Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 15 of 50)

Gebed is die suurstof van die geloof

Jak 1:2-8

Jakobus skryf in hierdie paar verse oor beproewings en die geloof wat die toets moet kan deustaan. Die doel hiervan is dat ons geestelik ryp kan word. Sodoende kan ons leer om te volhard, om aan te hou sonder ophou. Jakobus sê dat as jy dink dat jy verdere wysheid hieroor nodig het, moet jy dit van God bid. Daar is mense wat bid, maar daar gebeur niks nie! Die rede hiervoor, sê Jakobus, is dat hulle verkeerd bid. Verder het Jakobus dit oor mense wat altyd twyfel, altyd onbestendig is, d.w.s. veranderlik, nie blywend nie en wispelturig. So ’n mens, sê Jakobus, sal niks van die Here ontvang nie. Dit gaan hier onder andere oor die manier van bid ook oor die belangrikheid van die gebed vir die Christen. Iemand het dan ook die gebed die suurstof van die geloof genoem. 

Gebed is ook die vernaamste deel van dankbaarheid teenoor die Here. Om te bid is om te glo dat God daar is en sal doen wat Hy beloof het. 

Die mens kan nie meer in volle oorgawe en ongestoord bid nie. Voor jy gaan slaap, begin jy bid en voor jy die amen uitgespreek het, het jy soms al aan die slaap geraak. God het aan die gelowig die wonderlikste gawe geskenk, naamlik om te kan bid. Iemand anders noem gebed die asemhaling van die siel vir die gelowige. 

Die wonderlike van die gebed is dat dit aan geen bepaalde plek gekoppel is nie. Ons kan en mag orals bid: In die kerk, in die huis, in die trein, in die kombuis, in die kantoor, in die motor. Ons kan en mag en moet vir alles bid: ons studies, ons kerk, ons huwelik, ons kinders, ons landsprobleme, ons gesondheidstoestand, werksomtandighede, eensaamheid, ouderdom en gebreke, ja vir alles! Jesus het dikwels vir die dissipels gesê dat hulle in hulle binnekamer moet gaan om te gaan bid. 

’n Christen sonder gebed is ondenkbaar. As ’n gewlowige nie meer gereeld en opreg bid nie, is dit die eerste en ernstige krakie in sy geloofslewe. Gebed is daarom die asemhaling van jou geloof, die suurstof vir jou hele lewe. “Bid gedurig.” 1 Tes 5:17 

(Bron: Askes, H. 1993. Die Ouderling vandag. bl. 113ev) 

Ora et Labora

Hierdie bekende Latynse spreuk beteken: Bid en werk. Dit wys op die twee

belangrike aspekte van ons bestaan. Die geestelike, dit is om te bid, en die vleeslike

naamlik om te werk.

Die verhouding tussen hierdie twee aspekte het deur die eeue heen baie spanning

veroorsaak. Watter een is nou die belangrikste? Ons kan nie lewe as ons nie werk

nie, maar om te werk is nie al waarvoor ons leef nie. As jy nie werk nie, mag jy nie

eet nie, maar as jy werk bring dit soms uitdagings om tyd te maak vir gebed.

Dit is hier waar roeping ‘n deurslaggewende rol speel. Roeping beteken in kort: om ‘n

uitnodiging te ontvang om deel te kry aan die ewige verlossing wat God gee. God

roep ons deur die evangelie, die blye boodskap, om deel te kry aan die verlossing

deur Sy Geliefde Seun.

Ons word egter vir meer geroep as om net gered te word. Ons word ook geroep tot

diens. Die Griekse woord klessis, wat ons as roeping vertaal, is die grondwoord van

ekklesia, wat uitroep tot gemeenskap beteken. Ons vertaal dit ook met gemeente.

Ons word geroep uit die duisternis tot die lig, maar ons word ook geroep tot

gemeenskap van geloof.

Roeping is aanroeping van God, sowel beroep tot diens. Dit is die twee tafels van die

wet. Liefde tot God en liefde tot jou naaste. Daarvan word beskryf in 1 Korintiërs 12

hoe ons hierdie liefdediens kan verrig in verskeidenheid van genadegawes,

bedienige en werkinge.

