Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 198 of 345

DIE VOLLE WAPENRUSTING VAN GOD

Skriflesing: Efesiërs 6:10-20; Jakobus 4:7
Teksvers: Efesiërs 6:10,11 

Die stryd tussen die Bose en die mens is egter ‘n ongelyke stryd: Satan is magtig en het duisende magtige engele wat vir hom werk. Die mens daarenteen is ‘n nietige mens wat nog teen die sondige natuur ook moet stry. Satan sou dus ‘n groot voorsprong op ons hê en maklik vatkans kry. 

God wat almagtig is, het egter in sy genade by ons kom staan deur Jesus Christus. En in sy genade gee Hy ons die volle wapenrusting… sodat ons beslis staande KAN bly tot die einde toe. 

Trek dit aan en bly op jou pos! 

Christus is die geheim van ons lewe

Skriflesing: Kolossense 1:21-29
Teksvers: Kolossense 1:26-28

Die geheim is uit! Die groot misterie is bekend gemaak. Niemand hoef ooit meer te wonder wie die Verlosser van die wêreld is nie, ook nie ek en jy nie! Want God het in sy groot liefde besluit om sy Seun aan die ganse wêreld te openbaar as die ewige Verlosser. Hy is die selfopenbaring van God se genade en oordeel. As jy hierdie geheim leer ken het, mag jy dit nie vir jouself hou nie! Jy moet al jou kragte inspan om dit uit te leef en te verkondig! Hoe doen ‘n mens dit: deur vermaning en wysheid en onderrig. Net soos hierdie kindjie vanmore voor die Here gestel word, so moet elke mens voor God gestel word. Amen 

God het geskape, gevul en gerus!

Skriflesing: Gen 1:1-2:4
Teksvers: Gen 2:4 

Die magtigste president, die rykste man, is ’n krummeltjie teen die Almagtige God se mag. Want hulle kan baie praat en dreig en belowe en niks gebeur nie. MAAR wanneer God praat, gebeur dinge. Hy het gepraat en die aarde, see en hemele is geskape. Op Sy Magswoord, gebeur dinge. 

Ons gaan na drie sake kyk! 

  • God het geskape
  • God het gevul.
  • God het gerus 

Tweedehandse Christen?

Deur die genade het ek en my vrou tans 15 kleinkinders. Wat ‘n vreugde en seën! Maar het u geweet dat God nie kleinkinders het nie! Hy het net kinders. Mens is nie ‘n kind van God net omdat jou ouers kinders van die Here is nie. Voorbeeld: Jakob en Esau. 

Terwyl ek voorberei vir Sondag se Engelse diens (Alethea) en Bybelstudie loop ek dieselfde soort raak in die storie van Abraham en Lot. Die neef Lot is ‘n tweedehandse gelowige. Hy is alewig in die kring van Abraham se flappende tente. Hy volg Abraham byna op die voet. Al doer van Haran af deel hy soort van in Abraham se hoë roeping (Gen 12). Hy beland selfs saam met Abraham in Egipte, en oorleef saam ‘n hongersnood (Gen 12), en hy nogal word later deur Abraham van sy ‘hijackers’ verlos (Gen 14)! Sien dit help nogal om die geselskap van God se kinders te lewe. Dit is baie goed en selfs aan te bevele dat jy en jou gesin christelike vriende het en mekaar se kuiers geniet. Dit is selfs baie goed dat jou kinders in ‘n spesifiek christelike skool opgevoed word en dit is hoogs nodig dat jy by ‘n goeie skrifgetroue christelike gemeente aansluit. MAAR… dit beteken nog nie dat jy ‘n ware Christen is nie!! 

Lot is ‘n soort van “tag-along” by Abraham. Abraham luister na die Here. Hy volg sy roeping. Hy word geseën . Hy dien tot ‘n seën vir ander (Gen 12:3,4). Lot, aan die anderkant, tap van sy oom se genade en loop hom al agterna en leef maar net van die krummels wat van Abraham se tafel afval. Uiteindelik kies hy om weg te gaan van Abraham en kies net sy eie voordeel (Gen 13) – die waterryke landstreke van die Jordaan, daar naby Sodom. En dan uiteindelik vind ons hom waar hy binne-in Sodom woon (Gen 14:12), en later selfs op die stadsraad in die poorte sit van die goddelose stad (Gen 19:1). 

Lot was in die omgewing van Abraham. In die omgewing van die God van Abraham. Hy het die regte kultuur en taal soos Abraham, maar self ken hy nie die Here nie. Abraham bou altare en offer aan die Here, maar die man Lot soek net sy eie voordeel en tydelike goeters en rykdom. Dit sluk hom en sy huis heeltemal in. 

Tweedehandse christenskap lyk mooi maar is leeg en waardeloos. Om lidmaat van die regte kerk te wees vra meer… ook moet ons die Here persoonlik ken en dien, ons lewe aan God offer in die Naam van Hom wat sy lewe vir ons geoffer het. Vra die Here om in die Naam van Jesus en deur die krag van sy Gees jouself weer aan Hom toe te wy en oor te gee. Ons is immers geroep tot kind-wees van die Here. 

God het nie kleinkinders nie! Mag ons én ons kinders én ons kleinkinders God so ken! 

Ds Maarten 

Aanskou hoe die Here vir julle veg en loof Hom!

Skriflesing: 2 Kronieke 20:1-34
Teksvers: 2 Kronieke 20:17

As dinge vir ons té veel raak en ons skrik vir die omstandighede en die bedreigings van ons tyd, roep die Woord van die Here ons op om sy oorwinnings in herinnering te roep. Kyk hoe het Hy sy volk in die ou tyd telkens uit die grootste benoudhede verlos. Kyk dan na die Nagmaaltekens en weet: Die Here voer selfs die stryd vir ons. Ons is deel van sy koninkryk waarvan Hy die Oorwinnaar-Koning is! 

« Older posts Newer posts »