Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 190 of 345

God se tranefles

Skriflesing: Psalm 56
Teksvers: Psalm 56:9

Vandag geld in die kerkverband (GKSA) as ‘n algemene dag van verootmoediging van die kerk voor die Here. Ons wil onsself persoonlik en gesamentlik voor die grote God verneder en om sy genade smeek. Dit moet ons doen met trane! Eerlike trane van selfverloëning en sondebelydenis. 

Volgens die psalm van Dawid het die Here ‘n simboliese fles waarin Hy ons trane opvang en bêre om dit heeltyd in gedagte te hou. Die Here ken jou trane! Al jou trane. Self het Hy ook trane oor ons gestort. Gaan met al jou trane na die Here toe. 

Bekeer julle en GLO die EVANGELIE!

Skriflesing: Mark 1:1-15
Teksvers: Mark 1:15
HK Sondag 7 vr. & antw. 22

Jesus preek bekering en geloof.

Jesus se preek het gehandel oor:

  • Die Evangelie van God.
  • Die Evangelie van die Koninkryk.
  • Die Evangelie van Jesus Christus.

Die Apostel Paulus noem dit:

  • Die Evangelie van die Genade van God. Hand 20:24; Ef 2:8,9

Daar is net een Evangelie. (Gal 1:1-9)

  • Hierdie is die Evangelie van wat Jesus Christus aan die kruis vir ons gedoen het. (1 Kor 15:1-11)
  • Maar die feit dat die Evangelie naby gekom het, vra BEKERING. Hand 20:21

Die Rooidag skyn al duidelik! God is voor jou, agter jou en by jou!

Skriflesing: Jes 58:1-14
Teksvers: Jes 58:8

Die helder Môrester skyn al helderder. Die Rooidag is aan die breek. Ons weet die dag gaan aanstons hier wees. Dit is die voorreg wat ons as Christene het. Ons weet dat die wederkoms is naby. Presies wanneer sal ons nooit weet nie, maar ons weet dit is naby. Maar om gerustheid te kry moet ons besef dat ons sondig is, dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat die wederkoms naby is, as Hy ons kom haal om vir ewig by Hom te wees.

Jesaja kry drie opdragte:

  • Die Rooidag moet ons wakker maak.
  • Die Rooidag moet ons tot dade lei.
  • Die Rooidag lei tot die helder lig.

Die Brullende Leeu

“Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en …” – 1 Petrus 5:8 

Die laaste waarskuwing van die ou apostel Petrus aan die kerk in die wêreld is om nie in die illusie te leef dat julle welkom moet voel in hierdie wêreld nie. Vanaf die heel eerste woorde in die brief dra die lesers die identiteit van “vreemdelinge” (1 Pt 1:1). Hier kry die skrywer van die Heid Kategismus ook die feit dat ons drie aartsvyande/doodsvyande het nl. die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur (Vr en Ant 127, Sondag 52). 

Daarom word ons opgeroep tot waaksaamheid. Letterlik sê die apostel dat ons nie onder die invloed (dronk) moet wees van die teorieë en idees (ideologieë) van die tyd nie. Ons is van ‘n ander koninkryk en moet ons gedagtes skoon hou van die wêreld. Dit sal daartoe lei dat ons deur die wêreldse mense gehaat word, en dus verwerp en vervolg word. Daar is ‘n komplot teen die kerk. Julle moet nie in die illusie leef dat die owerheid(e) ons voordeel in gedagte het nie. Jy moet nugter wees beteken dat jy mooi moet nadink oor wat werklik aan die gang is! 

Dit is dan duidelik dat die duiwel ons teenstander/vyand is. Hy weet dat hy nie teen die Leeu van Juda opgewasse is nie. Hy kan God nie teenstaan nie. Nou vat hy sy kant op die mense van God se koninkryk. Die draak is die teenstander (satan) en die duiwel en slang van ouds (Op 12:9) en hy staan die vrou, d.i. die bruidskerk van Christus teen. 

As ons hom weerstaan sal hy wegvlug (Jak 4:7)! So het Jesus in die woestyn hom weerstaan en hy het gevlug. Maar so het die Leeu van Juda aan die kruis gebrul en die duiwel en sonde en die dood verslaan. Die duiwel weet dat hy min tyd het, want hy is die gekweste leeu (Op 13:3). Dit maak hom nog gevaarliker. 

Wees dus wakker. Waaksaam. Maak jou geloof en dié van jou kinders standvastig deur die Woord te ondersoek en te glo en te leef en openlik teen die wêreld in te getuig. En die Here sal jou seën en jou deur die wapenrusting van God (Ef 6) die krag gee om staande te bly. 

En wie tot die einde toe volhard sal gered word (Mat 24:13). 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »