Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 105 of 344

Oordenking 29 Mei

Pinkster!

Lees: Hand 2:1-13 veral 1-4
1 “Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.
2 Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek
gevul waar hulle gesit het.
3 Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.
4 Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit
aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.”

“Die Pinsterfees, (die uitstorting van die Heilige Gees), is 50 dae na die Paasfees, die kruisiging van ons Here Jesus Christus, gevier.
Jesus is met die Paasfees gekruisig en het volgens die boek Handelinge, 40 dae later na die Hemel opgevaar.
Die Heilige Gees is 50 dae na die Kruisiging en 10 dae na sy Hemelvaart oor die gelowiges uitgestort. ”
(Bybel in Praktyk. 1993:1651)
• Het jy al gebid om vervul te word met die Heilige Gees?
• Is die Uitstorting van die Heilige Gees en die vervulling van die Heilige Gees dieselfde saak?

Die mees prominenste Persoon, Persoon hier met ‘n hoofletter, in die boek Handelinge is, die Heilige Gees. Die Heilige Gees word ongeveer 90 keer in die boek Handelinge genoem. Dit beteken tog baie duidelik dat die Heilige Gees, self God, die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid, ‘n baie belangrike rol vervul, of werking het in die gelowige se lewe.

Ons belydenis-skrifte is ook baie duidelik wat ons bely oor die Heilige Gees.
• Wie Hy is!
• Watter werk Hy doen …vir en in die gelowiges!

NGB – Artikel 11
DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES
Ons glo en bely ook
• dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan;
• dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie, maar van albei slegs uitgaan;
• dat Hy in orde die derde Persoon van die Drie-eenheid is;
• dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is;
• dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.

Maar waar kom Pinksterfees vandaan?

Die griekse woord vir Pinkster is – πεντηκοστή – pentēkostē. Dit beteken vyftig.
Die eerste plek waar ons van die Profetiese voorspelling van Pinksterfees lees is in Lev 23:15-17

15) “Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel.
16) Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here ‘n graanoffer bring uit die pas geoeste graan.
17) Elke gesin moet twee brode vir ‘n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is ‘n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes.”

Jesus Christus openbaar Homself in Joh 6:35: “Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”

In Hand 2:5-11 lees ons met die uitstorting van die Heilige Gees dat daar ten minste 15-17 groepe mense of kulture bymekaar was wat in hul eie taal die evangelie gehoor het.
• God het die Heilige Gees laat uitstort oor uitverkorenes uit alle volke tale en nasies.
• Ons opdrag is om die evangelie uit te dra.

Die Christelike pinksterfees is dus op die dag waarop die Ou Testamentiese pinksterfees gevier is, vervul.
Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eersteling-gerf en die pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop.
Ná die Sondag van Jesus se opstanding
• het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en
• ‘n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees.
Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig en gebid om die belofte van die Heilige Gees te ontvang.
Op die dag ná die sewende sabbat sedert paasnaweek is die Heilige Gees oor hulle uitgestort.

Bid dat jy elke dag met die Gees vervul sal word en dat die Heilige Gees jou elke dag sal lei!

Hierdie volmaakte tydsberekening vir die uitstorting van die Heilige Gees dui onmiskenbaar daarop dat…
• die bedeling van genade,
• wat ook die bedeling van die kerk of
• die bedeling van die Heilige Gees genoem word,
• die bedeling van die wet in God se raadsplan vir die mens vervang het.

Wat leer dit ons vandag?

Daarom bid ons nie meer vir die uitstorting van die Heilige Gees nie.
Ons moet daagliks bid om met die Heilige Gees vervul te word.

Toepassing

Ek moet my ou, vleeslike natuur afsterf en saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgewek word.
Ek moet met die nuwe mens beklee word wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
• Net die Heilige Gees kan my met die opstandingslewe van Christus beklee.

Dit is waarop die dissipels in daardie tien dae tussen die hemelvaart van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees gewag het.

Verootmoedig jouself dan in hierdie tyd voor die Here.
Vertrou Hom vir volkome verlossing.
Verklaar jouself opnuut bereid om leeggemaak te word, sodat sy Gees jou lewe vervul.
Kom ons vertrou en bid tot die Here om …
• ons met sy Gees te vul en
• ons met sy Gees te lei, elke dag van ons lewens.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Hemel op aarde

Skriflesing: Genesis 18:16-33
Teksvers: Genesis 18:17-19
HK Sondag 5

Die paradys is verlore, die tuin van Eden is vir die mens gesluit. Die enigste manier hoe die mens ooit weer in die hemel kan kom, is om te betaal. Maar die hemel se hek-fooie is duur. Dit is so duur, dat jy dit nie kan bekostig nie. Want die prys om in die hemel te kom, moet jy betaal met jou lewe. Nou sit die mens met ‘n geweldige groot krisis. Daar is ‘n manier om die verlore paradys terug te kry, maar die prys is onmoontlik.

Ons staan vanaand stil by Abraham se gebed vir Sodom en Gomora waarin hy pleit vir God se geregtigheid om te geskied. So sien ons hoe God weer die hemelse belofte op aarde herstel.

