Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 217 of 345

Wapens vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen

Skriflesing: 2 Kor 5:11-6:12: Ef 6:10-20
Teksvers: 2 Kor 6:6,7; Jes 55:6

‘n Bekende en tog ‘n onbekende vyand is besig om die wêreld aan te val. Ons is almal baie bang vir hierdie vyand wat ons nie kan sien nie, maar die gevolge van sy teenwoordigheid beleef. Ons beleef die gevolge met inperkings, met siekes met oorvol hospitale, met selfs die dood. Die vyand self, die Covid 19 virus met al sy variante, kom van Satan self. Die doel is om God se kinders van Hom af weg te trek vanweë ongeloof, kleingeloof, dalk verwyte ens. Op allerlei manier is die Satan elke dag besig om die kerk, Christene aan te val en te probeer oorwin. Paulus verduidelik hier aan die gemeente van Korintiërs sy wapens, aanvals- en verdedigingsmetodes en sy doel met sy dienswerk in hierdie stryd.

  • Paulus se wapens.
  • Paulus se aanvals en verdedigingsmetodes.
  • Paulus se doel.

Ek en my Huis, ons sal die Here dien

My gesin en die verbond in die 21 ste eeu 

Die geykte woorde van Josua aan die volk op die vooraand van sy vertrek na die ewige Kanaan, is diep gesetel in die verbond. Dit is ook vir ons ‘n herinnering van ons eie verbondsaandeel deur die doop en belydenis van dieselfde belofte.

Ons het die afgelope jaar, en vir die voorsiene toekoms ‘n andersoortige geleentheid in die wyse waarop ons gesinslewe funksioneer met kinders wat tuis bly en ouers wat van die huis af werk.

Hierdie andersoortige noodsaaklikheid het besondere geleenthede tot gevolg, wat in die “normale” gejaagde lewe nie altyd moontlik was nie. Dit het egter ook ons gesinsbestaan met nuwe uitdagings gekonfronteer.

In die Bybelskool van die eerste kwartaal gaan ons in besonder ons aandag fokus op wat die Bybel ons leer oor huisgesin, huwelik, ouerskap en al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Ons gaan so bietjie kyk na die moderne vorm van geslagsidentiteit en die “woke” en “cancel culture” wat al hoe meer ‘n realiteit word. En ons sal by die gewone “hoof-pyne” stilstaan waarmee ons as gesinne daagliks te doen kry.

Die bedoeling is nie om ‘n huwelikskursus te wees of ‘n gesinsberading of terapie nie, maar eerder ‘n doodgewone benadering van elke dag se gesinslewe oor die dinge wat ons soms vergeet.

As die Here wil, sal ons Dinsdag, 16 Februarie afskop met die inleiding. Om die toegang te vergemaklik sal dit ook beskikbaar wees per internet uitsending. Ons wil graag kontak opbou met almal wat die geleentheid wil saam bywoon. Stuur asseblief ‘n boodskap aan ds Lourens by 082 5292 330 vir verdere inligting.

Lourens (vdm)

Uitdagings – 2021 – Geleenthede

Ons het gedink 2020 was ‘n moeilike jaar. Ons het gedink, in 2021 gaan alles net vir ons beter gaan, en gaan alles weer terugkeer na ons normale omstandighede soos voor 2020, ten minste wat die kerk aanbetref. Wat ‘n teleurstelling om weer ingeperk te wees met geen kerkdienste meer nie. Wat ‘n teleurstelling nadat die kerkraad besluit het ons gaan weer ten volle met die kerkaktiwiteite aan en nou kan ons nie. Niks werk uit soos wat ons graag wil nie. Maar die Psalmdigter sê ook in Psalm 119:71 “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” Daarom weet ons ook dat God is altyd en steeds in beheer en God regeer. Daar sal nie ‘n haar van ons hoofde val of God weet dit nie (Mat 10:30). Ja verseker wil die Here hê dat ons Hom saam moet dien as ‘n gemeente wat ywerig saamkom rondom die Woord van God, maar wat gebeur nou? Ons kan in sak en as gaan sit en treur omdat ons so ingeperk is, of ons moet die beste gebruik maak van elke geleentheid. Ons moet die tyd uitkoop. Ons lees in Ef 5:16,17 “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. 17) Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” So is daar in 2021 baie geleenthede, afgesien van wat die president op 15 Februarie gaan sê. Ons mag God steeds vrylik dien en aanbid in ons huise. Ons mag steeds inluister en so meedoen aan die eredienste, al is dit oor die internet, selfoon of radio. Daar is altyd geleentheid om voorbidding te doen, sonder ophou, vir ons mede-broeders en susters en kinders, vir die kerk, vir die owerheid vir die wêreld. Die tyd vir bekering en regmaak en terugkeer na God is nou. Elke huisgesin het ‘n Bybel. Niemand kan sê dat hulle nie die Here kan dien nie. Maak gebruik van elke geleentheid om God te aanbid en te dien. Een van die belangrikste plekke is tog om in jou binnekamer te gaan bid, (vgl Mat 6:5-9). Daar is baie geleenthede weer in 2021 om God te dien en te aanbid en te loof en te prys. Aanbid en dien God met entoesiasme en opregtheid. Dien Hom met ywer en liefde. Moet nie ophou om met jou medegelowiges intens mee te leef deur vir mekaar te bid nie. Sien uit na die dag dat ons weer as gemeente bymekaar kan kom om voluit in alle fasette van kerkwees, God te aanbid en te dien. Intussen lees jou Bybel, bid vir mekaar en dien God in liefde. Daar is talle geleenthede om God te dien.
Mag U ‘n geseënde 2021 beleef en mag u elke geleentheid aangryp.

Ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »