Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Esegiël (Page 2 of 3)

Skuldig voor God, begenadig deur God

Skriflesing: Eseg 36:16-38 
Teksvers: Eseg 36:21,22,25,26,27 
HK Sondag 23 

‘n Hofsaak met ‘n uitspraak wat nie logies is nie. 

  • Die aanklag is skuldig. 
  • Die uitspraak is genade. 
  • Die straf is vrygespreek. 

Ons roem daarop dat ons ‘n Christelike volk is. Maar wys ons dade en ons volkslewe dit? Wys ons lewe dat ons getrou is aan ons naam, Christene wat reformeer, terugkeer na die Bybel? 

Die groot troos is egter in die volgende drie woorde saamgevat. 

  • Skuldig! 
    • Begenadig! 
      • Vrygespreek! 

‘n Ewige verbond!

Skriflesing: Esegiël 16
Teksvers: Esegiël 16:60-63

Vir baie mense het die doop, veral die kinderdoop, iets van ‘n familie-ritueel geraak en loop ons die gevaar dat dit eintlik iets soos familie-saamtrek kan word. Dié klemverskuiwing kan gevaarlik wees. Die doop aan kinders (en grootsmense) is vir seker iets waar jou familie (as hulle ons geloof deel) saam bly kan wees. Die doop vind egter plaas in die geestelike familiekring van die gemeente waar hierdie kinders gaan opgroei. En dan besef ons dat dit om iets groters gaan.

Die doop is God se ewige belofte aan ‘n mens! Dit is sy woord van eer aan ‘n mensekind om nou en elke dag tot in die ouderdom, maar ook verder, ja selfs deur die dood heen, vir ewig jou God te wees en jou te seën met die keur van sy genadeseën, tot in alle ewigheid.

Hoor God se genade in sy oordeelsaankondiging

Skriflesing: Esegiël 8
Teksvers: Esegiël 8:18

Hierdie aankondiging in Esegiël 8 vind kort voor die ballingskap plaas. Verder word ook aangekondig dat die Here se teenwoordigheid hulle gaan verlaat as gevolg van die leiers van Israel se openlike beoefening van afgodediens. Asof die Here dit nie sou raaksien nie!!! 

In hierdie gesig het die Here vir Esegiël na die tempel en die stad Jerusalem gevat om die geestelike verval van die geestelike leiers te sien. Tog is daar in Esegiël 8 -11 wel ‘n aanduiding dat daar vir hulle ‘n sprankie hoop oor is. God dui aan dat Hy vir hulle ‘n heiligdom sal bly tydens die balling-skap. Daar is ook ‘n belofte deur die Here dat hulle in die toekoms na Israel sal terugkeer. Esegiël 8 vereis egter dat die leiers van Israel tot hulle sinne sal kom. Hulle kan hulleself nie verder mislei om te dink dat die Here nie hulle afgodsdiens raak sien nie. 

Die Here roep ons deur die Heilige Gees op om by hernuwing weer na ons eie sondige lewe en praktyke te kyk. Hoe ver staan jy werklik van die Here af? Is die oordeel van die Here ook vir jou voor die deur of hoor jy die roepstem van die Here se genade te midde van oordeel en gevaar dat die Here se teenwoordigheid van ons onttrek kan word? 

Deur Sy Woord en Gees vernuwe God sy kerk

Skriflesing: Esegiël 37:1-28 
Teksvers: Esegiël 37:12-14

“Ons bene is verdor, ons verwagting is verlore!” Dit is klaar met ons… Hierdie woorde sny deur ‘n mens se hart. As iemand moed opgee en nie meer kans sien vir die lewe nie. As iemand nie meer krag het om aan te wil gaan nie! 

Dit is presies wat gebeur het met die ballinge in Babel. Toe hulle hoor Jerusalem het geval en die tempel is vernietig, het hulle hele wêreld en al hulle verwagtinge inmekaar gestort. Vandag staar ons iets soortgelyks in die gesig. Ons hele lewe en alles wat ons glo en vertrou word uitgedaag. Ook die bestaan van die kerk word bevraagteken… 

Ons staan vanoggend stil by die profetiese boodskap van hoop en verlossing as die Here aankondig dat Hy deur Sy Woord en Gees nuwe lewe skenk. Amen 

Jou lewe moet getuig van God se Verlossing en oordeel

Skriflesing: Esegiël 33:1-20
Teksvers: Esegiël 33: 7-11 

Die evangelie is ‘n Blye Boodskap van God se genade. Maar dit is ook ‘n boodskap van oordeel. Dit plaas ‘n enorme verantwoordelikheid op elkeen wat dit hoor, en elkeen wat dit glo. As God die oordeel aankondig en jy waarsku nie iemand nie, word jy verantwoordelik gehou. God plaas ons as wagters, as brandwagte in hierdie wêreld. Jou lewe moet getuig van Sy verlossing maar dit moet ook getuig van sy regverdige oordeel. Amen

Ds Lourens Venter 

« Older posts Newer posts »