Open 21:6
“…Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde….”
Vir elke mens is daar ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe, behalwe vir Henog en Elia. Selfs na sy mensheid was daar vir Jesus ’n geboortedag en ’n sterfdag. Dit is weer die einde van nog ’n jaar. ’n Jaar waar ons terugkyk en ook die geweldige impak sien wat dit op ons en die hele wêreld gehad het. Maar die einde van die jaar is dit ook ’n tyd van dankbaarheid. ’n Tyd van dankbaarheid dat ons nog ’n jaar kon leef tot eer van God. Ja en selfs waar ons nie tot Sy eer geleef het nie, het God dit so gemaak dat ons wel tot sy eer kon leef in en deur Jesus Christus se versoeningswerk.
- Vir ons as mense is daar in alles ’n begin en ’n einde.
- Vir Jesus Christus is daar net ’n ewigheid.
As Jesus homself openbaar as die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, dan beteken dit Hy is aan die begin reeds daar gewees. Aan ons einde is Hy steeds daar en sal altyd daar wees. Want Jesus Christus het nie ’n begin en ’n einde nie, maar Hy IS die Begin en die Einde, die Alfa en die Omega.
So vier ons weer Chrisus se geboorte op aarde. Vir ons is dit die begin van Sy lewe op aarde, ja natuurlik as ’n mens, maar Hy is God van ewigheid af. So by God is daar nie’n begin en ’n einde nie, maar ’n Ewigheid. Dit is ons groot troos. Dit is wel die einde van 2021, maar dit is deel van die ewigheid van God.
- Kom ons bly dus glo en bly in vreugde God dien.
- Kom ons geniet ook nog ’n jaar wat God aan ons gegee het.
Weet dat ons nog in vreugde sal leef op aarde totdat God die einde daarvan bepaal het, maar dit is dan die begin van ’n ewigheid by God.
Geniet die rustyd van die einde van die jaar. Mag ons met vreugde ook weer uitsien na die begin van die nuwe jaar.
Geseende Christus fees vir almal toegebid.
Ds. Gerrit