Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 103 of 344

Oordenking 12 Junie

Ons Roeping en Verkiesing!

Lees: 2 Petr 1:10-11
10 “Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie.
11 En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”

In ons Skrifgedeelte merk ons ’n stygende lyn van dringendheid, waarmee Petrus skryf.
In verse 3-9 skryf Petrus van die deugde wat God aan ons, die gelowiges geskenk het.
Die geloofsketting en hoe ons ons geloof moet verryk en versterk.

Petrus waarsku ons nou, op hoe ’n wyse ons, ons verkiesing moet sien. Petrus skryf aan ons dat ons ons verkiesing moet vas maak. Ons moet deur ons lewe bewys dat God ons uitverkies het.

Dit moet ons met ywer doen. Ons moet dit haastig doen. Ons moet geen moeite ontsien om dit te doen nie. Ons lewe moet ‘n getuienis en ‘n bewys wees daarvan, dat God ons uitverkies het.
In ons Skrifgedeelte verleen Petrus ook verder krag aan sy bevel deurdat hy ons as broers aanspreek wat natuurlik ook die susters insluit. Broers dui hier op die intiemse geloofsband waarmee Petrus tot die gelowiges staan.

Die feit dat Petrus aan gelowiges skryf, hulle aanspreek as broers, en hulle beveel om te ywer om hulle verkiesing te bewys, dui op die besondere verhouding wat daar tussen die uitverkorenes en God bestaan. Uit genade alleen, sonder verdienste, Ja, selfs van voor ons geboorte af het God ons in sy ewige Raadsplan uitverkies.

Ons het dan ook ’n sekere heilsorde of verlossingsorde wat ons uit die Skrif bely:

  • Die eerste en belangrikste hiervan is ons uitverkiesing,
  • Daarna word ons geroep.

Ons lees in Rom 8:28-30:

28“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy besluit of voorneme geroep is.
29Die wat Hy lank tevore verkies het, het hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê, van wie Hy die eerste is.
30Die wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep.
En die wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek.
En die wat Hy vrygesrpeek het, het Hy ook verheerlik.”

God het ons dus uit genade alleen uitverkies. Ons kan of kon niks doen om uitverkies te word nie. God het ons egter nie uitverkies en net so laat staan nie.
Nee, ons is uitverkiesing stel ook seker eise aan ons. Dit plaas ’n verantwoordelikheid van dankbaarheid en gehoorsaamheid op die uitverkorene. Ons as gelowiges moet ons verkiesing sigbaar in ons lewens laat uitkom. Dit moet sigbaar wees nie net vir ons mede-broeders en susters nie, maar ook vir onsself.
Prakties in ons lewens vandag, plaas hierdie bevel van Petrus ’n baie skerp oproep op elkeen van ons. Ons moet oppas om nie wêreldgelykvormig te word nie. Die aanslae van die wêreld is so fel en sondig, sonde word aan ons voorgehou asof dit alles maar reg is.

Die wêreld wil die christen al meer en meer dwing om wêreldgelykvormig te word en sodoende sy ywer om sy verkiesing te bewys af te plat.

Ons kan tog nie twee here dien nie, want ons sal of die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie. Mat 6:24 Ons uitverkiesing plaas ’n verantwoordelikheid op ons wat ons moet nakom.

Dit bring ons by die tweede punt.

2 Ywer in die roeping deur Christus.

Vir die ware gelowige is dit nie net noodsaaklik nie, maar verpligtend om die roeping op te volg.

God roep die ware gelowige deur Jesus Christus. Ons word geroep om skoon en vlekkeloos te wees in God se teenwoordigheid.

Daar is egter ook ’n vals roeping. Ons lees in Mat 22:14 “Baie is geroep, maar min is uitverkies.” Genooides is nie vanselfsprekend ook uitverkorenes nie. ’n Vroom lewe alleen is ook nie noodwendig ’n bewys daarvan dat ’n persoon uitverkies is nie. Mense lei soms ’n vroom lewe om hulle-self daardeur te verheerlik. Hulle wil graag dat ander mense hulle vroomheid raaksien en daardeur wil hulle gerespekteer en geëer word. Ons hele lewe moet tog wees tot eer van God alleen.