Nie almal ontvang dieselfde gawes, dieselfde bediening of dieselfde werking nie. Tog

word ons in die verskeidenheid van gawes geroep tot eenheid in en onder Christus

as Sy kerk. Daardeur word nie net ons ora nie, maar ook ons labora as diens aan

God gewy. Om biddend te werk. Dan word ons deur die geloof, medewerkers van

God, in sy diens, en tot sy eer.

 Lourens (vdm) 

Gebed vir Israel? 

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef 6:12) 

Soos mens seker kan aflei is ek nogal baie lief vir die landjie wat Israel genoem word. Ek wens ek kon al ons lidmate net een keer op toer saamneem vir die ervaring van jou lewe. Nie dat die land opsigself so mooi is nie, want dit is eintlik maar ‘n woestyn en ‘n semi-woestyn, maar die plek raak jou hart aan omdat daar ‘n onbeskryflike geestelike skoonheid betrokke is. Hier het God Homself aan ons geopenbaar soos dit in sy Woord opgeteken is! 

Daarom is daar by my groot pyn en hartseer oor dit wat tans in Israel en Gaza gebeur. Maar so is daar pyn en hartseer oor alle geweld en oorlog elders in die wêreld. Geweld en haat soos ons dit op ons TV skerms sien of hoor, is direk uit die hel aangesteek! Dit saai dood en verwoesting en bring groot mense-lyding en nood. Daarom kan ons maar bid vir vrede in Israel én ook op ander plekke waar haat en oorlog verwoesting saai en mense onnodig laat ly. 

Dit is egter belangrik dat ons moet onthou dat die oorloë tekens is van die eindtyd en dit mag jou hoop op die wederkoms van Jesus versterk. 

Ons gebed moet egter nie maar net uit simpatie vir Israel as land of volkie wees nie, maar vir die WARE Israel, die volk van God, die kerk wat elke dag onder die aanslag/oorlog/stryd teen die te staan kom. Ons stryd is nie teen vlees, en bloed nie… 

Bid dus vir die volharding van die gelowiges in hierdie oorlogsgeteisterde gebiede, maar ook elders waar gelowiges swaarkry, insluitend hier in ons eie land en kontinent. DIE Here alleen kan oorloë laat ophou of in sy plan gebruik, maar Hy wil dat ons staande bly in die geestelike oorlog en dat ons Hom nie sal verloën nie. 

Bid dus ernstig vir die kerk se oorwinning, vir sy vervolgde kerk en vir die spoedige koms van Jesus Christus op die wolke van heerlikheid! 

Ds Maarten

Buite die kerk is daar geen saligheid nie 

Nederlandse Geloofsbelydenis art 28 
1 Joh 4:7-21 (20) 

“Dikwels sê mense in onderhoude dat hulle nog wel in God glo, maar geen erg meer aan die kerk het nie. Hulle wil deel wees van die sogenaamde ”kerk-lose” Christendom. Die kerk het vir hulle te veel sondes, binnegevegte, of is te streng en beperkend. Dis makliker om God te dien sonder ‘n kerk. 

Die NGB (Artiel 28) ontmasker die gesindheid agter sulke uitsprake. Dit bely dat niemand wat sy stand en status ook al is, hom in SELFTEVREDENHEID van hierdie vergadering afsydig mag hou nie”. Dis selftevredenheid wat agter afsydigheid van die kerk skuil. Hierdie selftevredenheid is inderwaarheid ‘n neersien op mede-gelowiges. Dit sê: “Ek is nie soos hulle nie. Ek het hulle nie nodig nie. Ek en God, ons sal allleen regkom, dankie.” 

In ons Skrifgedeelte wys Johannes dat so ‘n houding nie opgaan nie. “Wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, want hy nie kan sien nie” (20). Dis waar dat die kerk baie foute het. Kerkmense is allermins volmaakte mense. Dis ook waar dat geen kerk jou in die hemel sal bring nie. Maar, dis ‘n leuen dat jy God kan liefhê sonder om liefdevol by medegelowiges betrokke te wees. 

Die kerk is die plek waar die liefde van God ontvang en uitgedeel word. Elkeen wat so liefhet is ‘n kind van God en ken God (7). Dink jy werklik dat daar enige saligheid sonder hierdie liefde is? Begin dus vandag om die liefde wat God aan jou bewys het, in alle erns met medegelowiges te deel. Waar mens dit begin doen, word die heerlike wonder van kerkwees sigbaar!” 

