Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 202 of 332

Wees altyd dankbaar!

Kol 3:15 

“En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.” 

Op ons standaardvraag: Hoe gaan dit met jou? Is bykans altyd die standaardantwoord: Kan nie kla nie! Terwyl ons soveel het om voor dankbaar te wees. God is getrou. Selfs in hierdie tyd van die Covid pandemie is daar soveel om voor dankbaar te wees. Van ons lidmate wat oorlede is, glo ons van harte is “huistoe”, dit beteken na die ewige Vaderhuis, ‘n dankbaarheid. Vir diegene wat siek was en herstel het, is daar dankbaarheid. Vir almal wat gebuk gaan onder werkspanning ens. is daar steeds die geloof in Jesus Christus. Ons bekommer ons so maklik oor die dag van môre, terwyl ons vergeet dat God belowe het dat Hy vir ons sal sorg. Ons sien so dikwels net die hartseer en swaarkry raak, terwyl daar soveel is om voor dankbaar te wees. Ons geloof in ons Here Jesus Christus en dat ons in lewe en in sterwe net aan Hom behoort, vul ons harte met dankbaarheid. So of ek siek of gesond is, jonk of oud is, lewend of sterwend… “In lewe en in sterwe behoort ek aan Jesus Christus.” Daarby saam gee God aan ons liefde. Liefde van God aan ons en ons liefde vir Hom en vir ons medemens. 

“Om ‘n dankbare hart te hê is lewensveranderend. Dan kyk ek verby die dinge wat vir my moeilik is en sien ek God se oorvloedige seën raak. Mense wat dankbaar is het gelukkige lewens en hulle is tevrede, minder gespanne en depressief. Dankbaarheid is ‘n manier van lewe en nie net ‘n gevoel nie. Dankbaarheid is die kern van ‘n Christen se lewe. 1 Tess 5:18” (van der Westhuizen E. https://www.ekerk.org/singlepost/2017/08/10/dankbaarheid) 

Om dankbaar op te staan elke dag en die dag met God te begin. Om dankbaar te wees vir elke klein seëninkie in jou lewe. Om dankbaar te wees vir jou Christenskap. Dit sal jou lewe verander in blymoedigheid en vreugde. 

Ds.Gerrit Kruger 

Maranata! Laat u Koninkryk Kom!

Skriflesing: Openbaring 22; I Korintiërs 16:22
Teksvers: Openbaring 22:20
HK Sondag 48

“Laat die genade kom en laat hierdie wêreld verbygaan! Amen.
Hosanna vir die Seun van Dawid!
As iemand heilig is, laat hy kom!
En as iemand onheilig is, laat hy hom bekeer!
Maranata! (I Kor 16:22) Amen”


Dié woorde kom uit die eerste eeu n.C. uit die geskrif DIDACHé as aantekening by ons teksvers Op 22:20. Byna 2000 jaar later het die Here nog nie hierdie gebed verhoor nie… wel nog nie volledig nie. Die koninkryk se koms het immers ‘n ‘reeds en ‘n nog-nie’-perspektief, want die koninkryk is hier én aan die kom, en dààrvoor leer die Here Jesus ons bid in die tweede bede. Die koms van die koninkryk geskied op verskeie wyses en ons kyk daarna onder die volgende punte:

  • Die (weder)koms van Christus.
  • Die koms in mense-harte.
  • Die koms deur mense-hande.
  • Die koms deur ons mense-stryd.

Die HERE vind vreugde in opregtheid

Skriflesing: 1 Kronieke 29:1-25
Teksvers: 1 Kronieke 29:17, 22

“Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid” Hierdie woorde sny deur die hart van die mens. Ons wat so geneig is om voor te gee wat ons nie is nie. Ons wil tog so graag “oorspronklik” wees. Maar in ons strewe na opregtheid leef ons met valse harte. Ons dra maskers wat nie ten doel het om die kieme weg te hou nie. 

Ons staan vanoggend stil by die vreugde van die HERE in die opregtheid van die harte van sy kinders, as hulle Hom dien met al die skatte wat Hy self gee. Daarin sien ons ook die blydskap om te gee. Dit maak ‘n mens blyer om te gee, as om te ontvang. Amen 

« Older posts Newer posts »