Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: 2 Korintiërs (Page 3 of 8)

Laat julle met God versoen!

Skriflesing: 2 Korintiërs 5:11-6:13 (1983)
Teksvers: 2 Korintiërs 5:19-21

Die apostel verdedig steeds sy eie apostoliese gesag teenoor die gemeente in Korinte, Griekeland. Dis soos iemand wat agent is van ‘n agentskap (franchise)… Hy verdedig nie die agent nie maar wel die agentskap.

Hy en die apostels het geen eie gesag nie, maar wel het die inhoud van die “franchise”, die inhoud van die Evangelie, gesag in homself.

Kom ons bekyk hierdie uitsonderlike evangelie wat hier deur die Griekse woordjie “katalasso” uitgedruk word en kom ons aanvaar hierdie versoening wat Hy vir ons in Christus bewerk het.

Hou bene hou!

Skriflesing: 2 Korintiërs 4:16-5:10
Teksvers: 2 Korintiërs 4:16-18

Hou bene hou! Dit hoor ons gereeld langs die atletiek baan. Maar nie by hoogspring of spiesgooi of selfs die naellope nie. 

Dit is wanneer die langafstande aan die beurt kom wat ons hierdie aanmoediging hoor. Moenie ophou nie. Moenie ingee nie, maak die wedloop klaar. Want soms kan die afstand baie ver en swaar en moeilik word. Net soos in die lewe. 

Paulus kan daarvan getuig, hoeveel keer hy as te ware die dood reeds voor oë gehad het. Daarom kom die aanmoediging, hou moed, moenie in die geloof opgee nie, hou bene, hou! 

’n Skat in ’n kleipot tot eer van God

Skriflesing: 2 Kor 4:1-15 
Teksvers: 2 Kor 4:5-7, 15c 

Hoe mooi ’n kleipot of erdekruik ookal is, dit is ’n verganklike, breekbare, maar ook ’n bruikbare artikel. Want ’n kruik word eerstens gemaak om iets binne te hou. In die Bybelse tyd was die erdekruik of kleipot gebruik as ’n waterhouer, as ’n bêreplek vir graan of kos. Vandag het ons baie duursame houers van metaal, duursame plastiek om kosbaarhede soos kos en klere in te bêre. Vir ’n baie kosbare skatte, artikels soos juwele of geld gebruik ons kluise. God gebruik egter mense, wat met kleipotte vergelyk word, om die kosbaarste skat in te bêre. 

  • ’n Kleipot deur God geskape uit genade. 
  • ’n Kleipot deur God gevul met ’n skat. 
  • ’n Kleipot deur God tot eer en verheerliking van God. 

Moses se Moses

Skriflesing: 2 Korintiërs 3 (1983)
Teksvers: 2 Kor 3:18

In ons preekreeks oor Tweede Korintiërs kom ons nou by hoofstuk 3. Na analogie van Moses wat sy blinkende gesig met ‘n sluier moes bedek, word ons geleer dat Christus baie groter is as Moses. Hy is Moses se moses. 

In Christus word die sluier weggeneem en kan ons as kinders van God toenemend skyn met die heerlikheid (Grieks: doxa) van Christus! Hier stop Paulus die boelie van die wet en leer ons die vryheid in Christus. 

Droefheid bring bekering wat tot redding lei!

Skriflesing: 2 Kon 5:1-6:7; 2 Kor 7:6-13
Teksvers: 2 Kon 5:11,12,14,16, 18; 2 Kor 7:9-10
HK: Sondag 33

God vra ware bekering. Dit is die afsterwing van die ou sondaar mens en die opstanding van die nuwe mens in Jesus Christus. En as jy ’n nuwe mens is, wil jy goeie werke doen wat uit ’n ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word. 

Ons moet altyd minder word, ons eie trots aflê en buig voor God se Woord. Naäman het gedink, omdat hy so belangrik is sou sy gesond-word, met groot vertoon plaasvind. Die profeet Elisa moes met groot vertoon hom gesond maak en dan sou hy Elisa baie goed beloon en betaal vir wat gedoen is. Maar Naäman het God se werking nog nie verstaan nie. 

God gebruik dikwels onopvallende metodes, maar God moet altyd die eer kry vir die wonderwerke. Dit kan net gebeur as jy as sondaar deur die bekering gelei word deur die Heilige Gees, as jy opstaan as ’n nuwe mens en dan goeie werke doen uit dankbaarheid tot eer van God. 

Ons is medewerkers in die Triomf van Christus

Skriflesing: 2 Korintiërs 1:11 – 2:17
Teksvers: 2 Korintiërs 2:14,15

‘n Triomftog of segetog was ‘n besondere geleentheid in die Romeinse ryk wat mense miskien een maal in hulle leeftyd sou ervaar. Na ‘n oorlog, het die generaal met sy hele gevolg, die groot stad Rome binne gekom met die gevangenes en al die buit wat oorwin is. In sommige gevalle is daar selfs ‘n spesiale toegang, ‘n “arc de triomph” vir die generaal of keiser aangebring. In hierdie prosessie loop die senaat heel voor, gevolg deur trompetspelers wat die koms aankondig. Daarop volg die oorlogsbuit met al die skatte wat verower is, en ‘n wit bul vir die offer wat gebring sal word. 

Na hulle volg al die oorlogsgevangenes in kettings, die leiers, prinse, edeles en konings. Dan kom die drywers, die orkes en die priesters met die wierook wat ‘n lekker geur versprei het. Uiteindelik, het die generaal of keiser, die oorwinnaar gevolg onder die luide gejuig van die groot skares. Dit is hierdie beeld wat gebruik word om ons deelname aan Christus se triomf beskryf. Sommige ruik die wierook, en juig in die oorwinning, maar die gevangenes ruik daardie selfde wierook, en weet dit beteken hulle dood. Watter reuk ruik jy in die triomf van Christus? 

« Older posts Newer posts »