In vers 5 lees ons dat jy jou geloof moet verryk. Dit is ’n baie interessante woord in die griekse taal.

Die oorspronklike betekenis van die woord was as volg:
In die ou Griekse teater of toneelwêreld het hulle welgestelde ryk persone gekry wat ’n opvoering geborg het. Hierdie borge was dan ook in kompetisie om te sien wie se opvoering die beste en die skouspelagtigste was. Daarvoor het hulle geen onkostes of uitgawes ontsien nie.
Hulle was soms in ’n titaniese stryd gewikkel gewees om te sien wie se geborgde vertoning die beste is.

Petrus gebruik dan nou ook hierdie woord om aan die gelowiges te skryf en aan hulle te verduidelik hoe hard hulle moet ywer om hulle roeping en verkiesing te bevestig.
Hulle moet geen moeite onkoste, tyd of ywer ontsien om hulle roeping te bevestig nie.

Kom ons wees dan ywerig in ons geloof, om ons roeping en verkiesing in Jesus Christus vas te maak.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Glo in die Here Jesus Christus! 

Skriflesing: Hand16; 
HK Sondag 7 
Teksvers: Hand 16;31 

Daar is geen ander manier waardeur ‘n mens gered kan word nie, as dat hulle in Hom GLO wat God voorsien het as Middelaar en Verlosser, nl. Jesus Christus die Here. Hy wat mens geword het en vir al ons sondes ten volle betaal het en so volkome versoening gedoen het, dat God hulle sondes kan en sal vergewe! 

Wat moet ‘n mens dan nog doen om gered te word? 

Glo. Glo is immers om Hom te KEN soos die Bybel Hom openbaar en dan ook ten volle te VERTROU dat Hy vir JOU hierdie versoeningswerk volbring het…. te glo dat God jou sondes ter wille van Hom ten volle vergewe. Kom ons vier dit in die teken van die Nagmaal hierdie Sondag. Neem, eet, drink en GLO! 

Die kleed van die bruid is die eer van God 

Skriflesing: Openb 19:1-10
Teksvers: Openb 19:7 en 8

Die kerk is die bruid van Christus. Maar ‘n bruid kan nie sonder ‘n trourok, ‘n bruidskleed, by die troue opdaag nie. In Openabring 19 word vir ons verduidelik hoe die bruidskleed lyk van die kerk. Dit is die regverdige dade van die heiliges. Die goeie werke wat ons doen, is die wyse waarop die bruid haarself gereed maak vir die bruilof van die Lam. 

Vandag vier ons die heilige Nagmaal. Dit is ‘n toonbeeld van die bruilof wat kom. Deur gedurig die dood van die Here Jesus te gedenk, word ons geloof versterk, en kan die bruid haar skoonheid sien in die spieel van God se Woord. Hoe lyk jou bruidskleed? 

“’n Lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu” 

Hierdie woorde uit Prediker 9:4 laat ‘n mens diep nadink oor die lewe en al die uitdagings wat dit daagliks bring. Vir ons wat in Afrika woon en bekend is met leeus, is hierdie beeld duidelik. Dit is egter die ander helfte van die versie wat perspektief bring: “Want solank iemand by die lewendes behoort is daar hoop”. Dit is waaroor die Nagmaal gaan, oor hoop! Oor ons verwagting van die toekoms. 

Ek deel graag hierdie gedig van Marno Hermann, na aanleiding van ons afgelope koningskinders kamp. Mag die Here ook vandag weer nuwe hoop gee deur sy genade. 

Waarvoor dank ons God? 
Dryf ons met sy genade spot? 
Om die evangelie te hoor weergalm, 
kinders sing saam ‘n lofpsalm. 

So roep ons op groot en klein, 
om te sing van God’s liefde refrein. 
Ons deel in ‘n enkele doel, 
om saam te werk en te woel, 
sodat kinders die liefde van hul Vader kan voel. 

Daar in jou midde staan tien talle gesigte, 
klein en onseker deel hulle aaklige berigte. 
Hoe hanteer ons dit? 
Ons worstel en vra en bid… 
En wag op die Koning wat in die hemele sit. 

Ons oë gaan oop, 
vir nuwe lewe nuwe hoop. 
Die werk is groot maar God het beloof, 
hou vas aan my beloftes deur geloof, 
ek is met jou! Niemand sal jou die kroon beroof. 
Laat ons dan met saamgevoegde hart die wedloop loop, 
geduldig in lydsaamheid die tyd uit koop. 

Laat ons Hom dank vir wie Hy is, 
en dat ons ewig saam met Hom mag rus. 

Ds Lourens(vdm) 

Oordenking 8 Junie

Ons geloofsketting!

Lees: 2 Petr 1:3-8
3 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.
4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het.
Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.
5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,
6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug,
7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.”

Geloof is jou kosbaarste besitting. Geloof is die kosbaarste geskenk van God aan ons.
“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” V3a
God het deur sy “krag” aan ons alles geskenk wat nodig is.
Daarom moet daar geloofs-groei by ons wees.

Ons geloof is soos ‘n ketting met sewe skakels. Op sy eie is ‘n ketting-skakel nutteloos, maar aanme-kaar is die ketting ‘n baie sterk gereedskapstuk. So is daar sewe skakels waarmee ons ons geloof moet versterk. Jou geloof moet verryk word met deugsaamheid..
• Deugsaamheid met kennis…
• Kennis met selfbeheersing
• Selfbeheersing met volharding
• Volharding met godsvrug
• Godsvrug met liefde onder mekaar
• Liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

Ons kan hierdie sewe eienskappe in drie groepe opdeel:
• Eerstens die wat handel oor die karakter van ons geloof.
• Tweedens die wat handel oor die gesindheid van ons geloof.
• Derdens handel die wat handel oor intermenslike verhoudinge in die geloof.

Die karakter van ons geloof.

Deugsaamheid Deugsaamheid beteken om volkome in jou doel te slaag. Ons as christene se doel is om God te verheerlik. As ons dan God met ons hele lewe verheerlik slaag ons in ons doel.

Kennis Die betekenis van kennis hier is kennis wat toeneem. Kennis gaan nie net oor intellektuele kennis nie, maar dit gaan oor ’n verstaan van die Woord en die uitleef daarvan deur ’n intiem persoolike verhouding met God en met jou medemens.

Die Innerlike gesindheid van ons geloof.
Selfbeheersing Selfbeheersing gaan daaroor om die verkeerde wêreldse plesiere van die lewe, wat tot sonde lei te weerstaan.

Spr 16:32 “’n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter,
‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.”

Spr 25:28 “’n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm,
so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersig het nie.”

Volharding/lydsaamheid/geduld van ons geloof.

Jak 1:3,4 “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word, sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Volharding is iets waaraan ’n gelowige biddend en in diepe afhanklikheid van God moet werk. Dit gebeur nie outomaties of kom vanself nie. Ons lees juis in Rom 5:3,4 “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;”

Godsvrug Hierdie woord beteken vrug te dra tot eer van God. Dit beteken om geloofsvrugte te dra. Iemand wat in die regte verhouding met God staan sal ook in die regte verhouding met sy naaste staan. Hy sal vrugte dra wat by die bekering pas. Dit gebeur met almal wat na die wil van God soek en dit biddend in geloof nastrewe.

Interpersoonlike verhoudinge in ons geloof.

Liefde onder mekaar / Broederliefde Petrus skryf juis in sy eerste brief, 1 Petr 1:22, dat die wedergebore kinders van God mekaar moet liefhê. 1 Petr 1:22 “Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.”

Liefde vir alle mense / Naasteliefde Hierdie liefde is die agape liefde wat God bewys het teenoor alle sondaars toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Dit is die liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitstort as ons in die Gees wandel. Rom 5:5 “…God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Om mee af te sluit

Kom ons werp alles in die stryd om ons geloof te verryk.
Kom ons bid dat God ons sal seën, om met oorgawe en entoesiasme, die deugde by ons geloof te voeg.
Mag ons lewe so verryk word dat ons ‘n verdieping en ‘n verinniging in ons verhouding met ons Verbondsgod ervaar.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »