Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 305 of 345

‘n Dankbare Loflied tot eer van God!

Skriflesing: Psalm 145:1-21
Teksvers: Psalm 145:1,21

  • Besing jy elke dag God se grootheid en almag?
  • Breek jy elke dag in lofliedere uit tot eer van God?

Dawid breek hier in ‘n loflied uit, ‘n lofprysing, ‘n danklied omdat God God is. Omdat God sy Koning is, sy Vader sy Verlosser. Prof. Faan Denkema sê die volgende: “Die Christelike geloof is nie ‘n lewensbeskouing of ‘n stelsel van waarhede nie. Dit is ook nie die somtotaal van reëls en gebooie of ‘n manier van lewe nie. Geloof is veral, ontmoeting met die lewende Verbondsgod.” Dit begin met persoonlik voor God staan. Dit begin met Wie God is, Wat Hy doen en jou opregte persoonlike reaksie daarop.

Ons gaan na drie sake kyk:

  • Prys God as jou God en Koning.
  • Prys God as jou God en Vader.
  • Prys God as jou God en Verlosser.

Laai af

God regverdig?

Jy moet eers gou die gelykenis van Jesus in Matteus 20: 1-16 lees. Die konklusie is dat die eienaar van die wingerd kan doen wat hy wil…

God is die eienaar van alles wat Hy gemaak het. Hy kies sy kinders uit en gee aan hulle die lewe deur Jesus Christus. Dit is sy genade. Hy het baie genade! Baie! Hy kan dit gee vir wie Hy wil, wanneer Hy wil. Hy is die almagtige, vrymagti-ge, soewereine en enigste God! Daarvoor loof en prys ons (en alles wat asem het) die Here!

Daar is mense van die kant van die ongelowiges wat dink dat God onregverdig is. Dit is te verstane. Hulle insig skiet net vér tekort. Dat daar egter gelowiges is wat dink dat God onregverdig is omdat Hy vir sommige red en ander nie, gaan mens se verstand te bowe. Ek as verloste word dus “onregverdig” behandel.

Mense raak jaloers op mekaar as jy soos die wêreld na dinge kyk. In die wêreld is dit net die vinnigstes wat wen, en die eerstes kry die trofee. By God werk dinge egter ‘n bietjie anders, of soms heeltemal anders, ja selfs soos teenoorgestel-des… Daarom eindig die gelykenis met die sg. absurde: “Die wat laaste is sal eerste wees, en…”

God is nie regverdig omdat Hy vir alle mense dieselfde gee of dieselfde kanse gun nie. Nee, as God in daardie opsig regverdig moes wees, sou Hy geen ander keuse gehad het as om ons almal in die helse vuur te gooi nie. Ek glo nie dit is wat jy wil hê moet gebeur nie.

God is regverdig in die sin dat Hy geen sonde het of doen nie, en dit ook nie kan aanvaar nie. Hy kan wel daarmee ‘n plan maak, want Hy is soewerein (kan doen wat Hy wil). Hy het sy Seun gegee as die plan vir die wegneem van sondes en daarom vergewe Hy om-Christus-wil telkens weer.

Gaan aan die Nagmaal met die wete dat jy ‘n regverdige God dien. Die nagmaal-tekens is simbole van die plan wat Hy gemaak het om ‘n einde te maak aan son-de en straf.

Ds Maarten

2019

Elke nuwe jaar bring nuwe uitdagings, nuwe geleenthede in jou lewe. Dit begin by kinders wat gebore word, kinders wat skool toe gaan, universiteite toe gaan, gaan werk, verlowings, troues, nuwe werke, werksuitdagings, aftredes, sterftes. Elke jaar hou nuwe sake in vir elke mens. Party is lekker en party is nie lekker nie.

Dan is dit ook so dat baie mense nuwejaarsvoornemens het, dit omdat ons as mense die ewige optimiste is met hoop of vertroue dat dit beter sal gaan of soms nie. Nuwejaarsvoornemens word na skatting, in meer as 90% van die gevalle, nie volhou nie. Dit is tog of mense vandag al versigtiger raak met nuwejaarsvoorne-mens omdat die praktyk dikwels wys dat dit net nie volgehou word nie.

Hoe moet ons as Christene oor 2019 dink?

In die eerste plek moet ons altyd onthou dat God se wil sal geskied. God se Raadsplan staan vas. God is van ewigheid tot ewigheid die enigste, ware, lewen-de, getroue Verbondsgod. Wat God bepaal het sal gebeur. Ook wat God toelaat sal gebeur.

Daarom moet ons eerstens oor ‘n nuwe jaar dink as ‘n nuwe geleentheid om steeds in diens van God te staan, tot Sy eer en tot Sy verheerliking. As ons eer-stens dink aan God se wil dan is dit sekerlik die opsomming van die wet wat ons lees in Mat 22:34-44. Dit gaan oor die liefde vir God en die liefde vir ons naaste. Liefde moet met die daad bewys word. Daarom moet ons God dien met alles wat ons is en het.

Om Hom te dien is om aktief Hom te loof en te prys, om aktief te bid, om aktief deel te wees, meelewend te wees met die kerk om myself met alles wat ek is en het aan God toe te wy. Paulus gee ‘n baie goeie opsomming van wat God vir ons wil en wat God van ons verwag in 1 Tes 5:16-24. Mag ons almal onsself opnuut voorneem om ons hele lewe aan God te wy, sodat God meer sal word in ons lewens en ons minder. Joh 3:30

Ds Gerrit

Trane word vreugde

Skriflesing: Jeremia 31 en Matteus 2
Teksvers: Jer 31:15,16 asook Matteus 2:18

In Matteus 2: 16-18 word vertel dat Herodes, toe hy agtergekom het dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, woedend geword het. Daarom het hy sy soldate na Betlehem en die hele omgewing gestuur om al die seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. So het die profesie van Jeremia 31:15 in vervulling gegaan. Daar staan dat daar ’n gekerm vanuit Rama gehoor was, ’n gehuil vol hartseer, want Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders was nie meer daar nie.

Teenoor die hartseer van Ragel het die Here egter volgens Jeremia 31:16 gesê dat die treurendes gerus maar stil kan word. Hulle hoef nie meer te huil nie en hulle hoef ook nie meer trane in hulle oë te hê nie! Die Here belowe dat daar teenoor al die swaarkry, ‘n heerlike verwagting sal wees. Die spreekwoordelike kinders van Ragel sal uit die vyand se land terugkom. Ja daar sal ’n toekoms vir haar nageslag wees.

Wat is dit wat Ragel se diep seer, wat sy in Rama ervaar het, in vreugde sal laat kan verander?

Hoe kan daar vreugde in jou lewe wees ten spyte van seer en swaar?

Laai af

« Older posts Newer posts »