Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 182 of 192)

Koinonia met die Vader, die Seun en met medegelowiges

Skriflesing: 1 Joh 1:1-10
Teksvers: 1 Joh 1:3,4,7

Die tema van die jaar is; Ons gee om…! Hierdie omgee gaan nie oor ‘n humanisme van omgee vir mekaar en om vir mekaar om te gee omdat daar humanistiese en eerstens menslike redes is om goed te doen nie. Hierdie Koinonia of Ons gee om vir mekaar lê gewortel in dit wat die apostels en spesifiek die apostel Johannes met ons deel. Hy getuig daarvan dat hy as deel van die dissipels vir Jesus gehoor, en gesien en aan Hom geraak het. Hulle is lewende getuies van Jesus Christus wat waarlik die Seun van God die Vader is. Ons gemeenskap met mekaar is gegrond in hierdie gemeenskaplike geloof dat God ons Hemelse Vader is en ons sy kinders is. Ons het mekaar lief omdat ons dieselfde Vader het, dieselfde Verlosser en in dieselfde bootjie is as aangenome kinders van God wat uit God se genade leef.
Ons gaan na die volgende drie sake kyk:

  • Gemeenskap met God die Vader.
  • Gemeenskap met God die Seun.
  • Gemeenskap met medegelowiges.

Laai af

Die wat die Here minag, ontvang die oordeel van die Here

Skriflesing: Daniël 5
Teksvers: Daniël 5:22-28

Koning Belsasar het groot geword in die huis waar die Here vir koning Nebukadnesar met oneindige geduld gelei en gevorm het om tot volle geloofsoorgawe in Hom te kon kom.
Ten spyte van alles wat koning Belsasar gesien, gehoor en beleef het, het hy onverskillig teenoor die Here gestaan. Vandaar dan dat die Here so drasties optree teenoor hom. Die wat weet, die wat tot kennis van die Here gekom het en dit nogtans verwerp, sal die oordeel van die Here ontvang.
Jy het nog geleentheid om jou saak met die Here reg te maak. Mag die Heilige Gees jou lei om die Here met volle oorgawe en vreugde te dien.

Laai af

Broers en susters in/van die Here Jesus!

Skriflesing: Romeine 8:14-17
Teksvers: Romeine 8: 15,16

Hoekom sou ek vir jou omgee? Waarom sou ek vir enige iemand anders omgee? Ek het genoeg moeilikheid van my eie…
Miskien is dit so dat ons genoeg probleme het, maar die Here het ons in verhoudinge geskape sodat ons mekaar kan help en bystaan. Dan word groot probleme makliker opgelos.
God gee so baie vir ons om dat Hy ons grootste nood raakge-sien het en ons as sy kinders aangeneem het. En nou is ons, soos Jesus, kinders van die grote God. Hy gee ons aan me-kaar. Ons is nou broers en susters van Jesus en so ook van mekaar. Ewige familie!
Ons het mense wat vir ons omgee! En ons gee vir hulle om!

Laai af

Die Here bring die mees geharde mens tot inkeer

Skrifgedeeltes: Daniȅl 4
Teksvers: Daniȅl 4:35

Dit kan so maklik gebeur dat ons iemand kan afskryf. Ons kan dink dit is onmoontlik om iemand se hart te verander wat sonder die Here lewe. Tog kom die Here om ons hier te leer dat Hy die hart en lewe van die magtigste koning draai om tot inkeer te kom en te bely dat al die mag en die eer en die heerlikheid aan die Here alleen toekom.

Kom ons bid vir ons leiers en vir mense wat ons al afgeskryf het om tot ware inkeer en bekering te kan kom. Kom beleef weer die Here se groot mag en krag en liefde vir verlore mense.

Laai af

Jesus Christus gee intens om vir sy mense

Skriflesing: Mat 14:22-33 (Mark 6:45-52; Joh 6:16-21)
Teksvers: Mat 8:27; Mat 14:33

Jesus is Here oor die hele Skepping. Jesus is alwetend, ook wat elke oomblik van die dag met ‘n mens gebeur. Ons lees in Jes 45:5-7:
“Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie. Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af tot in die weste kan weet dat daar buiten My geen God is nie; Ek is die Here, daar is geen ander nie. Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.” Jesus gee om vir sy mense. Hy loop nie op die see en laat Petrus op die see loop om ‘n blote wonderwerk te doen nie, maar dat sodat Sy Almag openbaar kan word en Hy deur sy versoeningswerk kan toon dat ons altyd na Hom toe moet gaan vir en lewe en om te lewe. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Jesus loop op die see
  • Petrus loop op die see
  • Jesus “loop” in ons harte

Laai af

Ons krisisse is God se geleenthede

Skrifgedeelte: Daniȅl 2
Teksvers: Daniȅl 2:17-19

Onredelik, onrealisties en onmoontlik is die eis van koning Nebukadnesar. Vir die mens onmoontlik. Vir die Here is alles moontlik. Hy ken ons gedagtes nog voordat dit by ons opkom. Hy weet alles van ons. Hy is in beheer.
Mag jy die jaar 2018 met al sy krisisse in die geloof aanpak. Sien die Here se beheer raak, wanneer die onmoontlike van jou verwag word. Wat vir die mens ‘n krisis is, is vir God ‘n geleentheid.
Mag jy weet dat Hy in beheer staan van jou lewe.

Afrikaanse diens

« Older posts Newer posts »