Bron. Vergeer Wim. 2007. ‘n Vaste geloof. p.127 

Die Gereformeerde Kerk is Katoliek 

Die kerk glo AAN kerk-wees. Ons glo nie IN die kerk, met die bedoeling dat die kerk ons kan red nie. Ons glo aan die kerk. Ons glo daar moet kerk wees. Want die kerk is die gelowiges wat almal in Christus glo. Ons bely hieroor onder meer in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat “ons glo aan ’n heilige, algemene en Christelike kerk”. In die Belydenis van Nicea bely ons “een, heilige, algemene en apostoliese kerk.” 

Die woordjie wat vir “algemeen” gebruik word is die woordjie “katoliek”. Die Latynse beskrywing is De Ecclesia Catholica. Dit is die algemene kerk. Met algemeen, of dan katoliek, word nie die Rooms Katolieke kerk bedoel nie, maar eerder die kerk wat oral op alle plekke voorkom. Dit is eers later, rondom die 5de en 6de eeu na Christus wat die kerk in Rome, haarself as die primus inter pares, die eerste onder die gelykes verklaar het. Gevolglik het die kerk in Rome aangedring om die algemene kerk vanuit Rome te regeer deur die pous. 

Die Heidelbergse Kategismus in Sondag 21 verklaar egter: “Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente, wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe, vergader, beskerm en onderhou, en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly” 

Dit is dus nie die kerk in Rome wat regeer nie, maar Christus, ons Here, die Seun van die Lewende God. Die kerk behoort aan Hom. Nie die kerkgebou nie, maar die mense. Die mense is die kerk. En die kerk is almal wat deur die eeue, oral op alle plekke op die aarde deur geloof leef. Dit is die ware kerk. Nie die mense wat hulleself onregmatig die naam kerk toe-eien nie, maar hulle wat in geloof en daad bewys. 

Ons gaan hierdie kwartaal die jaar tema afsluit oor wat ons bely van die kerk. Mag u lewe ook daarvan getuig, nie net dat u in die kerk is nie, maar dat u self die kerk is. Dat u aan Christus behoort en Hom bely saam met alle ander gelowiges reg oor die wêreld en deur alle eeue. Immers, buite die kerk is daar geen saligheid nie. 

Lourens (vdm) 

Wedergeboorte 

’n Voorsmaak van die wederkoms! 

Hoe weet jy dat jy die ewige lewe het? Omdat jy gereeld eredienste bywoon, of dankoffers gee, of nie skinder of steel nie? Omdat jy ’n goeie lewe probeer lei? 

Jesus maak met die gelykenis van die jongman dit duidelik dat ’n mens nie die ewige lewe kan kry op grond van jou goeie dade nie. Jy kan nie die ewige lewe verdien omdat jy gebooie nakom soos die ryk jongman gedoen het nie. Jy kan ook nie die ewige lewe kry omdat jy baie vir God opoffer en Hom volg nie, soos die dissipels gedoen het. Die dissipels was, tipies menslik, ontsteld dat God nie hulle dade in ag neem om die ewige lewe aan hulle te skenk nie. Ons Here Jesus verduidelik God se genade wanneer Hy dit duidelik maak dat God se genade ver bokant ons menslike manier van redeneer uitgaan. Jesus verseker sy dissipels daarvan dat wanneer Hy Self op sy glansryke troon sit, hulle ook op trone sal sit. Hulle sal deel hê in die belangrike taak wat Jesus van sy troon af uitvoer. 

Wanneer gebeur dit? Wanneer alles nuut gemaak, as’t ware weergebore, word. ’n Nuwe bedeling breek dan aan. 

Ons kry hier ’n voorsmakie van dit wat gelowiges met Jesus se wederkoms kan verwag wanneer Hy alles herskep. Ten spyte daarvan dat ons goeie dade nie help om die ewige lewe aan ons te verseker nie, plaas God ons in ’n hoër posisie as wat ons selfs voor die sondeval gehad het. Dit doen Hy deur ons Here Jesus wat ons skuld ten volle vereffen het. Die proses om deel te hê aan die ewige lewe het reeds begin. Iemand wat deur God se Gees wedergebore is, kan uitsien na ’n plek in God se koninkryk wat baie heerliker is as wat ons onsself kan indink. 

Ds. EJ de Beer (Edmund) (Laeveld) Uittreksel uit: Almanak 2023 (Sondag 22 Oktober 2023) 

« Older posts Newer posts »