Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 233 of 333)

Wingerd of groentetuin?

Skriflesing: 1 Konings 21; Levitikus 25:23
Teksvers: 1 Koning 21:29

Daar bestaan onder ons as gelowiges maklik die gedagte dat as ‘n mens iets reg doen, slegte goed nie met jou gaan gebeur nie. Slegte dinge gaan nie gebeur, net omdat God aan ons kant is nie!

Hierdie idee word deur die verhaal van Nabot en Agab die nek in geslaan. Slegte goed gebeur ook met goeie mense. Eerstens omdat die Here al daar in die paradys die aarde aan sy vloek onderwerp het, en ook omdat God die bose magte toegelaat het om sy kinders te versoek en te beproef sodat ons daardeur kan groei.

Natuurlik is God by magte om dit van ons weg te keer, maar as Hy, soos in die geval van Job, die duiwel toelaat, dan bereik Hy altyd ‘n groter doel daarmee. So kan u en ek nader kom aan die Here en word ons geloof in sy wese geoefen tot groei in die heiligmaking.

Vra jouself vandag net die vraag: Met watter een van die partye in hierdie verhaal sou jy graag identifiseer?

Laai af

Ken jouself! Wees beskeie oor jouself! Roem in God alleen!

Rom 12:3 “…Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.”

God het aan elkeen van ons gawes gegee. Sommige het meer gekry en ander minder. Een gawe is egter nie belangriker as ’n ander nie. Hoe meer gawes jy gekry het, beteken nie jy is belangriker nie, maar jy het ’n groter verantwoordelikheid om al jou gawes reg te gebruik.

Om meer van jouself te dink, is tipies hoe hierdie wêreld ons wil breinspoel. Dit word aan ons voorgehou om altyd te strewe na die belangrikste, die beste, om te presteer, sodat jy, of mense om jou, jou op die skouer kan klop. Dit is in direkte lyn met wat die Bybel aan ons leer. Die gawes wat God jou gegee het moet jy voluit gebruik, nie soos jy wil nie, maar soos wat God wil. As daar die geringste selfvoldaanheid is, soek jy nie meer God se wil nie, maar jou eie wil.

Nee, vra en soek biddend van God, wat is my gawes? Waarin is ek goed? Ken jouself, waarin jy goed is, wat jou gawes is. Erken die gawes wat God aan jou gegee het en gebruik dit biddend tot voordeel van sy koninkryk. Dit beteken om vol blydskap, met dankbaarheid, God te dien en tot voordeel van jou naaste te doen wat jy doen. Paulus noem verder in die perikoop, gawes wat mense ontvang het is die van, profesie, diens, onderrig, bemoediging, om te kan leiding gee, te kan uitdeel en met toewyding en blymoedigheid te werk.

Daarom is dit so belangrik dat ons die gesindheid van Jesus Christus sal navolg. Hy het op ’n donkie Jerusalem binnegery. Hy het nie vir materiële rykdom gewerk nie, alles behoort tog aan Hom. Hy het nagte deur vir sy kerk, vir sondaars gebid. Hy het sy lewe gegee vir son-daars. Hy was bereid om fisies en geestelik, helse pyn en lyding, te ondergaan ter wille van sy mense.

  • Kom ons erken en ken ons gawes wat God aan ons gegee het.
  • Kom ons gebruik dit tot voordeel van die kerk, van ons medemense.
  • Kom ons waardeer ons medemense, prys hulle, met hulle gawes.
  • Kom ons dien God en eer God en loof en prys Hom.

ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »