Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Uncategorized (Page 29 of 101)

Oordenking 6 April

Die Lydensweek!

Donderdag 6 April 2023
Bron: Van der Walt TJ 2006 Die Messias het gekom! ’n Gids in die Evangelies vir toegewyde Bybel-studente. Bl. 231-281
Ons herdenk die lydensweek van ons Here Jesus Christus.
Dit is sekerlik die belangrikste week wat ons herdenk want in hierdie week het Jesus sy dienswerk op aarde voltooi, alles wat geprofeteer is vir ons verlossing vervul.
• Ons weet van Jesus se kinderjare, weinig tot niks.
• Ons weet van sy geboorte-aankondiging.
• Ons weet dat Hy op twaalf (Luk 2:42,46 ) in die tempel by die geleerdes gesit en hulle uitgevra en antwoorde gegee waaroor hulle verbaas was.
Daarna weet ons van sy kinderjare feitlik niks nie, totdat Hy ongeveer dertig jaar oud was
(Luk 3:23) en met sy dienswerk begin het.
• Sy dienswerk vanaf dertig jaar oud tot drie en dertig weet ons gedeeltelik van.
• Van sy laaste week op aarde weet ons wat Hy elke dag gedoen het en feitlik van uur tot uur.

Jesus was nie passief in sy lyde nie, maar aktief besig om Sy oorwinnaarswerk te voltooi.
Dit het aktief met lyde en uiteindelik die vervloekte kruisdood gepaard gegaan.
Hy het sy doel op aarde kom voltooi en dit was om in ons plek te betaal vir ons sondes aan die vervloekte kruishout.

Wyle Prof Tjaart van der Walt verklaar die week wat strek vanaf Sondag tot Sondag as volg.

Die eerste Sondag is die dag v/d triomfantlike intog in Jerusalem (Sag 9:9 Mat 21:5)
Mat 21:5 “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ‘n donkie, op die vul van ‘n pakdier.”
Maandag is die dag v/d tempelreiniging en die vervloeking v/d vyeboom (Luk 19:46)
Mat 21:12 “Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi 13 en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ‘n rowersnes.”
Dinsdag is die dag v/d stryd met die godsdienstige leiers van Israel. (Luk 22:66ev)
Luk 22:66 “Toe dit dag word, het die Raad van die volk – die priesterhoofde en die skrifgeleerdes – vergader en Jesus voor hulle laat bring. 67 Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; 68 en al sou Ek vir julle ‘n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie.”
Woensdag rus Jesus in Betanië. Hy word gesalf maar ook verraai. Mat 26:6-13
Mat 26:6 “Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het ‘n vrou by Jesus gekom met ‘n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet. 16 Van toe af was hy (Judas Iskariot) op die uitkyk na ‘n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.”
Donderdag is die dag (of liewers die aand) v/d Pasga en die Nagmaal, Mat 26
daarna die nag van Getsemane en sy inhegtenisneming
Mat 26:26 “En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”
27 Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.”
Vrydag is die dag v/d verhore en die kruisiging Luk 22:14ev, 39ev
Luk 22:66 Toe dit dag word, het die Raad van die volk – die priesterhoofde en die skrifgeleerdes – vergader en Jesus voor hulle laat bring. 33 Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.
Saterdag rus die liggaam van Jesus in die graf; sy gees is by sy Vader. Luk 23:55
Luk 23:55 “Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. 56 Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.”
Sondag die graf is leeg: Hy het opgestaan!
Luk 24:34 en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”

So hierdie was ‘n lydensweek waarin Jesus Christus vrywillig Homself as offer oorgegee het. Die wêreldse regter het Hom valslik en verkeedelik skuldig bevind, alhoewel hulle gesë het dat Hy onskuldig is. Maar dit was juis die betaling vir ons sondes aan die kruis.

Hierin lê daar vir ons verlossing in opgesluit.
• Jesus alleen kon die toorn van God dra.
• Jesus, die onskuldige het in ons plek die skuld gedra.
• Jesus het dit alles ondergaan sodat ons die ewige lewe kan hê.

