Skriflesing: Hand16; HK Sondag 7 Teksvers: Hand 16;31
Daar is geen ander manier waardeur ‘n mens gered kan word nie, as dat hulle in Hom GLO wat God voorsien het as Middelaar en Verlosser, nl. Jesus Christus die Here. Hy wat mens geword het en vir al ons sondes ten volle betaal het en so volkome versoening gedoen het, dat God hulle sondes kan en sal vergewe!
Wat moet ‘n mens dan nog doen om gered te word?
Glo. Glo is immers om Hom te KEN soos die Bybel Hom openbaar en dan ook ten volle te VERTROU dat Hy vir JOU hierdie versoeningswerk volbring het…. te glo dat God jou sondes ter wille van Hom ten volle vergewe. Kom ons vier dit in die teken van die Nagmaal hierdie Sondag. Neem, eet, drink en GLO!
Skriflesing: Openb 19:1-10 Teksvers: Openb 19:7 en 8
Die kerk is die bruid van Christus. Maar ‘n bruid kan nie sonder ‘n trourok, ‘n bruidskleed, by die troue opdaag nie. In Openabring 19 word vir ons verduidelik hoe die bruidskleed lyk van die kerk. Dit is die regverdige dade van die heiliges. Die goeie werke wat ons doen, is die wyse waarop die bruid haarself gereed maak vir die bruilof van die Lam.
Vandag vier ons die heilige Nagmaal. Dit is ‘n toonbeeld van die bruilof wat kom. Deur gedurig die dood van die Here Jesus te gedenk, word ons geloof versterk, en kan die bruid haar skoonheid sien in die spieel van God se Woord. Hoe lyk jou bruidskleed?
Lees: 2 Petr 1:3-8 3 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. 8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.”
Geloof is jou kosbaarste besitting. Geloof is die kosbaarste geskenk van God aan ons. “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” V3a God het deur sy “krag” aan ons alles geskenk wat nodig is. Daarom moet daar geloofs-groei by ons wees.
Ons geloof is soos ‘n ketting met sewe skakels. Op sy eie is ‘n ketting-skakel nutteloos, maar aanme-kaar is die ketting ‘n baie sterk gereedskapstuk. So is daar sewe skakels waarmee ons ons geloof moet versterk. Jou geloof moet verryk word met deugsaamheid.. • Deugsaamheid met kennis… • Kennis met selfbeheersing • Selfbeheersing met volharding • Volharding met godsvrug • Godsvrug met liefde onder mekaar • Liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
Ons kan hierdie sewe eienskappe in drie groepe opdeel: • Eerstens die wat handel oor die karakter van ons geloof. • Tweedens die wat handel oor die gesindheid van ons geloof. • Derdens handel die wat handel oor intermenslike verhoudinge in die geloof.
Die karakter van ons geloof.
Deugsaamheid Deugsaamheid beteken om volkome in jou doel te slaag. Ons as christene se doel is om God te verheerlik. As ons dan God met ons hele lewe verheerlik slaag ons in ons doel.
Kennis Die betekenis van kennis hier is kennis wat toeneem. Kennis gaan nie net oor intellektuele kennis nie, maar dit gaan oor ’n verstaan van die Woord en die uitleef daarvan deur ’n intiem persoolike verhouding met God en met jou medemens.
Die Innerlike gesindheid van ons geloof. Selfbeheersing Selfbeheersing gaan daaroor om die verkeerde wêreldse plesiere van die lewe, wat tot sonde lei te weerstaan.
Spr 16:32 “’n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.”
Spr 25:28 “’n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersig het nie.”
Volharding/lydsaamheid/geduld van ons geloof.
Jak 1:3,4 “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word, sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
Volharding is iets waaraan ’n gelowige biddend en in diepe afhanklikheid van God moet werk. Dit gebeur nie outomaties of kom vanself nie. Ons lees juis in Rom 5:3,4 “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;”
Godsvrug Hierdie woord beteken vrug te dra tot eer van God. Dit beteken om geloofsvrugte te dra. Iemand wat in die regte verhouding met God staan sal ook in die regte verhouding met sy naaste staan. Hy sal vrugte dra wat by die bekering pas. Dit gebeur met almal wat na die wil van God soek en dit biddend in geloof nastrewe.
