Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 104 of 344

Oordenking 5 Junie

Ons kosbaarste geskenk van God!

Lees: 2 Petr 1:1,2
1 “Van Simon Petrus, ‘n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige
beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons
ontvang het.
2 Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus
ons Here!”

Wat is jou kosbaarste geskenk in die lewe?
Wat is jou kosbaarste, veral geestelike besitting, in die lewe?

In 1 Pet 1:7 kry ons die antwoord: “Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan.”

Dit gaan natuurlik oor die inhoud van die geloof. Dit gaan oor dit wat ons glo. Geloof is so kosbaar en belangrik dat ons in die Heidelbergse Kategismus ‘n hele vraag daaraan afstaan.
Die vraag is ook nie net:
• Wat glo jy nie?
MAAR
• Wat is ‘n ware geloof?

Ons bely dan in Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 21:
“’n Ware geloof….
• Is nie alleen ‘n vasstaande kennis, waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie,
• Maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk
o Naamlik dat God nie net aan ander nie,
o maar ook aan my,

  • uit loutere genade,
  • slegs op grond van die verdienste van Christus,
  • vergewing van sondes,
  • ewige geregtigheid en
  • saligheid geskenk het. “

Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges, as christene het dieselfde kosbare geloof as wat die apostels gehad het. Hulle het God gesien, gehoor en saam met Hom gewandel, 2000 jaar gelede en persoonlik al Sy wonderwerke en dade en onderwysing ervaar.
Ons het dieselfde kosbare geloof.

Die vraag is: Wat doen ons met hierdie kosbare geloof?
Dit is nie net ‘n geskenk wat ons ontvang het en nou kan ons maar daarmee maak en doen wat ons wil nie.
Dit is nie ‘n geskenk wat ons in ons harte moet bêre en daarvan vergeet nie.
Hierdie is ‘n geskenk wat ons moet gebruik en uitbou tot eer van God en tot opbou van ons geloof.

Petrus roep ons op om hierdie geloof te gebruik. 2 Pet 1:5-8
5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met
deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,
6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met
godsvrug,
7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus
Christus beter leer ken.”

Volgende keer DV gaan ons kyk na die geloofsketting, na elke skakel wat God van ons verwag hoe Hy wil hê ons moet lewe.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Alles wys na Jesus Christus 

Skriflesing: Hebr 1:1-9
Teksvers: Hebr 1:1,2
HK Sondag 6

Die tweede hoofdeel van die Heidelbergse Kategismus handel oor ons verlossing en is vraenderwys op soek na die Verlosser. Hy soek een wat ware mens is om vir die mense se sondes te betaal, maar dan moet hy ook ‘n sondelose (regverdige) mens wees. Daarby moet Hy God wees om die toorn van God te kan dra . Die vraag of daar so iemand be-staan word hier beantwoord en die lyn word regdeur die Skrifte getrek om te sien dat dit eintlik Jesus Christus is, die Seun van God. Hy is die antwoord op al ons vrae. 

Geseënd is die wat genooi is na die Bruilof van die Lam

Skriflesing: Matteus 22:1-14
Teksvers: Matteus 22:8-9

Vandag is die voorbereiding van die Nagmaal. Die Nagmaal is die Here se maaltyd, ‘n gemeenskapsmaaltyd, maar ter selfde tyd ook ‘n gedagtenis maaltyd. Gedenk die dood van die Here tot Hy weer kom. Ons dink na oor die betekenis van Christus se kruisoffer. Maar ons doen dit as gemeente. Ons kom saam in die geloof. Dit is ‘n wonderlike seën om aan die Nagmaal van die Here te mag deel. Maar die Nagmaal is ook meer. Dit wys heen na ‘n ander maaltyd. ‘n Feesmaaltyd. ‘n Bruilofsfees. Geseënd is elkeen wat genooi is na die bruilof van die Lam.

DINK AAN MY, MY GOD

Nehemia is bekend daarvoor dat hy op ‘n merkwaardige wyse die mure van Jerusalem kom help herbou het. Na die terugkeer uit Babel se ballingskap, was die herstel maar baie stadig. Onder Serrubabel het die ballinge stadig gevorder met die herstel van die tempel. Deur die aanmoediging van Haggai en Sagaria het dinge weer gevorder, veral onder leiding van Esra die priester.