Broers en suster in/van die Here Jesus en mekaar

Skriflesing: Rom 8:14-17; 1 Joh 3:1
Teksvers: Rom 8:15,16

Die belangrike op hierdie Pinkster-Sondag is dat ons moet onthou dat ons twee maal gebore is! Die wedergeboorte deur die Gees is ‘n groot genadegawe waardeur ek en jy in die HUISGESIN van God gebore word. Ons dink dus weer na oor die belang van die gesonde Christelike huis en huisgesin, maar dan is die heel belangrikste dat daardie gesin die Here dien! Dat hulle saam deel is van die huisgesin van God…, want in die geloof is ons ewige familie, ewige broers en susters van mekaar en dit troon vér uit bo die aardse en tydelike.

90 JAAR VAN DIE BYBEL IN AFRIKAANS

Ons vier vanjaar die 90ste herdenking van die Bybel in Afrikaans.
Die eerste Afrikaanse Bybel is in 1933 gepubliseer
“Op 29 Mei 1933 seil die Carnavon Castle die Tafelbaai binne met die eerste besending van 10 000 eksemplare van die Afrikaanse Bybel aan boord. Hierdie eerste volledige Afrikaanse Bybel is op Sondag 27 Augustus 1933 landswyd feestelik in gebruik geneem.” – Bybelgenootskap van Suid Afrika. Genade in Oorvloed, 1994.
Sedertdien het daar nog drie vertalings van die Bybel in Afrikaans – die 1983, die Bybel vir dowes/Bybel vir Almal en die 2020—vertaling – die lig gesien. Hierdie Bybels is ook in verskillende formate soos druk, braile, oudio en digitaal beskikbaar.
Die verskyning van die Bybel in Afrikaans het grootliks tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal bygedra maar nog meer belangrik, tot die geloofsvorming van baie Afrikaanssprekendes.
Wat ‘n groot wonder om die Woord van God in jou eie moedertaal te lees. Ons dank die Here vir hierdie gawes.
Mag een en elk van ons met groot en groter waardering die Bybel in ons lewe lees, en toepas. Skerp dit by jou kinders in en praat daaroor elke dag en soveel as moontlik.
“U Woord is die lamp vir my voet en die lig vir my pad.” Ps 119:105
Soli Deo Gloria

Oordenking 25 Mei

‘n Seën van vrede vir almal wat in Christus is!

Lees: 1 Petr 5:12-14
12 “Silvanus, wat na my mening ‘n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas!
13 Die gemeente in Babilon, ‘n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete.
14 Groet mekaar met ‘n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!”

Petrus sluit hierdie eerste brief af met groeteboodskappe en in vers 14:
“Groet mekaar met ‘n soen van Christelike liefde.”
Ons lees op ten miste vier plekke in die Nuwe Testament dat ons mekaar met ‘n christelik kus of soen, moet groet. Rom 16:15; 1 Kor 16:20; 2 Kor 13:12; 1 Tess 5:26;

Rom 16:15 “Groet mekaar met ’n heilige soen…” Paulus

Hierdie is nie ‘n opdrag wat beteken dat ons mekaar vandag nog so moet soen nie. Nee dit was die manier van groet in daardie tyd. ‘n Man het ‘n ander man op die wang gesoen. ‘n Vrou het ‘n ander vrou op die wang gesoen. Dit was ‘n standaard manier van groet in daardie deel van die wêreld, in daardie tyd spesifiek.
• In die ooste groete hulle mekaar met ‘n buiging.
• In die weste groete ons mekaar met ‘n handdruk.
Maar Paulus veral praat van: “soen mekaar met ‘n heilige soen of kus”.
Heilig dui juis daarop dat dit geen ander bedoeling het as ‘n afgesonderde gebruik, tussen christene, wat mekaar erken en liefhet in Jesus Christus nie.

Kan ons onsself indink hoe dit moes wees as ‘n slaaf sy eienaar met ‘n heilige kus gegroet het, want alhoewel die verhouding steeds slaaf en eienaar is, is hulle nou ook broers in ons Here Jesus Christus.

Maar dan sluit Petrus hierdie brief af met ‘n seënspreek:

“Vrede vir julle almal, wat in Christus is.”

Petrus sluit die brief af met sekerlik die grootste en belangrikste en betekeniswaardigste wens.
• Genade vir julle en vrede word vermenigvuldig.
• Die seëninge wat vir hulle verlang word, is genade en vrede.
Genade. Die vrye guns van God, met al sy behoorlike uitwerking, vergifnis, genesing, bystand
en redding.
Vrede. Allerhande vrede mag hier beoog word, huislike, burgerlike, kerklike vrede in die kerk
en geestelike vrede met God, met die sekerheid wat vrede bring.

So word afgesluit met ‘n seënwens, wat hy beperk tot diegene wat in Christus Jesus is, met hom verenig deur geloof en gesonde lede van sy liggaam, die kerk is.

Amen, in teken van sy ernstige begeerte en ongetwyfelde verwagting dat die seën van vrede die deel van al die gelowiges sou wees.

So het ons ook hierdie brief, die Eerste brief van Petrus dan vir die afgelope vier maande bestudeer.
• Mag God ons almal se lewens verryk met Sy Genade en Vrede en Liefde.
• Mag God elkeen van julle seën met ryklike seëninge daar waar julle is.
• Mag julle God se liefde ontvang, dit uitleef in julle lewens en mag ons die lyding wat ons nou moet verduur met geduld en liefde ervaar, want ons weet, ons Burgerskap is in die hemel waar alles nuut en volmaak en ten volle in vrede sal wees.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »