Het u al ooit gedink aan ‘n predikant as iemand met lieflike voete? Dit klink nie heeltemal reg nie. Hoekom sal die dominee se voete lieflik genoem word? Ons vind hierdie beskrywing in Jesaja 52, wat ook deur die apostel Paulus aangehaal word in Romeine 10.
“Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” Romeine 10:13-15 (53-vertaling)
Hier word inderdaad verwys na die “voete” van die persoon wat die evangelie, die goeie nuus verkondig. Met ander woorde: “hoe lieflik is die voetstappe van hom wat die goeie nuus bring!” (83-vertaling)
Hierdie nuusbringers kom egter nie uit hulself nie. Die boodskapper word gestuur. Nie deur mense nie, maar deur God. God is die Een wat die opdrag gee en die stuur werk doen. Dit maak ons taak as gemeente so belangrik om te vra dat God vir ons die regte bedienaar van die Woord sal stuur. Ons as gemeente moet biddend vra na die leiding en die wysheid van God, sodat Hy vir ons die regte boodskapper sal stuur, wat die goeie nuus mag bring.
Immers, hoe kan ons glo, sonder die boodskap van God se verlossing. Hoe kan ons God leer ken, as ons nie van Hom hoor, wie Hy is en wat Hy doen nie? Ons geloof kom deur wat ons hoor, deur die verkondiging van die evangelie van ons Here Jesus Christus.
Daarvoor moet ons voortdurend bid. Ons moet bid dat God getroue en toegewyde boodskappers mag stuur, nie net vir ons gemeente nie, maar in sy kerk en koninkryk. Ons moet bid dat die koninkryk van ons Here mag kom, dat Hy self sy boodskappers uitstuur om sy koms aan te kondig, dat elkeen mag glo, en deur die geloof gered word.
Lourens (VDM)