Page 129 of 345
Skriflesing: Mat 19:1-12
Teksvers: Mat 19:3b
HK Sondag 41
Jesus is besig met van sy laaste onderrig op aarde. Die aanvalle teen Jesus en teen die Woord word net al feller. Die Fariseërs probeer alles om Hom vas te trek sodat hulle Hom kan aankla. Hulle het Hom alreeds probeer vastrek met vrae oor die Sabbat en tekens maar hulle kon Hom nie vasvra nie. Nou kom hulle met ‘n baie kontroversiële en belangrike vraagstuk.
“Mag ‘n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?”
- Die begronding van die huwelik. Mat 19:3-6
- Die verbreking van die huwelik. Mat 19:7-8 Mat5:27-30
- Die huweliklose gelowiges. Mat 19:9-12; 5:31-32
(DIE BLOED VAN DIE MARTELARE IS DIE SAAD VAN DIE KERK)
Skriflesing: Handelinge 1:8 en 7:54-8:40; Openb 6
Teksvers: Handelinge 8:1-4
Vergelyk gerus Handelinge 1:8 met Hand 8:1… Dieselfde, net andersom! Jesus Christus wat sien hoe sy kerk reageer op die opdragte wat Hy hulle self gegee het, neem nou die omstandighede en lei hulle (of ‘forseer’ hulle) daardeur om gehoorsaam te wees.
Vandag is
International Day of Prayer for the Persecuted Church.
Ons dink vandag aan al ons broers en susters wêreldwyd wat prooi geword het van die vervolging van die kerk van Christus. Tog kan ons nie maar net eenkant staan nie. Die vervolging het ook al tot naby aan ons gekom en die vraag wat ons moet vra: Wat wil die Here daarmee vir ons sê? Wie ore het het moet luister!
“Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” – 2 Tim 3:12
Vandag, 6 November, is afgesonder as Internasionale Biddag vir die vervolgde kerk. Die bedoeling is dat ons mekaar as gelowiges oproep om nie van ons broers en susters wat weens hulle volharding in die geloof swaarkry, te vergeet nie. Die ‘lyding’ waarna in die Bybel gereeld verwys is nie maar net die armoede of siekte wat ons dikwels oorkom nie, maar eerder die aanslag op die lewe van hulle wat glo. Volgens die bostaande teks is dit een van die dinge wat noodwendig die getroue kerk van die Here sal oorkom. As ons dus die voorreg van vryheid van aanbidding geniet moet ons nie in ons gerief en gemaksones van die gelowiges wat in ander plekke waar daar vervolging is, vergeet nie.
Vervolging van gelowiges was in die geskiedenis deel van die swaarkry van die kerk onder die Romeinse bewind en later weer die Protestante (die aan Hugenote, ens) onder die vervolging van die Roomse Kerk! Deesdae is daar egter ‘n geweldige toename van die openlike en blatante vervolging van die kerk in baie lande in die wêreld. Volgens Geopende Deure se waarnemings-verslag is daar reeds 12 lande in Afrika wat onder die 50 lande tel waar die vervolging van Christene die ergste en gevaarlikste is! (kyk gerus onder opendoors.org.za)
Die bedreiging van ons geloof kom dus stadig maar seker nader en moet ons nie op ons louere sit nie, maar onsself en veral ons kinders voorberei om gereed te wees as sodanige blatante vervolging ook deel van die kerklike lewe in SA sou word. Wat egter netso gevaarlik kan wees is die subtiele aanslag op ons en veral ons kinders. Die antichris is aan die kom en die hele wêreld wil vir sy verskyning homself gereed maak. Hy sal die kerk so vervolg dat dit selfs lyk asof hy gaan oorwin.
In 2 Tess 2 lees ons egter: “en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig.”
Dit blyk dus dat die vervolging van die kerk ook deel is van die tekens van die tyd, die tyd dat Jesus Christus as oorwinnaar finaal weer op die wolke sal kom om sy kinders te kom haal en ons vir ewig van die gebrokenheid en vervolging te verlos. Laat ons dus op ons hoede wees vir die aanslae van die wêreld, maar ook gereed wees vir die wederkoms wat op hande is. En hou aan om te bid vir hulle wat ter wille van Christus ly!
Ds Maarten