Maar die stadsmure het steeds stukkend gelê bykans 50 jaar na die terugkoms. As Nehemia inspring en leiding neem, dan word die mure in ‘n rekordtyd van 52 dae herstel, sodat selfs Nehemia se vyande erken: dit was ‘n werk van die Here.

Min mense besef egter die belangrike sosiale herstel wat Nehemia gebring het. Die uitbuiting van die armes deur die ryk en adelike mense is weer reggestel. Die priesters en leviete is weer in hulle poste terug herstel en die tiendes weer ingevorder.

As Nehemia noodgedwonge terugkeer na Babel, waar hy as skinker van die koning opgetree het, dan is die verval net so vinnig. Ons lees dan in die laaste hoofstuk, as Nehemia weer terugkom na Jerusalem, dat hy weereens die volk moet suiwer van hulle verval.

Weer moet hy begin by die tempel en die priesterlike diens waar daar spesiale voordele aan sommige gegee is. Tobia word met al sy huisraad uit die voorraad kamers gejaag en die tiendes weereens herstel.

Alle handel word verbied op die Sabbat en die poorte van die stad word gesluit. As die handelaars opdaag om op die Sabbat hulle goedere te verkoop, word hulle weggejaag.

So ook word die ondertrouery met die heidense volkere verbied en die vreemdes word weggejaag. As Nehemia vermeld dat die kinders so vervreemd geraak het deur hierdie ondertrouery dat hulle nie eers meer Joods kon verstaan nie, sê hy: “Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee nie…” Neh. 13:25

Telkens, by hierdie hervormings pleit Nehemia: Dink aan my, my God! Nehemia verstaan iets wat ons baie maal vergeet: Hoe geduldig God met ons sondes is. Hoeveel keer moet ons nie van ons sondes bekeer en weer afsien van ons sonde nie! Hoeveel keer verval ons nie maar net weer terug in die gewoontes van die verkeerde nie.

Maar meer nog: hoeveel van ons is werklik besig met die werk van die koninkryk. Ons sal eerder pleit, Here moet tog nie aan ons verkeerde dade dink nie. So kan ons ook leer om ons geloofsarbeid aan die Here op te dra. Die Here vergeet nie die goeie werke van die gelowiges nie, nee, dit het ewigheidswaarde. (Op. 14:13)

Ds Lourens (vdm)

Oordenking 1 Junie

Vervulling met die Heilige Gees!

Lees: Joh 14v15,16,17
15 “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.
16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te
wees,
17 naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom
nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Bron Kruger GS Julie 27 2018 Gereformeerde kerk Centurion.

Hoe word jy vervul me die Heilige Gees?
Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

“In die Nuwe Testament word daar nêrens aan die mense die eis gestel: word wedergebore of word met die Heilige Gees gedoop nie. Maar wel verneem ons telkens met betrekking tot die Heilige Gees ’n hele aantal bevele:
• “word vervul met die Gees” (Ef 5:18);
• “wandel deur die Gees” (Gal 5:16);
• “as julle deur die Gees gelei word” (Gal 5:18, voorwaardelik gestel);
• “wees heilig” (1 Petr 1:16).” (Floor.1979:116)

God gee in Christus, uit vrye genade, aan al Sy kinders, sy lewendmakende Heilige Gees. Jesus Christus het ook aan ons geleer in Joh 14:16,17, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17) die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Ons moet onderskei tussen die “inwoning” en “vervulling” van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word aan al God se kinders gegee, (Ef 1:13) die oomblik van wedergeboorte, sodat hulle kan glo. Niemand kan uit eie inisiatief in God glo en die verlossing verkry as God dit nie aan jou gee of dit aan jou openbaar nie. (Gal 3:2) Daarom bly die Heilige Gees in al God se kinders.
Maar omdat ons die Gees ontvang het, die kosbare heilige geloof, moet ons ook groei in die geloof, in kennis en vertroue, Gal 3:2.

Daarom moet ons ook biddend die Bybel lees, en doelbewus van die sonde wegvlug en ons volmaak met die sake van God. In Psalm 19:14 leer ons: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Om daarom met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons elke dag biddend ons sondes moet bely, wegvlug van die sonde af, en in gehoorsaamheid ons aan God toewy in gedagtes, woorde en werke. Dan het die Gees ’n vrye werking in ons om ons te lei. Sodoende word ons ook elke dag deur God se genade gelei om ’n al heiliger lewe te lei en meer en meer met die Heilige Gees vervul te word.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »