Kategorie: Uncategorized (Page 29 of 102)
God se genade tydens ons lyding.
Donderdag 20 April 2023
Lees: 1 Petr 4:1-6
Eerste Petrus 4 en 5 handel oor God se genade in lyding. Petrus waarsku die christene, dat daar vurige vervolginge vir hulle voorlê. Onthou Nero het Rome aan die brand gesteek en die Christene beskuldig dat hulle Rome aan die brand gesteek het. Nou vervolg die Romeine die christene.
Maar wat het die lyding tot gevolg in ons lewens?
Lyding leer ons om ons sonde te bely en af te lê en ‘n rein lewe voor God te lewe.
Wanneer die lewe gemaklik en sonder sorge is, kan dit maklik gebeur dat ‘n mens kommervry kan begin leef, in die sondige wêreldse verleidinge. Maar ons lees duidelik in Psalm 66:10
“U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer:” ’83 vertaling
“Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter.” ’53 vertaling
Jesus Christus het aan die kruis in ons plek swaargekry en gesterf. Soos wat ons vir Christus lewe en teen die sonde en die duiwel stry en oorwin, leer ons om God al meer en meer lief te hê. Want om in Jesus Christus se voetspore te wandel, beteken dat ons deur Hom en nav sy versoeningsdood en die krag van die Heilige Gees die sonde al meer en meer aflê.
Dit is juis dat as ons lyding verduur as gevolg van ons christenskap, dat ons besef dat ons volgens en deur die wil van God wil lewe. Ons wil nie volgens menslike maatstawwe lewe nie, maar volgens die maatstawwe van God.
Die wêreld vind dit vreemd dat ons nie die sondige bestaan najaag nie. Die wêreldse dinge word aan ons voorgehou asof dit so mooi en maklik en lekker is. Ons kan maklik dink dat die norm is, om soos die wêreld te wees, waar ons net vir onsself leef, maar God vra dat ons moet leef tot sy eer en verheerliking.
Ons moet nie lyding en swaarkry sien as iets swaar en ongewoon nie. Ons as christene moet leef volgens die wil en die woord van God. As ons dan swaarkry omdat ons God se wil doen, maak dit ons nie bitter nie, maar maak dit ons dankbaar dat ons ter wille van God gely het.
Jesus Christus het ook aan die kruis gely as gevolg van ons sondes. Maar Jesus Christus het gewillig gely, sodat ons gered kon word. Liggaamlik kan ons lei en selfs sterf, maar geestelik is ons gered en sal ons ewig lewe.
Bid daarom in ons swaakry sodat die Heilige Gees ons sal krag gee, om sterk te staan in ons swaarkry.
Bid sodat ons nie sal swig onder swaarkry nie, maar dat ons tot eer van God sal bly lewe.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Die Lydensweek!
Donderdag 6 April 2023
Bron: Van der Walt TJ 2006 Die Messias het gekom! ’n Gids in die Evangelies vir toegewyde Bybel-studente. Bl. 231-281
Ons herdenk die lydensweek van ons Here Jesus Christus.
Dit is sekerlik die belangrikste week wat ons herdenk want in hierdie week het Jesus sy dienswerk op aarde voltooi, alles wat geprofeteer is vir ons verlossing vervul.
• Ons weet van Jesus se kinderjare, weinig tot niks.
• Ons weet van sy geboorte-aankondiging.
• Ons weet dat Hy op twaalf (Luk 2:42,46 ) in die tempel by die geleerdes gesit en hulle uitgevra en antwoorde gegee waaroor hulle verbaas was.
Daarna weet ons van sy kinderjare feitlik niks nie, totdat Hy ongeveer dertig jaar oud was
(Luk 3:23) en met sy dienswerk begin het.
• Sy dienswerk vanaf dertig jaar oud tot drie en dertig weet ons gedeeltelik van.
• Van sy laaste week op aarde weet ons wat Hy elke dag gedoen het en feitlik van uur tot uur.
Jesus was nie passief in sy lyde nie, maar aktief besig om Sy oorwinnaarswerk te voltooi.
Dit het aktief met lyde en uiteindelik die vervloekte kruisdood gepaard gegaan.
Hy het sy doel op aarde kom voltooi en dit was om in ons plek te betaal vir ons sondes aan die vervloekte kruishout.
Wyle Prof Tjaart van der Walt verklaar die week wat strek vanaf Sondag tot Sondag as volg.
Die eerste Sondag is die dag v/d triomfantlike intog in Jerusalem (Sag 9:9 Mat 21:5)
Mat 21:5 “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ‘n donkie, op die vul van ‘n pakdier.”
Maandag is die dag v/d tempelreiniging en die vervloeking v/d vyeboom (Luk 19:46)
Mat 21:12 “Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi 13 en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ‘n rowersnes.”
Dinsdag is die dag v/d stryd met die godsdienstige leiers van Israel. (Luk 22:66ev)
Luk 22:66 “Toe dit dag word, het die Raad van die volk – die priesterhoofde en die skrifgeleerdes – vergader en Jesus voor hulle laat bring. 67 Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; 68 en al sou Ek vir julle ‘n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie.”
Woensdag rus Jesus in Betanië. Hy word gesalf maar ook verraai. Mat 26:6-13
Mat 26:6 “Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het ‘n vrou by Jesus gekom met ‘n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet. 16 Van toe af was hy (Judas Iskariot) op die uitkyk na ‘n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.”
Donderdag is die dag (of liewers die aand) v/d Pasga en die Nagmaal, Mat 26
daarna die nag van Getsemane en sy inhegtenisneming
Mat 26:26 “En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”
27 Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.”
Vrydag is die dag v/d verhore en die kruisiging Luk 22:14ev, 39ev
Luk 22:66 Toe dit dag word, het die Raad van die volk – die priesterhoofde en die skrifgeleerdes – vergader en Jesus voor hulle laat bring. 33 Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.
Saterdag rus die liggaam van Jesus in die graf; sy gees is by sy Vader. Luk 23:55
Luk 23:55 “Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. 56 Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.”
Sondag die graf is leeg: Hy het opgestaan!
Luk 24:34 en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”
So hierdie was ‘n lydensweek waarin Jesus Christus vrywillig Homself as offer oorgegee het. Die wêreldse regter het Hom valslik en verkeedelik skuldig bevind, alhoewel hulle gesë het dat Hy onskuldig is. Maar dit was juis die betaling vir ons sondes aan die kruis.
Hierin lê daar vir ons verlossing in opgesluit.
• Jesus alleen kon die toorn van God dra.
• Jesus, die onskuldige het in ons plek die skuld gedra.
• Jesus het dit alles ondergaan sodat ons die ewige lewe kan hê.
Dit erken en bely ons met dankbaarheid, maar ook met ’n diepe bewoënheid.
Dankie ons Hemelse Vader vir Jesus Christus.
Dankie dat Hy in ons plek gesterf het.
Dankie dat Hy die onskuldige, ons skuld op Hom geneem het.
Dankie dat ons deurdat Jesus Christus betaal het, die ewige lewe beërf het.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com