Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 130 of 345

Die Gees getuig deur die water en bloed

Skriflesing: 1 Johannes 5:1-15
Teksvers: 1 Johannes 5:5 -10

Deur die geloof alleen: Sola Fide. Deur die geloof alleen kry ons deel aan God se genade. Elkeen wat Glo in Jesus Christus is uit God gebore. Dit is hulle wat deur die liefde van God gedring en nuutgemaak word. Dit is hulle wat God liefhet met die liefde waarmee Hy ons eerste liefgehad het. Deur die geloof oorwin ons die wêreld. 

Hoe kan ons anders as om te getuig van die oorwinning in Christus. God self getuig deur die water en die bloed. Dit is die Gees wat getuig want die Gees is die waarheid. En elkeen wat deel het aan Christus deur die krag van die Heilige Gees, getuig dat hulle kinders van God is. 

Vanoggend sien ons die getuienis van die Heilige Gees deur die water en die bloed, want elkeen wat in die Seun van God glo, het die getuienis in hulself. 

Hervormingsondag

Vandag is ‘n besondere dag in die kerkgeskiedenis. Ons ken die laaste Sondag van Oktober as Hervormingsondag. Dit was op hierdie dag in 1517 wat Martin Luther die bekende 95 stellings teen die kerkdeur van die Schlosskirche in Wittenberg geslaan het, wat die koers van die geskiedenis sou verander. 

Dit was nie soseer die 95 stellinge in opsig self wat die verskil gemaak het nie, as die insig wat Luther gehad het in die Skrifte. Natuurlik was daar opponerende opinies, maar selde was daar soveel oortuigende vasberadenheid waardeur die gewete van die mens gebind word deur die Woord van God. 

Die Rooms Katolieke gebruik van aflate waardeur mense se siele losgekoop word uit die vagevuur en die noodsaaklikheid van goeie werke wat meriete verdien was totaal teenstellend met die Bybelse getuienis van verlossing deur geloof. 

Romeine 1:“16Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. 17Want daarin word geopenbaar dat die •geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” 

Vandag kan ons hierdie getuienis van geloof saam met ons broers en susters wat belydenis aflê, gedenk. God spreek ons vry alleen op grond van ons geloof! Die Evangelie is ‘n krag van God wat red. 

So kan elke lidmaat vanoggend getuig van hulle lewens wat drasties verander is deur hul geloof in die Seun van God. Soms vergeet ons hoe heerlik die verlossingsbelofte van God se Blye Boodskap is. Ons raak so maklik vasgevang in die sorge en belange van die lewe dat ons die uitsonderlikheid van ons Here Jesus Christus miskyk in die algemene bekendheid. 

Mag ons vandag weer herinner word aan die kosbare getuienis van ons geloof. Mag die Heilige Gees weer nuwe vreugde en opgewondeheid wek in jou hart deur die tekens van water en bloed. 

Romeine 10: “9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.” 

Lourens Venter (vdm) 

« Older posts Newer posts »