Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 214 of 328)

Die 2e gebod: Hoe die onsienlik God gedien wil word

(geen eiewillige godsdiens nie)
Skriflesing: Eks 20:1-6; Kol 1:14-23; 2 Kor 3:18
Teksvers: Eks 20:4-6 (2 Kor 3:18)
HK: Sondag 35

Die eerste gebod leer ons WIE ons moet – die Here, God alleen, want daar is nie ander gode nie. Die tweede gebod leer ons HOE ons hierdie God moet dien en hoe nie! In kort verbied God enige eiewillige vorm van godsdiens en gebied (leer) ons om voortdurend te vra of ons godsdiens werklik vir die Here aanneemlik is. As God dan die Onsienlike is, kán en mág ons nie karikatuurbeelde van Hom maak of maar net doen waarvan ons hou nie.

Die Woord staan sentraal in die erediens – nie net die prediking nie, maar ook alles wat ons daar aan God aanbied. Die erediens is egter die voorloper van ons daaglikse lewensliturgie, om alles elke dag te doen “soos vir die Here”. Vra jou dus voortdurend af of dit wat jy doen vir Hom aanneemlik is (Ef 5:10). Dan sal ons nie beelde van God maak nie, maar eerder beeld van God wees!!

Laai af

Vier klein dingetjies op aarde met buitengewone wysheid

“Sprinkane het nie ‘n koning nie en tog trek die hele swerm in formasie.”

Skriflesing: Spreuke 30:24-28; Joël 1: 1-20
Teksvers: Spreuke 30:27; Joël 1: 4,14,16,20a

Miskien het van u al ‘n sprinkaanplaag gesien. Dit is miljoene der miljoene der miljoene sprinkane wat in ‘n rigting trek en elke liewe groenigheid opvreet en wat agterbly is net die kaal veld. Dit is verskriklik wat sulke sprinkaanswerms aan die natuur kan doen. So lees ons van die agtste plaag in Ex 10, die sprinkaan-plaag wat Egipte verwoes het. Die sprinkaan is sekerlik een van die klein diertjies, insekte, wat die mees onheilspellendste een vir Israel was. In die boek Joël word die nasie wat Israel sal aanval vergelyk met ’n sprinkaanswerm. Die vergelyking is skrikwekkend. Maar die sprinkane word in Spreuke beskryf met buitegewone wysheid. Daarom gaan dit nie oor ‘n natuurles nie, maar oor die wysheid van sprinkane wat nie eers ‘n leier het nie. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Geen leierskap vir sprinkane nie. Spreuke 30:27
  • Aardse leierskap vir die mens. 1 Samuel 12:12-14,24
  • Geestelike leierskap vir die gelowiges. Efesiërs 1:22,23

Laai af

Oktobermaand, Reformasiemaand…

In Oktober vier die protestantse kerke wêreldwyd elke jaar die hervorming (of Reformasie). Dit is reeds 503 jaar gelede wat Luther se bekende 95 stellings die aarde geskud het. Op so baie maniere kan ons in 2020 nadink oor die rol tussen kerk en staat, maar veral ook die rol van die kerk self.

Ons kan sekerlik vra of die kerk werklik in die samelewing gemis word? En of ons werklik ook ‘n gemis voel aan kerkwees?

Vandag is daar in Duitsland baie min van die nalatenskap van Luther te bemerk wat die evangelie aanbetref. Dit is opmerklik dat soveel stede Lutherstad heet, maar dan gerig op die mens as volksheld en nie as hervormer nie…

Wat ons vandag ervaar in die bywoning van ‘n erediens en die gemeenskap van geloof is feitlik onbekend aan die moderne Duitse nasie. Die duisternis in Duitsland ten opsigte van die geloof en die evangelie is sigbaar in die volgende illustrasie:

  • Duits, is met sowat 100 miljoen moedertaalsprekers die sterkste moedertaal in Europa.
  • Van al die Duitssprekende kinders in Europa kom sowat 94% nooit ’n erediens of kerk nie.
  • Van amptelike kerklike kant mag daar nie meer onder Jode of Moslems sending gedoen word nie.
  • Teoloë wat die Skrif as Woord van God aanvaar, is ’n klein minderheid …
  • Die honger na die Woord is groot, predikante wat die Skrif onvoorwaardelik as Woord verkondig, is egter baie min.

Sedert Junie vanjaar is die Geref. Kerk Postmasburg die sendende kerk wat dr. Victor d’Assonville na Duitsland stuur vir die voortsetting van sy opdrag daar om aan ’n teologiese skool in Duitsland (RTS – Reformatorisch-Theologisches Seminar Heidelberg) klas te gee om predikante en sendelinge – hoofsaaklik vir die Duitssprekende wêreld – op te lei.

Indien u die VSOD wil ondersteun, en aan ander mense kan bekendstel en hulle kan aanmoedig om hierdie grootse sendingprojek te help dra, sal dit opreg waardeer word. Stuur gerus ‘n epos indien u belangstel om in ’n nuusbrief oor hierdie werk in Duitsland ingelig te word.

Indien u ‘n bydrae wil maak gebruik gerus die besonderhede: Naam: Vereniging vir sending onder Duitssprekendes (VSOD) Bank: ABSA • Tak: Ben Swartstraat • Rekeningnommer: 93 1760 4596.

Mag die Here weer herlewing bring, net soos 500 jaar gelede, nie alleen in Duitsland nie, maar oor die wêreld heen.

Lourens (vdm)

« Older posts Newer posts »