Page 249 of 345
Skriflesing: Rigters 6:1-7; 7
Teksvers: Rigters 6:13 en 23
Magteloosheid lei tot ‘n gevoel van betekenisloosheid. Omdat Gideon voel dat hy niks aan sy omstandighede kan doen nie, voel hy ook nikswerd. Hy voel dat die Here sy kinders vergeet en in die steek gelaat het… Maar dan verander alles… Die Here roep en stuur Gideon met ‘n besondere opdrag!
Soms voel ons ook soos Gideon, en soos Moses, dat ons die genade van die Here nie waardig is nie. Soms tref die lewe so hard dat ons nie eintlik meer kans sien nie. Dan wil ons eerder moed opgee en van die Here vergeet.
Die Here is egter getrou aan sy verbondsbeloftes. Hy wil ons red, Hy wil uitkoms gee. Dit is ook die teken van sy verbond by die doop. Die water is ‘n teken van God se getrouheid in sy verlossing. Ons kan alleen maar in die geloof daaraan vasgryp.
So bring die Here vrede en nie teëspoed nie.
Skriflesing: 1 Kor 2:6-16; 1 Kor 15:35-58
Teksvers: 1 Kor 2:9; 1 Kor 15:36-38,55
HK: Sondag 22: Vraag en antwoord 57,58
Drie maal in die kategismus begin die vrae met die troos.
Vr. 1 Wat is jou enigste TROOS in lewe en sterwe?
Vr. 57 Watter TROOS gee die opstanding van die liggaam aan jou?
Vr. 58 Watter TROOS skep jy uit die artikel van die ewige lewe?
Wat beteken troos? Troos is om iemand wat hartseer is op te beur, moed te gee, te bemoedig, probeer om die verdriet draagliker te maak, om weer hoop vir die toekoms te verkry, om die swaar kry te bowe te kan kom, om weer met vreugde en blydskap te kan lewe? Daarom is die grootste Trooster wat ons het die Heilige Gees wat deur die Woord in ons harte werk. Die Heilige Gees versterk en bemoedig en bekragtig ons met die blye evangelie, met die vaste wete dat in Jesus Christus het ons niks op aarde of hierna te vrees nie. Ons gaan na drie sake kyk:
- Die troos wat met my siel gebeur as ek sterf!
- Die troos wat met my liggaam gebeur as ek sterf!
- Die troos van die ewige lewe!
Ek maak verskoning. Diep. Nederige verskoning. Ek het vanmiddag tussen die inkopierakke byna vir Gert verbygeloop. Daar was trane in sy oë agter die blou masker. Ek het jou regtig nie herken nie, my liewe broer. Nogmaals vra ek om verskoning.
In Venesië kan jy maskers koop. Regte, volgesigsmaskers wat jou voorkoms soos die van ‘n nar laat lyk. Maskers wat die vulgariteite van die eiland van romanse verdoesel. Maskers wat die sonde moet wegsteek. Maskers wat lag oor die pret van die banale. Dan skielik storm dit in jou op, die weerstand, die afsku, die weersin teen die wêreld waar jy gewoon net nie inpas nie. Die wêreld is ons woning nie! Ook selfs nie Venesië waarvan almal droom nie.
Almal dra maskers. Die maskers van pretensie. Niemand moet sien nie. Niemand moet inkyk nie. Niemand moet weet nie. By niemand is ek veilig nie. Voorgee is selfverdediging teen die liefdeloosheid van die ander. Soms net vermoedelike liefdeloosheid omdat ekself net so is. My masker die skild voor my eie narsisme. My eie-ek. Ekself.
Selfs op die eiland van die liefde met sy gondeliers en straatmusikante, kry ek myself nie verlos nie. Agter die vyeblaarmaskers van die massas en die vreemde wêreld kry ek my selfsug nie verberg nie.
Maskers op!
Dis die normaal. Maskerlose maskers.
En toe kom Gert – met sy regte Covid-masker in Checkers – en stuit my in my spore. Sou hy dink: selfs die dominee wil my nie ken nie?
Steeds staan ek botstil. Sien ek ‘n traan in die moment van weerontmoeting? Iets onsigbaars gebeur… ons harte ontmoet … agter die maskers van materiaal.
ABNORMAAL!
‘n Oomblik sien ek ‘n stukkie van sy siel. Hy myne. Verbode, ons mag mekaar nie aanraak nie, dit kan die dood bring! Tog, ons wil. Ons mag nie. Maskers regeer!
ABNORMAAL!
Agter Gert en my maskers kom iets na vore: pyn, alleenheid, kommer, stukke vrees – in ‘n erge graad.
Ons ken mekaar. As geloofsgenote wetend: almal is sondaars. Ek die grootste sondaar, soos Paulus. So ontvang en gebore. En tog broers, verloste sondaars! Niks om weg te steek nie.
En nou die nuwe Abnormaal: regte maskers teen die dood. Teen die vrees vir die dood. Die vyand.
‘n Stil begeerte groei, skree dit uit: Alle maskers moet af! Ook die maskers van skyn, pretensie en voorgee.
Is so iets op aarde tog moontlik! Ja, in beginsel wel: slegs in ware gemeenskap (lees: koinonia) van die heiliges, by ware broer-en susterskap, by ware omgee, liefde, vergifnis, barmhartigheid (lees: warmhartigheid).
Ons hoop die tyd kom (mag die Here ons bewaar en genadig wees en dit bespoedig) dat ons die fisiese Corona-maskers sal kan afhaal, sonder verwyt. Weer normaal aangaan.
Dis die vraag!
Normaal was ons nog nooit. Net Adam en sy vrou was aanvanklik normaal…
Die nuwe normaal, honderd persent sonder enige soort masker, pretensieloos en volkome vry…? Eers in die Nuwe Jerusalem!
Gert, my broer, ons sal mekaar daar weer sien. Dan sal ek jou nie weer verbyloop nie! Ek belowe!
Groete. Jou broer in Christus.
Maarten (vdm)