Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 25 of 129)

Ondersoek jouself, en stel jouself op die proef

Skriflesing: 2 Korintiërs 13:1-13 (2020)
Teksvers: 2 Korintiërs 13: 4-5

Ondersoek jouself, en stel jouself op die proef. Hierdie twee aspekte klink dieselfde maar dit is nie.

Om ondersoek te doen, is om al die besonderhede na te gaan. Dit is om na alle verskillende faktore en elemente te kyk en dan te beoordeel wat goed en wat sleg is. Dink bv. as jy ‘n nuwe voertuig koop. Jy stel ondersoek in watter modelle daar is en hoeveel hulle kos. Wat is die wringkrag en hoeveel kilometer die voertuig kan ry per liter. En dan gaan neem jy ‘n toetsrit. Jy stel die voertuig op die proef.

So moet ons ook toets of ons in die geloof is. Saam met hulle wat openlik hulle geloof bely en die wat gedoop word, berei ons ook voor vir die nagmaal met die ware selfondersoek.

Wat het ons getuies nog nodig?

Skriflesing: Markus 14:53-65 (2020)
Teksvers: Markus 14:55-60
HK: Sondag 43 

Valse getuienis is nie heeltemal dieselfde as om te jok nie. Die negende gebod se inhoud en gewig is baie meer as net om waar en vals teenoor mekaar te stel. Met ander woorde, om nie die waarheid te praat nie is heeltemal anders as om vals te getuig. 

Ons hele woordeskat is besoedel met onwaarhede. Dink maar net hoeveel keer beskryf jy dinge uit jou ervaring van die lewe, wat nie presies reg is nie. Jy het gedink dit was ‘n rooi ballon, maar dit was toe al die tyd ‘n donker pienk een. Valse getuienis is egter om doelbewus te sê die ballon was rooi terwyl jy eintlik weet dit is donker pienk. 

Uit die verhoor van ons Here Jesus deur die Joodse Raad staan ons vanaand stil by die tema: wat het ons getuies nog nodig? 

Die nuwe lewe is bekering en opbou

Skriflesing: 2 Korintiërs 12 (1983)
Teksvers: 2 Korintiërs 12:19-21

Die reeksprediking uit 2e Korintiërs nader sy einde. Paulus is besig om sy brief af te sluit. Hy het egter die vrees dat gemeente met alle erns nie op sy skrywe ag slaan nie. 

Die vraag wat dus bly is of jy wat deur geloof in Christus ‘n nuwe mens geword het (5:17), ook nou besig is om te verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (3:18) en dat die gemeente werklik byna gereed is soos ‘n maagdelike bruid (11:2) wat op haar bruidegom wag. 

Die kernwoorde is bekering en opbou. Dít kan nie net by woorde bly nie. 

Waar jou skat is, daar is ook jou hart 

Skriflesing: Matteus 6:19-34 (2020) 
Teksvers: Vers 31-33 
HK: Sondag 42 

Moenie skatte op aarde bymekaar maak nie. Ons ken hierdie bekende refrein. Moenie net vir hierdie wêreld lewe nie. In die bergrede hoor ons hoe ons Here Jesus sy dissipels onderrig, waar die belangrike dinge van die lewe gevind moet word. 

Nie in die aansien en oë van die wêreld nie, maar in die behae van God. So leer die 8ste gebod ons ook om God te vertrou met ons daaglikse versorging, sonder om ons plig na te laat. 

Ons staan vanaand stil by die tema: waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. 

Die nuwe lewe is nie pynloos nie

Skriflesing: 2 Korintiërs 12 (1983) 
Teksvers: 2 Korintiërs 12:7-10 

Onder die oorhoofse jaartema van 2 Kor 5:17 besef ons dat nuwe mense in Christus nie pynvry verklaar word as hulle glo nie. Dalk selfs juis dan kom daar allerlei swaarkry en opofferings wat nogal moeilik is om te dra. 

Dis juis dan dat ons soos die apostel Paulus anders na ons omstandighede moet kyk. God het ‘n plan met Paulus se pyn, sy doring in die vlees. So gebruik die Here al die uitdagings van ons lewe en laat ons daardeur by sý plan en doel uitkom. 

Soos by Paulus sal dit kos om te glo dat die genade van die Here genoeg is. 

Christus is ons anti-biotika

Skriflesing: 1 Korintiërs 6:1-20 (2020) 
Teksvers: 1 Korintiërs 6:3-4 
HK: Sondag 41 

Die liggaam van die mens is nie ‘n boutique van die sonde waar ons leef met die vervulling van die begeertes en behoeftes van ons alledaagse nie, maar ‘n tempel van die Heilige Gees. 

In hoofstukke 5, 6 en 7 van die eerste brief aan die Korintiërs beskryf die apostel Paulus die gesindheid waarmee die gemeente leef, omdat hulle verkeerd verstaan wat hulle vryheid in Christus beteken. 

Ons staan vanaand stil by die tema: Christus is ons anti-alledaagse (biotika) omdat ons heilig is vir God. 

« Older posts Newer posts »