Mag die Here ook ons harte ondersoek en bevind dat ons gevul is met Goddelike wysheid en ontferming en meelewing, met Geloof en Hoop en Liefde!

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »