Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 98 of 332

Jesus se bevel en opdrag: Julle moet mekaar liefhê!

Skriflesing: Joh 15:1-17; 1 Joh 4:7-21; Mat 22:34-40
Teksvers: Joh 13:34; Joh 15:9,12,17; 1 Joh 4:8; Kol 3:14; 1 Pet 1:22; 4:8

Jesus noem homself die ware/egte wingerdstok en sy Vader is die boer en almal wat in Jesus Christus glo, is die lote of takke van die wingerdstok. Die lote of takke word ook in twee kategorieë verdeel, die wat vrugte dra en die wat nie vrugte dra nie. 

Om vrugte te dra, moet die lote of takke gesond wees, vas aan die wingerdstok vanwaar die lote al hulle lewenssappe vandaan kry om vrugte te dra. Dit kan alles net gebeur as daar werklike liefde is. Liefde is die oorheersende en groot begrip van al die verhoudinge in die lewe. 

  • Die Vader het sy Seun lief. 
  • Die Seun het ons lief. 
  • Ons moet mekaar liefhê. 

Oordenking 13 April

Dat ek ly vir Jesus Christus, is goed vir my!

Donderdag 13 April 2023
Lees: 1 Petr 3:17-22 17 “As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.”
Ps 119:75 “Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van u trou.”

Die lyding vir ons as christene gaan toeneem, namate die wederkoms naderkom. Lyding veral omdat ons as christene wil lewe soos wat God wil hê ons moet lewe. Christene wil veral die goeie doen soos wat Paulus aan ons leer in Rom 7:19. Ons wil veral ‘n lig wees vir die wêreld volgens Mat 5:15.

Die goddelose wêreld hou nie van christene wat goed doen nie. Ons lees so duidelik in
1 Petr 2:12 “Gedra julle altyd goed onder die heidene, sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”

Weereens wys Petrus aan ons dat ‘n goeie lewenswandel, nie ‘n waarborg is dat die gelowiges teen lyding gevrywaar sal word nie. Dit is juis as ek goed doen, dat ek na die wil van God soek.

Wat is goed doen of goeie werke? (Heidelbergse Kategismus Sondag 33 vr en antw 91)

“Slegs die…
• wat uit ‘n ware geloof,
• volgens die wet van God,
• tot sy eer gedoen word
en nie die …
• wat op ons goeddunke
• of op oorlgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.”

As ons dus goeie werke doen tot eer van God, sal die wêreld, die Satan en die goddelose mense nie van ons hou nie. Maar as dit tot eer van God is, is dit goed. As ons moet ly of lyding daarom moet ervaar omdat ons goed doen, dan is dit vir ons goed.

Dit kan wees dat God die beproewing oor ons bring vir ‘n heilige doel. 1 Petr 1:6-7 “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7 sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Daar kan ‘n sterk versoeking wees om kwaad met kwaad te vergeld, maar dit word verbied.
1 Petr 3:9 “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.”

Leef dus tot eer van God selfs al moet ons ly in hierdie wêreld twv ons geloof in ons Here Jesus Christus. Ons leef tot eer van God. Ons ly dikwels omdat ons goed doen.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Mý Evangelie!

Skriflesing: 2 Timoteus 2:8

Kom in die gees van die gebeure van die Paasfees in Jerusalem 2000jr gelede, en kom sing en luister na voorlesings en koorsang en prediking oor die grootste en beste nuus van alle tye. 

Dood, maar lewend!

Skriflesing: Romeine 6:1-14; Kolossense 2:9-15
Teksvers: Romeine 6:5

In die Romeine-brief kom die Heilige Gees deur die apostel ons daarop wys dat as ons nie eers vir die sonde sterwe nie, kan ons ook nie eintlik vir God lewe nie. Draai dit nou om: Ons is dood vir die sonde en lewend vir God. 

So kom die opstanding van Jesus Christus tot ʼn werklikheid in ons lewens. 

Kyk hoe dit ook simbolies in die sakrament van die Doop geteken word. 

Jesus op die stembrief

Skriflesing: Matteus 26:47-56; 27:11-31; Josua 24
Teksvers: Matteus 27:17

Dié Paasnaweek in Jerusalem is toe anders. Byna was daar ʼn groot opstand. Dan sou die Romeine weer moes ingryp. Pilatus probeer sy bes om die oproerigheid te beperk. Hy laat die mense kies: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus (Messias) genoem word. 

Barabbas is ‘n figuur van wie ons eintlik niks weet nie en tog speel hy ’n belangrike rol in die lyde van Jesus Christus. Soos by Josua word die volk voor ‘n keuse gestel en kom die naam Jesus op die stembrief, nogal twee maal? 

« Older posts Newer posts »