Dit erken en bely ons met dankbaarheid, maar ook met ’n diepe bewoënheid.

Dankie ons Hemelse Vader vir Jesus Christus.
Dankie dat Hy in ons plek gesterf het.
Dankie dat Hy die onskuldige, ons skuld op Hom geneem het.
Dankie dat ons deurdat Jesus Christus betaal het, die ewige lewe beërf het.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 13 Maart

Onderworpenheid aan gesag bring Vryheid!

Maandag 13 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:11-25

Onderworpenheid aan gesag bring vryheid!
In ons Skrifgedeelte gaan dit daaroor om te leef in onderdanigheid, mawte leef in nederigheid, in onderdanigheid. Nou onderdanigheid klink nie altyd vir ons na iets om na te streef nie. Ons sê maklik:
• Ek laat my nie voorsê nie.
• Niemand is my baas nie.
• Ek laat nie toe dat ander mense my lewe regeer nie.

“Onderdanigheid beteken egter nie slawerny nie, maar bloot die erkenning van God se gesag in jou lewe. God het die huis, menslike regering en die kerk gevestig en Hy het die reg om vir ons te vertel hoe hierdie instansies bestuur moet word. God wil hê dat ons gesag moet uitoefen, maar voordat ons gesag kan uitoefen, moet ons bereid wees om onsself aan gesag te onderwerp.”
(Wiersbe, WW 2001:The Bible Exposition Commentary. p.403-407)

Satan bied valslik of op ‘n slinkse manier, aan Adam en Eva, ons eerste voorouers, vryheid, maar sonder gesag. Maar die uiteindelike gevolg was dat hulle, beide hul vryheid en gesag verloor het. Hulle het slawe geword van die sonde. Hulle het slawe geword van hulle eie wil en hulle begeertes en luste. Die Verlore Seun het sy vryheid gevind toe hy teruggekeer het na sy pa en hom weer aan sy pa onderwerp het. Toe was hy vry om te lewe en te werk en te speel, maar volgens die huisreëls van sy pa. (vgl. Luk 15:11-32)

Petrus gee hier aan ons drie skitterende motiewe hoekom ons ons moet onderwerp aan verskillende persone en aan God. (Wiersbe, WW 2001:The Bible Exposition Commentary. p.403-407)
• Gedra julle altyd goed onder die heidene. 1 Petr 2;11,12
• Onderwerp julle aan die owerheid tot eer van God. 1 Petr 2:13-17; Rom 13:1-3; Tit 3:1,2
• Jesus Christus het Hom aan sy Vader se wil onderwerp. 1 Pet 2:18; Ef 6:5-8; Kol 3:22-25

Gedra julle altyd goed onder die heidene. 1 Petr 2;11,12

Om jouself dus te onderwerp aan gesag, stel jy ‘n voorbeeld van hoe ‘n christen moet lewe, volgens God se wil. Want ons is God se geliefde kinders. Agt maal skryf Petrus in sy 2 briewe wie ons is. Uit onsself is daar niks wat God kan liefhê nie, want ons sondige elke dag, en tog het Hy ons so lief dat Hy sy enigste Seun gestuur het om in gehoorsaamheid aan sy Vader, sy eie lewe aan die kruis te laat offer, in gehoorsaamheid en onderdanigheid om sodoende te betaal vir ons sondes.

Ons kyk tog graag na iemand op wat ‘n voorbeeldige lewe lei. Dit is so mooi as mense sê: “Daardie persoon is ‘n Israeliet sonder bedrog.” Dit is iemand na wie jy kan opsien. Dit is iemand wie jy kan navolg omdat hulle absoluut lewe tot eer van God. So moet ons ook voorbeelde in ‘n stukkende wêreld wees. Ons is dit as ons ons altyd goed gedra. Om jouself goed te gedra is om te leef volgens God se gebooie en dit na te kom. So is ons ‘n lig wat skyn in die donker. Kom ons gedra ons altyd goed volgens die gebooie van God tot eer van God.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »