Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 202 of 345

PINKSTER: Vervulling met die Heilige Gees (Ef 5:18)

Tydens die Pinksterfees (Oesfees) in Jerusalem word die Heilige Gees uitgestort op al God se kinders. Die eersteling van die volle oes van die offerwerk van Christus! Vroeër kon net sekere mense sporadies aanspraak maak op die krag van die Heilige Gees (Dink aan Simson en ander profete). Nou mag elkeen weet dat, as jy tot geloof gekom het, dan woon die Heilige Gees in jou. Dan geld die woorde van die Here aan Josua in Deut 31:8 –“Ek sal jou nie begewe of verlaat nie”.

Ons moet dus aanvaar dat die Gees net één keer uitgestort is. Dus kan ‘n gelowige nie méér van die Heilige Gees kry nie. Vervulling van/met die Heilige Gees gaan nie om meer Gees nie. Jy kan nie méér Gees kry nie. So kan mens ook nie méér geloof kry nie. Om dus te bid vir nog ‘n uitstorting van die Gees, nog ‘n pinkster-ervaring, sal nie Bybel wees nie.

As die Gees aan ons wedergeboorte en geloof gee, dan is dit gegee. Daarmee saam kom ‘n groot verantwoordelikheid. As die mosterdsaad van die geloof geplant is, kan die saadjie nie groter nie, maar dit kan wel ontkiem en vrugdra.

Die gawe is die genade van geloof deur die Gees.

Die verantwoordelikheid is die gehoorsaamheid deur die Heilige Gees.

In plaas dus om te bid vir meer geloof, wil die Here dat ons bid vir meer gehoorsaamheid! Meer toewyding. Meer tyd en soeke na die groei van die saad. Méér van jouself aan die Gees gee…

Dan roep Pinkster ons nie op tot ‘n nuwe uitstorting nie, maar tot ‘n nuwe gehoorsaamheid en gevolglik die noodwendige vrugdra wat by die bekering pas .

Geseënde Pinksterfees!

Ds Maarten

Die leërowerste van die HERE!!

Skriflesing: Josua 5:1‑6:6; Josua 6 (self lees) 
Teksvers: Josua 5:14 

Ons lees hierdie hoofstuk oor die val van Jerigo soos ‘n mooi storie. Soms ‘n slaaptydstorie! Onthou net dat hierdie verhaal opgeteken is in die Bybel, omdat ons God leer ken uit sy werke in die geskiedenis. Dit is dus veel meer as net ‘n storie, dit is die bekendstelling van die heilige en magtige God self. Ons moet vasstel wat die Here in die geskiedskrywing van Homself aan ons bekend maak, en hoe dit dan ook ons lewe raak. 

Wat is die vergelyking tussen Josua en Jesus, terwyl hulle name presies dieselfde beteken: Redder/Verlosser? 

Waarom kom die Here juis nou en op hierdie wyse na genl. Josua toe? 

Het jy Jesus waarlik lief?

Skriflesing: Johannes 21:1-25 
Teksvers: Johannes 21:15-17 

Simon, het jy my lief? Hierdie bekende driedubbele liefdesverklaring van Petrus teenoor Jesus gee die loënaar kans om sy driedubbele ontkenning reg te stel. Selfs nadat die Here drie keer aan Simon verskyn het, en hy self ook teenwoordig was by Thomas se belydenis, gaan vang hy maar vis, eerder as om uit te gaan en die evangelie te verkondig. 

So maklik word ons roeping verduister in ons eie bekommernisse. So maklik gebeur dit dat ons deur onsekerheid en vrees wegdeins van dit wat ons weet ons werklik moet doen… Daarom vra die Here Jesus ook vir jou vanoggend: “Het jy My waarlik lief?” Amen 

« Older posts Newer posts »