Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 232 of 329)

Geloof red

Skriflesing: Lukas 8:40-56
Teksvers: Lukas 8:48
HK: Sondag 23

Met Sondag 22 bereik ons die einde van ons geloofsbelydenis. Die belydenis wat so presies uitgelê is oor die betekenis van elkeen van die 12 artikels keer nou terug na ons in persoon en vra: wat is die waarde van al hierdie dinge wat ons bely? Wat is die waarde van jou geloof?

Ons gaan vervolgens stilstaan by die gebeure van twee meisies wie se lewe in gevaar is agv gesondheid met die tema: Geloof red.

  1. Kan jy nog die 5 bekende solismes onthou van die reformasie? Sola Fide… ens
  2. Hoekom sal ons bely dat geloof red, as dit tog net ons Here Jesus is wat kan verlos? Hab. 2 en Romeine 1
  3. Wat beteken die woorde: geregtigheid en regverdigheid?
  4. Watter soort werke kan ons doen om onsself te red?

Laai af

Die groot verrassing wat op ons wag!

Skriflesing: 1 Petrus 1:1-15
Teksvers: 2 Petrus 1:11

Hoe ouer ek word hoe meer dringend vind ek dit dat jy jou Doop sal verstaan en onthou. Alhoewel die Doop geen saligmakende kragte het nie (soos Roomse sou beweer), vind ek dit tog van die grootste trooswaarde dat jy onthou dat God Homself aan jou verbind het en dit in die waterteken van die Doop beseël en bekragtig het. Dit is God se verbondstrou! Dit is iets wat jy jou hele lewe lank moet onthou en vashou! Dit gee krag en sekerheid en hoop.

Dit is egter ook so dat die Doop twee kante het en dat die dwaling van sakramentalisme eintlik net die een kant onthou en die ander baie belangrike kant vergeet!

Petrus wat in sy tweede brief die Gnostisisme aanpak wys weer daarop dat die Doop jou oproep tot verbondstrou van jou kant. Daarsonder sal ons God nie sien nie! Kom ons dink vanmôre weer na oor wat die Doop van ons verwag en wat dán op ons wag…’n groot verrassing!

Laai af

God bepaal hoe ons lewenspad loop

In Oktober 2019 het ons al hierdie jaar se gemeentebedrywighede beplan. Ons het beplan, ons het gebid, ons het God se wil gesoek. Ons het die jaar vol verwagting begin met ’n nuwe predikant en ’n jaar van besig wees in die Koninkryk van God. Ons het die geluide gehoor van ’n virus in Wuhan. Dit was ver van ons af. Ons het nie gedink dat dit ons gaan beïnvloed nie.

Baie min het gerealiseer van die gemeentebeplanning, van die kalender. Feitlik geen gemeentelike aksies, bedrywighede, kon voortgaan nie. Seker die belangrikste het egter gebly en dit is die Lof wat ons aan God bring, die verkondiging van die Woord en ’n omgee vir mekaar, deur die elektroniese media. Oordenkings en preke en ouderlinge wat bel en seker maak dat almal versorg is. Die dissipelskap-aksie wat kos en die Woord bly uitdra het. Susters wat bly werk. Diakens wat omgee en versorg.

Nou het die gevolge van die virus in intensiteit toegeneem. Wat moet ons nou doen? Hoe moet ons dit verstaan?

Niemand weet hoekom God hierdie pandemie toegelaat het nie. Niemand weet wat God se doel hiermee is om dit toe te laat nie. Wat ons wel weet is dat God getrou is en ons nooit alleen sal laat nie. God sal sy kinders behoed en bewaar, nie soos ons wil nie, maar soos Hy wil. Niemand sal siek word, doodgaan, swaarkry, as God dit nie toegelaat het nie.

Daarom moet ons altyd Spreuke 16:9 onthou: “’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.” (’83 NAV)

Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe.” (‘53 Afr vertaling)

Ons wik en God beskik. Ons maak biddend planne, maar God sal laat gebeur soos wat Hy wil of dit toelaat. Daarom moet ons juis in hierdie tyd nie moedeloos word nie. Ons moet nie dink God het ons vergeet nie. Ons moet nie dink dood as gevolg van Covid-19 is toevallig nie. Ons behoort aan God in lewe en in sterwe. My geboortedag en sterfdag is bepaal of ek sterf aan ’n hartaanval, weens ouderdom of ‘n motorongeluk of die gevolg van Covid-19.

Kom ons buig nederig in afhanklikheid voor God.

Kom ons pleit vir sy genade en krag en troos in hierdie tyd.

MAAR kom ons bly God loof en prys en aanbid, want ons is altyd veilig in sy Hand.

Ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »