Wanneer Paulus oor dienswerk en goeddoen aan mense handel, dan is sy tema: wat jy saai sal jy ook maai. Mens moet immers aan ander doen wat jy graag sou wou dat mense ook aan jou doen. As ons selfsugtig alles net vir onsself neem, verstaan ons dalk nie die evangelie van Jesus Christus nie!? Hy wat Homself vir ons almal oorgegee het, sy lewe vir jou en my geoffer het!

So lees ons dan Paulus se aanmaning in Galasiërs 6:9,10: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar meeste (veral) aan die huisgenote van die geloof” .

In hierdie ‘goeddoen’ moet ons, ons deur die diakens van die gemeente laat lei. As u dus iemand sien ly of as jy planne vir goeddoen bedink, praat asseblief met die Dagbestuur van die Diakonie, sodat hierdie werk gekoördineer kan word.

Die beginsels wat Paulus gee is dat ons aan ALLE mense moet goeddoen. Wat egter duidelik is dat ons nie so humanisties moet raak dat ons ons eie mense in ons eie gemeente vergeet nie. Die beeld na buite is niks as daar nie ‘n duidelike sterk onderlinge liefdesband na binne is nie.

Tans doen die gemeente onder leiding van die Diakens en in samewerking met die Susters en die Dissipelskapgroep pragtige hulpverlening by haweloses in die dorp. U kan gerus betrokke raak of een oggend saam gaan as julle met die diakonie so reël. Goeddoen is iets wat die hele gemeente doen en nie net ‘n paar diakens namens ons nie!

Terwyl die diakens reeds intens betrokke is by verskeie lidmate wat in ons eie gemeente in nood verkeer, het hulle ook pro-aktief gedink oor die moontlikheid van toekomstige noodlydendes in ons eie gemeente se binnekring – iets wat dalk in die volgende paar weke sou kon intensifeer. Gevolglik het hulle die “SKEP HOOP FONDS” in die lewe geroep waar u en ons almal ekstra kan bydra as voorsorg en versorging van ons eie mense, of volgens Paulus se woorde, “die huisgenote van die geloof”. Hou die beriggewing hieroor vanaf die Diakonie asseblief fyn dop.

Ons vra dat u in die tyd waar ons nog dinge het en kan koop, dink om tog in hierdie fonds te belê vir die moontlike swaar tye wat vir baie van ons of dalk selfs vir ons almal mag voorlê. En as die Here wil en ons daarvan gespaar mag word, sal ons ten minste weet dat ons nie onverantwoordelik met sy gawes om gegaan het nie.

Ons bid u elkeen in hierdie grendeltyd die besondere nabyheid van die Here toe.

Ds Maarten