Page 236 of 345
Skriflesing: 1 Kor 11:27-33
Teksvers: 1 Kor 11:27-29
HK: Sondag 30b vr en antw 81,82
Die nagmaal moet met die regte gesindheid, kennis, vertroue in geloof bedien en gevier word. Die betekenis van die “gewone brood en wyn” moet ten volle verstaan, gerespekteer en in opregtheid gebruik word. Daarom is daar ’n spesiale waarskuwing oor die gebruik van die nagmaal. Dit is ’n ernstige saak as jy na die Nagmaalstafel kom sonder dat jy jou hart en denke daarvoor voorberei het. Dit is net so ’n ernstige saak as jy na die nagmaal, “sommer maar net” as ’n gewoonte gebruik. Die nagmaal “VERSTERK” ons telkemale in die geloof. Daar moet ’n geestelike groei en versterking wees telkemale as ons nagmaal gebruik. Met die regte gesindheid ontvang ons die Here se ryke seëninge ook in die nagmaal. Daar is drie sake waarna ons gaan kyk wat die regte gesindheid bewerk.
- Dink terug aan die kruisiging. v23-26a
- Dink vooruit na die wederkoms en die hiernamaals. v26b
- Dink aan nou jou geloof en jou harsgesindheid.v27-28,31-32
Skriflesing: Rut 1:1-22
Teksvers: Rut 1: 13b,16 en 20-21
Soms kan ons deur woede en verbittering onsself van al ons bekendes en geliefdes vervreem. Dit gebeur baie keer as ons verkeerde besluite geneem het, of as buitengewone omstandighede veroorsaak dat ons kosbare dinge moet prysgee.
Ons staan vanoggend stil by die lewe van Rut en Naomi, waar ons duidelik sien hoe Naomi se verbittering haar identiteit vervreem sodat sy nie meer Naomi, die lieflike wil wees nie, maar Mara, die verbitterde.
Om Namakwaland se blomme te gaan kyk is ‘n groot voorreg en eintlik ‘n móét vir elkeen wat dit kan doen. Kyk ek na ons foto’s van die afgelope naweek dan besef mens jy kan die prentjie-mooi land nie op film vaslê of oorvertel nie. Die Here het kwistig sy verfkwas gebruik en ‘n wonderwêreld opgetower vir ons om te sien en Hom te verheerlik.
Psalm 126 kom by my op soos ons deur die semi-woestyn van Namakwaland en die Knersvlakte ry. Eintlik is dit ‘n dorre en barre wêreld, waar dit meesal met temperature rondom die veertig grade worstel. So ook die Suidland van Israel. Die Hebreeus gebruik die naam van die Negevwoestyn suid van Judea. Harde wêreld! Dorre aarde, ja, maar laat dit net reën in die winter, dan kom die blomme in die vroeë lente in krag uit die aarde, net soos in die Weskaap van Namakwaland!
Die digter van hierdie psalm roep in herinnering dié kere dat God ingegryp het en hulle lot drasties verander het. Nou vra hy dit moet weer gebeur. Die woestyn kan ‘n lushof word, maar net die Here kan so iets vermag.
Ook ons gebed is vandag so. Ons soek weer die vreugde van die vryheid van pandemie en misdaad en korrupsie. Ag Here, verander tog ons lot, soos u die Negev in waterstrome en lentebloeisels verander. Net u kan dit doen omdat Jesus dit vir ons met sy bloed gekoop het.
Bid maar hierdie gebed gereeld in jou trane, want as God verhoor sal jy met vreugde maai wat jy gesaai het! (vs6)
Eintlik is ons gebed dat die groot verandering van die wederkoms kom wanneer Hy ons van hierdie woestynlewe kom verlos, en die poorte van die paradystuin oopsluit: Maranata, kom Here Jesus, ja, kom gou!
Ds Maarten