Skrywer: admin (Page 302 of 344)

ELJADA HUIS
Boekenhoutkloofstraat 949, Claremont
012 377 0503 / 060 984 0809(An) / 079 377 5711 (Petro)
eljadahuis@mweb.co.za / www.eljadahuis.weebly.com
Bankbesonderhede: Eljada Huis, Standard Bank, Montana,
Marketlink spaar, 044396058, Bankkode 051001
***********************************************************
14 Februarie 2019 (16)
Goeiedag Almal,
Vanuit ons konstitusie weereens die volgende vers uit Efesiers 4:28:
Laat die een wat steel,(ander belas) nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.
Dit is wat ons hier by Eljada Huis baie graag doen. Dien die Here en nie die mens nie maar ai soos Paulus se – dit wat ek wil doen, doen ek nie, en dit wat ek nie wil doen nie dit doen ek. Bid vir ons hier by EH waar gemoedere soms baie hoog loop.
Ons gee daagliks vir 40-50 mense kos asook naweekpakkies wat net genoeg is vir oorlewing. Dit gaan baie swaar op die oomblik om dit te kan bybring. Ons het vanaf 9 Januarie toe ons oopgemaak het tot gister bykans 3000 etes voorsien en dit net met die genade van Bo. Soveel skenkings het dit ook moontlik gemaak en daarom weer my versoek:
‘n Uitdaging: NET 1blikkie/pakkie/boksie/R50 per maand vir Eljada Huis sal die nood hier aanspreek. Ek vra ouers om hul kinders aan te moedig om te deel in die swaarkry van ander deur ‘n bietjie sakgeld, ‘n blikkie groente, vleis, toebroodjiesmere of koffie, ‘n pakkie suiker of pasta, ”n boksie melk of tee eenkant te sit vir iemand net soos hy maar minder bevoorreg wat nie in ‘n mooi huis bly met liefdevolle ouers en alles wat nodig en soms onnodig is nie. Kom kinders, kom deel ook jul tyd met hierdie kinders – ‘n speletjies oggend of uitneem vir ‘n fliek of so-iets.
Bid, Dink en Doen dan soos die Here van ons eis. Baie dankie by voorbaat.
Ons is waarlik ‘n klomp uiteenlopende geaardhede wat soms ernstig bots en kwetsende woorde uitspring. Ek bid elke dag vir verdraagsaamheid met elkeen in nood. Die trane vloei dikwels onbedaarlik uit man of vrou se oë van ‘n baie diep seer wat ook jarelank daar lê. Ek gesels gewoonlik met elke een wat aansluit maar ook dikwels die wat hier is en hul humeur verloor met kinders wat uiteraard vanuit ‘n disfunksionele huisgesin kom. Berading is so noodsaaklik en ek het nie altyd genoeg tyd in my dag om hulle by te staan nie. Kom help as jy kans sien daarvoor asseblief.
Ons het vanaand direksievergadering en vra ek u voorbidding asseblief. Besluite wat geneem moet word wat ons te alles tye met die Here se hulp doen.
Ons is alweer die doelwit van diefstal. Mense wat hier was en mooi die uitleg van alles gesien het, weet net waar ons swakpunte is. Die Westekant van die huis het nie ogies wat die alarm kan afsit nie omdat ons gedink het dit is nie nodig nie. Maar ‘n skelm uitoorlê mens so maklik. Met die finansies wat ‘n probleem is kan ons egter nie daaraan dink om dit op sekuriteit te spandeer nie want kos is belangriker. Ek wag vir ‘n kwotasie van Ubuntu daarvoor.
Die heerlike reenweer bring ook weer ‘n klein probleempie van natreen . Almal het omtrent sopnat hier opgedaag vanoggend en vra ek dus vir sambrele of reenjassies vir elkeen. Laat weet maar as iemand kan help.
‘n Baie geseende naweek vir elkeen van u. Annatjie
$ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $
ELJADA HUIS FINANSIES
Nadat die Januarie uitgawes betaal is, is ons fondse heeltemal uitgeput en ons het waarlik ‘n ernstige nood. Help asseblief sodat ons volhoubaar vir diegene kan sorg wat in ellende lewe.
Deutoronomium 15:11 sê immers vir ons; Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.”
$ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $
==========================================================
Skriflesing: Ef 1 en Joh 17
DR: Hfsk 1 par. 7-8
Jou naam is nie in die Boek van die lewe geskryf met:
- ‘n Potlood wat kan uitvee nie.
- ‘n Pen waarvan die ink kan vervloei of verdof of “uit-getipex” kan word nie.
- MAAR jou naam is geskryf IN DIE BLOED van Jesus Christus.
Dit maak die troos vas en seker. Sy bloed waarmee Christus ons gekoop het, het ons deel geword. Simbolies eet ons Sy liggaam en drink ons Sy bloed aan die nagmaal en so word Christus se soenver-doenste deel van ons. Dit is deel van ons wese deur God se genade in Christus en kan daarom nie uitgevee word nie.
- God het in Christus uitverkies.
- God het die uitverkorenes aan Christus gegee.
- God roep en trek die uitverkorenes kragdadiglik na Hom.
- God gee aan die uitverkorenes geloof .
Skriflesing: 1Timoteus 6
Teksvers: 1Timoteus 6:6-8
Ons leef vandag in ‘n tyd waarin mense graag vorentoe wil gaan in hulle lewens. Hulle wil graag meer geld en ‘n beter motor en ‘n lekkerder huis bekom. Die mense wat die welvaartsteologie aanhang, glo dat jy as kind van die Here geregtig is op finansiële en materiële voorspoed.
Die Here kom in 1 Timoteus 6:6 om die wins van ons geloof in die Drie-Enige Here te verduidelik. Ja om in die Here te glo, om Hom te dien en te prys, hou vir elke gelowige ’n baie groot wins in. Helaas nie die tipe wins wat sommige mense verwag nie. Wel ‘n wins as iemand tevrede is met wat hy of sy uit die Vader se Hand ontvang het. Elke gelowige weet immers dat ‘n babatjie by geboorte niks in die wêreld ingebring het nie. Verder besef elke gelowige dat jy by jou sterwe ook niks met jou kan saam neem nie.
Die Here gee deur sy Heilige Gees aan elkeen wat in Jesus Christus glo, die genade om tevrede, dankbaar en vergenoeg te wees met alles wat die Here vir ons gee. Ja ons is meer as tevrede en dankbaar vir die feit dat ons kos en klere het elke dag.
Lof is ʼn ander woord vir “om vir God dankie te sê”. Aanbidding is om God te erken vir wie Hy is; lof is om Hom dankie te sê vir wat Hy in jou lewe doen.
Ja, dit is om te erken dat Hy in jou lewe besig is en dat wat daar gebeur van Hom af kom. As jy dus erken dat jou talente en jou gawes van God af kom en jy sê vir Hom dankie daarvoor, dán loof jy die Here. As jy vir die Here dankie sê dat jy gesond is en kan leef, dán loof jy Hom.
Dit beteken dat ons God op baie maniere kan loof. Ons kan stil op sy skoot gaan sit en net vir Hom daar dankie sê. Ons kan lekker luidkeels saam met ʼn orkes vir hom dankie sê vir sy redding en genade. Ja, glo dit of nie, ons kan selfs met stemmige orrelspel Hom heerlik loof. Dit gaan nie oor die manier nie, maar oor die opregte dankie sê.
Ons hoor partymaal na ʼn lekker singsessie dat iemand sê: “Ek het die Here nou lekker geloof”. Dit is goed om daarna lekker te voel, maar die groot vraag is nie of jy lekker gevoel het nie. Die vraag is of God lekker gevoel het.
Lof se doel is om Hom te erken vir wat Hy in jou lewe gedoen het. Dit sal vir God aangenaam wees. Maar kan ek nog die Here loof as dit swaar gaan? Waarvoor moet ek dan vir Hom dankie sê? Natuurlik kan jy God dan nog loof, al is dit net vir die voorreg om Hom te ken en te weet…
Hy sal jou nooit in die steek laat en jou ook nie bo jou kragte versoek nie. Soek dan jou krag in sy krag. Daaroor kan jy die Here vir seker loof.
Uit: Geloof in Aksie-Bybel