Interpersoonlike verhoudinge in ons geloof.
Liefde onder mekaar / Broederliefde Petrus skryf juis in sy eerste brief, 1 Petr 1:22, dat die wedergebore kinders van God mekaar moet liefhê. 1 Petr 1:22 “Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.”
Liefde vir alle mense / Naasteliefde Hierdie liefde is die agape liefde wat God bewys het teenoor alle sondaars toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Dit is die liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitstort as ons in die Gees wandel. Rom 5:5 “…God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Om mee af te sluit
Kom ons werp alles in die stryd om ons geloof te verryk. Kom ons bid dat God ons sal seën, om met oorgawe en entoesiasme, die deugde by ons geloof te voeg. Mag ons lewe so verryk word dat ons ‘n verdieping en ‘n verinniging in ons verhouding met ons Verbondsgod ervaar. Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Lees: 2 Petr 1:1,2 1 “Van Simon Petrus, ‘n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. 2 Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!”
Wat is jou kosbaarste geskenk in die lewe? Wat is jou kosbaarste, veral geestelike besitting, in die lewe?
In 1 Pet 1:7 kry ons die antwoord: “Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan.”
Dit gaan natuurlik oor die inhoud van die geloof. Dit gaan oor dit wat ons glo. Geloof is so kosbaar en belangrik dat ons in die Heidelbergse Kategismus ‘n hele vraag daaraan afstaan. Die vraag is ook nie net: • Wat glo jy nie? MAAR • Wat is ‘n ware geloof?
Ons bely dan in Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 21: “’n Ware geloof…. • Is nie alleen ‘n vasstaande kennis, waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie, • Maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk o Naamlik dat God nie net aan ander nie, o maar ook aan my,
uit loutere genade,
slegs op grond van die verdienste van Christus,
vergewing van sondes,
ewige geregtigheid en
saligheid geskenk het. “
Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges, as christene het dieselfde kosbare geloof as wat die apostels gehad het. Hulle het God gesien, gehoor en saam met Hom gewandel, 2000 jaar gelede en persoonlik al Sy wonderwerke en dade en onderwysing ervaar. Ons het dieselfde kosbare geloof.
Die vraag is: Wat doen ons met hierdie kosbare geloof? Dit is nie net ‘n geskenk wat ons ontvang het en nou kan ons maar daarmee maak en doen wat ons wil nie. Dit is nie ‘n geskenk wat ons in ons harte moet bêre en daarvan vergeet nie. Hierdie is ‘n geskenk wat ons moet gebruik en uitbou tot eer van God en tot opbou van ons geloof.
Petrus roep ons op om hierdie geloof te gebruik. 2 Pet 1:5-8 5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. 8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.”
Volgende keer DV gaan ons kyk na die geloofsketting, na elke skakel wat God van ons verwag hoe Hy wil hê ons moet lewe. Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Skriflesing: Hebr 1:1-9 Teksvers: Hebr 1:1,2 HK Sondag 6
Die tweede hoofdeel van die Heidelbergse Kategismus handel oor ons verlossing en is vraenderwys op soek na die Verlosser. Hy soek een wat ware mens is om vir die mense se sondes te betaal, maar dan moet hy ook ‘n sondelose (regverdige) mens wees. Daarby moet Hy God wees om die toorn van God te kan dra . Die vraag of daar so iemand be-staan word hier beantwoord en die lyn word regdeur die Skrifte getrek om te sien dat dit eintlik Jesus Christus is, die Seun van God. Hy is die antwoord op al ons vrae.
Vandag is die voorbereiding van die Nagmaal. Die Nagmaal is die Here se maaltyd, ‘n gemeenskapsmaaltyd, maar ter selfde tyd ook ‘n gedagtenis maaltyd. Gedenk die dood van die Here tot Hy weer kom. Ons dink na oor die betekenis van Christus se kruisoffer. Maar ons doen dit as gemeente. Ons kom saam in die geloof. Dit is ‘n wonderlike seën om aan die Nagmaal van die Here te mag deel. Maar die Nagmaal is ook meer. Dit wys heen na ‘n ander maaltyd. ‘n Feesmaaltyd. ‘n Bruilofsfees. Geseënd is elkeen wat genooi is na die bruilof van die Lam.