Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 102 of 344

Oordenking 19 Junie

Jesus se metamorfose en die Heilige Gees openbaar die Bybel aan ons!

Lees: 2 Pet 1:16-21; Mat 17:1-8 (2)

16 “Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien.
17 Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”
18 Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was.
19 En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.
20 Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,
21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.”

Die fokus in 2 Petr 1:16-18 wys terug na Mat 17:1-8. Daar lees ons, het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na’ n hoë berg geneem. Terwyl hulle daarbo was lees ons in
Mat 17:2 “Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son,
en sy klere het wit geword soos die lig.”
En toe het ‘n stem uit die hemel gekom wat bevestig het wie Jesus was:
Mat 17:5b “Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi,
en ‘n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na
Hom.”

Petrus wat hierdie brief nou skryf, het dit alle gesien en beleef. Dit is nie stories wat opgemaak is nie. Dit is die waarheid waarvan Petrus getuig. Die betekenis van hierdie gedeelte is juis dat daar onweerlegbare bewyse is dat Jesus Christus is die Seun van God.

  • Petrus, Jakobus en Johannes het Jesus se metamorfose, sy verandering gesien met hulle eie oë.
  • Petrus, Jakobus en Johannes het God die Vader se stem self gehoor wat uit die hemel gekom het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”

Eerstehandse ondervinding is vir ons onweerlegbaar feite. Daar was drie getuienisse, drie dissipels wat dit gesien het, en vandag probeer mense die Woord afmaak as ‘n storieboek, asof dit net verhale is, asof dit net fabels is.

Die gebeurtenis waarna Petrus verwys se betekenis is nie bloot wat hulle gesien het nie, maar dit getuig ook wie Jesus Christus werklik was en wat Hy vir ons kom doen het op aarde.

Jesus Christus het aarde toe gekom om vir ons sondes te kom sterf.
Jesus Christus het ons met sy betaling van ons sondes met God versoen.
As ons dit werklik glo en bely en uitleef dat Jesus Christus werklik die Seun van God is, ons Verlosser, dan kom die helder môrester op in ons harte. Dan weet ons en glo ons vas alles wat in die Bybel staan. Dan is dit die Heilige Gees wat deur die Woord in ons harte werk en ons oortuig.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Die Heilige Drie-eenheid! 

Skriflesing: Joh 14:15-31; Jes 63:7-16
Teksvers: Joh 14:25,26:
HK Sondag 8

Kan ons die Drie-enige God verduidelik? 

Indien wel, hoe kan ons Hom verduidelik? 

Daar is al baie pogings deur gelowiges aangewend om God te probeer verduidelik. 

Ons belydenis is egter wat die Woord aan ons leer. 

NGB art. 1: 

“Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is Ewig, Onbegryplik, Onsienlik, Onveranderlik, Oneindig, Almagtig, Volkome wys, Regverdig, Goed en die Alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.” 

Hier bely ons dat God Onbebryplik is. 

Kan ons God dan hoegenaamd verduidelik? 

  • Nee ons kan nie! 
  • Ons glo wat God in die Woord van Homself openbaar. 

Gebed om verligting van die Heilige Gees 

Skriflesing: Ef 1:15-22
Teksvers: Ef 1:17,18

Paulus bid dat ons sal verstaan watter groot geestelike rykdom ons in Jesus Christus het. Daarom bid Paulus oor twee sake: 

• Dat God wysheid sal gee aan alle christene. 

• Dat hulle geestesoë geopen sal word. 

As dit gebeur verstaan ons ook dat ons geroep is om God te dien. 

Verstaan ons die noodsaak om te antwoord op die roeping? 

Wil ons ook ons roeping uitleef omdat ons ook weet dat daar ’n heerlike erfenis vir ons wag? 

Die vrug van jou arbeid 

Ps 128 

Ons helmelse Vader en sy Seun druk ons dit op die hart om God lief te hê met, onder andre, al ons kragte. Liefde vir God is dus nie net ‘n gevoel in die hart of ‘’n vlugtige gedagte nie. Ons liefde vir God word ook gesien in die wyse waarop ons ons werk doen. 

Die Here maak ‘n belofte aan sy mense: Die vrug van jou arbeid sal jy geniet. Arbeid word nie gekwalifiseer nie. Dit wil sê. Die gelowige sal die vrug geniet van alles wat hy doen. Maar daar is ‘n voorwaarde aan hierdie belofte. Die voorwaarde is opgeneem in die eis wat die Here stel: Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en sy wil doen. 

Wie dus al sy werk binne en buite die huis – ‘n groot taak of sommer net ‘n stukkie sleurwerk – doen met die wete dat hy die Here daarmee dien, en hy doen dit soos die Here en nie vir mense nie, sal die vrug van sy arbeid geniet. Die mens wat sy arbeid sien as ‘n gelowige antwoord op die Here se genade, wil sy werk so doen. 

Gelowiges weet immers dat hulle werk alleen maar ‘n antwoord kan wees op God se werk. Omdat God Hom in Christus oor ons ontferm het en barmhartigheid aan ons bewys het, wil ons dankie sê. Ons arbeid is deel van ons dankie sê en ons doen dit soos vir die Here, want Christus het sy Vader se wil uitgevoer toe Hy ons – die uitverkorenes – deur sy soendood gered het. 

Ons aan wie die Heilige Gees die geloof gee, is die vrug van sy arbeid wat Hy geniet – ons loof en prys Hom en sy Vader. 

