Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 234 of 329)

Die volkome troos vir God se kinders!

Skriflesing: 1 Kor 2:6-16; 1 Kor 15:35-58
Teksvers: 1 Kor 2:9; 1 Kor 15:36-38,55
HK: Sondag 22: Vraag en antwoord 57,58

Drie maal in die kategismus begin die vrae met die troos.

Vr. 1 Wat is jou enigste TROOS in lewe en sterwe?
Vr. 57 Watter TROOS gee die opstanding van die liggaam aan jou?
Vr. 58 Watter TROOS skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Wat beteken troos? Troos is om iemand wat hartseer is op te beur, moed te gee, te bemoedig, probeer om die verdriet draagliker te maak, om weer hoop vir die toekoms te verkry, om die swaar kry te bowe te kan kom, om weer met vreugde en blydskap te kan lewe? Daarom is die grootste Trooster wat ons het die Heilige Gees wat deur die Woord in ons harte werk. Die Heilige Gees versterk en bemoedig en bekragtig ons met die blye evangelie, met die vaste wete dat in Jesus Christus het ons niks op aarde of hierna te vrees nie. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Die troos wat met my siel gebeur as ek sterf!
  • Die troos wat met my liggaam gebeur as ek sterf!
  • Die troos van die ewige lewe!

Laai af

Die Nuwe Normaal – Eintlik Abnormaal

Ek maak verskoning. Diep. Nederige verskoning. Ek het vanmiddag tussen die inkopierakke byna vir Gert verbygeloop. Daar was trane in sy oë agter die blou masker. Ek het jou regtig nie herken nie, my liewe broer. Nogmaals vra ek om verskoning.

In Venesië kan jy maskers koop. Regte, volgesigsmaskers wat jou voorkoms soos die van ‘n nar laat lyk. Maskers wat die vulgariteite van die eiland van romanse verdoesel. Maskers wat die sonde moet wegsteek. Maskers wat lag oor die pret van die banale. Dan skielik storm dit in jou op, die weerstand, die afsku, die weersin teen die wêreld waar jy gewoon net nie inpas nie. Die wêreld is ons woning nie! Ook selfs nie Venesië waarvan almal droom nie.

Almal dra maskers. Die maskers van pretensie. Niemand moet sien nie. Niemand moet inkyk nie. Niemand moet weet nie. By niemand is ek veilig nie. Voorgee is selfverdediging teen die liefdeloosheid van die ander. Soms net vermoedelike liefdeloosheid omdat ekself net so is. My masker die skild voor my eie narsisme. My eie-ek. Ekself.

Selfs op die eiland van die liefde met sy gondeliers en straatmusikante, kry ek myself nie verlos nie. Agter die vyeblaarmaskers van die massas en die vreemde wêreld kry ek my selfsug nie verberg nie.

Maskers op!

Dis die normaal. Maskerlose maskers.

En toe kom Gert – met sy regte Covid-masker in Checkers – en stuit my in my spore. Sou hy dink: selfs die dominee wil my nie ken nie?

Steeds staan ek botstil. Sien ek ‘n traan in die moment van weerontmoeting? Iets onsigbaars gebeur… ons harte ontmoet … agter die maskers van materiaal.

ABNORMAAL!

‘n Oomblik sien ek ‘n stukkie van sy siel. Hy myne. Verbode, ons mag mekaar nie aanraak nie, dit kan die dood bring! Tog, ons wil. Ons mag nie. Maskers regeer!

ABNORMAAL!

Agter Gert en my maskers kom iets na vore: pyn, alleenheid, kommer, stukke vrees – in ‘n erge graad.

Ons ken mekaar. As geloofsgenote wetend: almal is sondaars. Ek die grootste sondaar, soos Paulus. So ontvang en gebore. En tog broers, verloste sondaars! Niks om weg te steek nie.

En nou die nuwe Abnormaal: regte maskers teen die dood. Teen die vrees vir die dood. Die vyand.

‘n Stil begeerte groei, skree dit uit: Alle maskers moet af! Ook die maskers van skyn, pretensie en voorgee.

Is so iets op aarde tog moontlik! Ja, in beginsel wel: slegs in ware gemeenskap (lees: koinonia) van die heiliges, by ware broer-en susterskap, by ware omgee, liefde, vergifnis, barmhartigheid (lees: warmhartigheid).

Ons hoop die tyd kom (mag die Here ons bewaar en genadig wees en dit bespoedig) dat ons die fisiese Corona-maskers sal kan afhaal, sonder verwyt. Weer normaal aangaan.

Dis die vraag!

Normaal was ons nog nooit. Net Adam en sy vrou was aanvanklik normaal…

Die nuwe normaal, honderd persent sonder enige soort masker, pretensieloos en volkome vry…? Eers in die Nuwe Jerusalem!

Gert, my broer, ons sal mekaar daar weer sien. Dan sal ek jou nie weer verbyloop nie! Ek belowe!

Groete. Jou broer in Christus.

Maarten (vdm)

« Older posts Newer posts »