Geneem uit die Almanak 2013 (Ds CCA Vrey) 

Oordenking 15 Junie

Petrus se laaste testament of afskeidsboodskap!

Lees: 2 Pet 1:12-15

12 “Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan
julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is.
13 Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek
nog lewe.
14 Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik
aan my bekend gemaak.
15 Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal
onthou.” Bron Groenewald, EP 1977 Die briewe van Petrus. p.116ev

“Hierdie gedagte-eenheid word gewoonlik Petrus se laaste Testament of sy afskeidsboodskap
genoem. Hy weet dat hy sy einde nader en rig daarom ‘n dringende woord aan sy lesers.”
(Groenewald, EP. 1977 116ev)

Petrus skryf aan sy lesers en hy herinner hulle aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Dit is nie ‘n nuwe evangelie waaraan hy hulle herinner nie, maar wat hulle reeds weet deur die eerste brief wat hy aan hulle geskryf het nl. die eerste brief van Petrus.

Die woord vir herinner het egter ook die betekenis dat hy weer, opnuut, dieselfde evangelie en boodskap, weer aan hulle verkondig. Dit is so ernstig dat Petrus wil aanhou en aanhou en hulle herinner en herinner en bly herinner word aan die evangelie.

Dit is so belangrik dat ons elke dag net die Woord en niks anders as die Woord van God sal lees en verkondig en preek nie.
Ons hoef nie in lang redenasies met ongelowige- of kleingelowige mense te gaan nie…Ons moet net aanhou die suiwer evangelie verkondig.
Dit gaan oor die konstante, konsekwente en voortdurende herinnering, prediking, verkondiging van die waarheid aan God se kinders en die wat nog tot geloof moet kom.
Terwyl ons erken dat ons nooit die dieptes van God se Woord sal ken nie, en in daardie sin voel dit asof ons altyd iets nuuts leer.
Tog is die lewe van ‘n christen, ‘n lewe van herinner word aan dit waarvan ons reeds oortuig is en wat ons weet en erken en bely.
Die plig van die prediker is nie om elke Sondag iets nuuts te bring nie, maar om die Skrif oop te maak en die lidmate te herinner aan die dinge waarvan hulle weet en waarvan hulle oortuig is.

Dit is wanneer herders en christene, hierdie heilige plig versuim dat wolwe die kraal betree en verwoesting saai.
• Mag ons altyd ywerig en ywerig wees in ons roeping om die skape te herinner.
• Mag die lidmate, deur hierdie oproepe tot waaksaamheid gewek word.

Maar aan Petrus is bekendgemaak dat hy spoedig sou sterf.
Ons lees in vers 13 en 14 in die 2020 vertaling dat sy tentwoning binnekort afgebreek gaan word. Daarmee stel hy dit duidelik dat hy gaan sterf.

2 Petr 1:13,14 2020 vertaling
13) “Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; 14) want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het.”

Hierdie tentwoning herinner ons baie sterk daaraan dat ons verblyf op aarde maar tydelik is. Ons is maar vreemdelinge op aarde wat tydelik bly. Ons weet tog dat die liggaam net vir ‘n tyd, 60, 70 of 80 jaar daar is en dan sal dit afgebreek word. Dan het ons ‘n vaste gebou in die hemel.

Maar Petrus gebruik hier ‘n baie unieke woord vir sy sterwe.

Hy gebruik die woord vir heengaan of sterf in die griekse woord, EKSODUS!
Maw soos wat Israel uit Egipte getrek het olv van Moses en na die beloofde land, getrek het, is ‘n christen ook besig om uit hierdie lewe, ‘n eksodus, na die Ewige Kanaän, maw na die hemel te maak.

Dit is dieselfde woord wat ons lees by die verheerliking op die berg in Luk 9:31 dat Moses en Elia in ‘n gesig met Jesus gepraat het oor sy uittog uit Jerusalem.
Soos wat die Israeliete vinnig uit Egipte moes trek, “’n Eksodus” om van die Egiptenare af weg te kom, so het Jesus ‘n Eksodus uit Jerusalem gehad.
Hy het met pyn en lyding ons misdade op Hom geneem en is daarom as ‘n misdadiger behandel en so het Hy Jerusalem verlaat op pad na Golgota.
So het Petrus ook waarkskynlik aan die kruis moes sterf.

“Petrus verwys na sy vertrek, of dood, as sy uittog, sy Eksodus, (ἔξοδος), ‘n term wat net drie keer in die Nuwe Testament gebruik word.
• Paulus gebruik die term om te verwys na Israel se uittog uit Egipte (Heb. 11:22) en
• Lukas beskryf Jesus se dood wat in Jerusalem voltrek sou word (Luk. 9:31). Die gebruik in Lukas is interessant omdat die konteks bestaan uit die gesprek tussen Moses, Elia en die Here op die Berg van Verheerliking.
Dit blyk dat hierdie term dien as ‘n brug na die konteks van 2 Petr 1:16-18.
Petrus praat nie van die dood as die einde nie, maar as ‘n eksodus van een plek na ‘n ander.”
(Bron de Ganahl Andy. 2022’02/18 2 Petr 1:12-15 The Purpose of remembering)

So was Petrus se dood vir hom ‘n heerlike heengaan na sy hemelse woning.
Maar voordat hy sou heengaan, sy eksodus na die hemele, het hy sy laaste dienwerk voltooi deur sy lesers te herinner aan die bly evangelie van genade en verlossing.

Ons ywer vir die Here moet daarom ook wees om gedurig, om altyd die blye evangelie van verlossing en genade te verkondig.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »