Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 101 of 332

Hy wat reg lewe sal gered word!

Skriflesing: Psalm 50 
Teksvers: Ps 50:21-23 

Dit is so maklik om met die mond God te vereer, maar met gedagtes, woorde en werke doen jy anders. Dit is so maklik om die regte dinge te doen, maar hoe is jou werklike gesindheid. 

Dit is so maklik om jouself, die wêreld om die bos te lei, maar vir God kan jy nooit iets wegsteek nie. Daarom die ernstige waarskuwing in die Psalm om in opregtheid voor God te lewe. Dan sal daar vir jou redding wees. 

Opregtheid en eerlikheid is wat God van ons vra. 

Oordenking vir 16 Maart

Volg in Jesus se voetspore, al beteken dit lyding!

Donderdag 16 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:18-25
20 “As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God.
21 Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.
22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie.”
23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.
24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.”

Alles wat Jesus Christus op aarde gedoen het, is die perfekte voorbeeld vir ons om na te volg!

Soos wat ‘n klein kindjie op die sand of stofpad dikwels in sy pa se voetspore probeer trap, moet ons altyd probeer om in Jesus se voetspore te trap!
Ons moet in sy voetspore volg!
Want alles wat Jesus op aarde gedoen het, was goed en reg en moet ons navolg.
In besonder moet ons navolg wat Jesus gedoen het ten opsigte van swaarkry en lyding.

Dit klink vir ons nie reg nie. Hoekom moet ons Jesus navolg ook in sy lyding?

Daar is tog ‘n algemene gedagte wat mense wil glo en dit is dat as jy in gehoorsaamheid aan God lewe sal jy nie swaarkry of lyding ervaar nie. Is God dan nie die God wat net goed is nie? Is God dan nie die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is nie, soos wat ons bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis art. 1 nie?

Jesus Christus was sonder sonde. Hy het NOOIT enige sonde gedoen nie. Uit sy mond het daar NOOIT ‘n leuen gekom nie. En dan lees ons dat Jesus ter wille van ons beledig is, gely het, gedreig is met die dood en dat Hy aan die kruis vir ons sondes betaal het met sy liggaam en bloed. Hy was totaal en al onskuldig, maar is skuldig verklaar.

Jesus het nie gesterf, omdat Hy ooit iets verkeerds gedoen het nie, maar omdat Hy reg gedoen het. Dit is wat ons moet navolg, ons moet altyd reg te lewe, volgens die Woord van God, uit dankbaarheid en gehoorsaamheid.

En dan die swaarste vir ‘n christen, wanneer iemand iets verkeerd teen jou doen of as jy moet opstaan vir wat reg is volgens die Woord van God, dan moet ons in Jesus Christus se voetspore volg. Al word ons beledig en kry swaar of word selfs in die tronk gegooi, omdat ons in Jesus se voetspore volg, moet ons nie terugdeins nie.

Geliefdes ons moet nie deelneem aan die sondige wêreldse praktyke nie!
• As iemand jou vloek moet nie terugvloek nie.
• As iemand jou vra vir omkoopgeld, moet dit nie doen nie.
• As iemand jou beledig omdat jy getuig van wat die Bybel sê, moet nie terugdeins nie.
Jesus Christus se onderdanigheid aan die owerheid toe Hy onskuldig veroordeel is, was nie ‘n teken van swakheid of onmag nie, inteendeel, ons lees met sy gevangeneming het Jesus die volgende gesê: Mat 26:53 “Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie?
Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.”

Ons word nie verlos en gered omdat ons in Jesus se voetspore volg en doen wat Hy vra nie, nee, ons word verlos omdat ons glo in wat Jesus Christus vir ons gedoen het aan die kruis en met sy versoeningswerk.

Kom ons volg ons Herder en die Bewaker van ons lewens deur in gehoorsaamheid in Sy voetspore te volg!
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 13 Maart

Onderworpenheid aan gesag bring Vryheid!

Maandag 13 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:11-25

Onderworpenheid aan gesag bring vryheid!
In ons Skrifgedeelte gaan dit daaroor om te leef in onderdanigheid, mawte leef in nederigheid, in onderdanigheid. Nou onderdanigheid klink nie altyd vir ons na iets om na te streef nie. Ons sê maklik:
• Ek laat my nie voorsê nie.
• Niemand is my baas nie.
• Ek laat nie toe dat ander mense my lewe regeer nie.

“Onderdanigheid beteken egter nie slawerny nie, maar bloot die erkenning van God se gesag in jou lewe. God het die huis, menslike regering en die kerk gevestig en Hy het die reg om vir ons te vertel hoe hierdie instansies bestuur moet word. God wil hê dat ons gesag moet uitoefen, maar voordat ons gesag kan uitoefen, moet ons bereid wees om onsself aan gesag te onderwerp.”
(Wiersbe, WW 2001:The Bible Exposition Commentary. p.403-407)

Satan bied valslik of op ‘n slinkse manier, aan Adam en Eva, ons eerste voorouers, vryheid, maar sonder gesag. Maar die uiteindelike gevolg was dat hulle, beide hul vryheid en gesag verloor het. Hulle het slawe geword van die sonde. Hulle het slawe geword van hulle eie wil en hulle begeertes en luste. Die Verlore Seun het sy vryheid gevind toe hy teruggekeer het na sy pa en hom weer aan sy pa onderwerp het. Toe was hy vry om te lewe en te werk en te speel, maar volgens die huisreëls van sy pa. (vgl. Luk 15:11-32)

Petrus gee hier aan ons drie skitterende motiewe hoekom ons ons moet onderwerp aan verskillende persone en aan God. (Wiersbe, WW 2001:The Bible Exposition Commentary. p.403-407)
• Gedra julle altyd goed onder die heidene. 1 Petr 2;11,12
• Onderwerp julle aan die owerheid tot eer van God. 1 Petr 2:13-17; Rom 13:1-3; Tit 3:1,2
• Jesus Christus het Hom aan sy Vader se wil onderwerp. 1 Pet 2:18; Ef 6:5-8; Kol 3:22-25

Gedra julle altyd goed onder die heidene. 1 Petr 2;11,12

Om jouself dus te onderwerp aan gesag, stel jy ‘n voorbeeld van hoe ‘n christen moet lewe, volgens God se wil. Want ons is God se geliefde kinders. Agt maal skryf Petrus in sy 2 briewe wie ons is. Uit onsself is daar niks wat God kan liefhê nie, want ons sondige elke dag, en tog het Hy ons so lief dat Hy sy enigste Seun gestuur het om in gehoorsaamheid aan sy Vader, sy eie lewe aan die kruis te laat offer, in gehoorsaamheid en onderdanigheid om sodoende te betaal vir ons sondes.

Ons kyk tog graag na iemand op wat ‘n voorbeeldige lewe lei. Dit is so mooi as mense sê: “Daardie persoon is ‘n Israeliet sonder bedrog.” Dit is iemand na wie jy kan opsien. Dit is iemand wie jy kan navolg omdat hulle absoluut lewe tot eer van God. So moet ons ook voorbeelde in ‘n stukkende wêreld wees. Ons is dit as ons ons altyd goed gedra. Om jouself goed te gedra is om te leef volgens God se gebooie en dit na te kom. So is ons ‘n lig wat skyn in die donker. Kom ons gedra ons altyd goed volgens die gebooie van God tot eer van God.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Die Doksologie! Die Lofverheffing! Die Amen van die gebed!

Skriflesing: Open 5:1-14; Mat 6:9-13
Teksvers: Open 5:9,10,13,14
HK Sondag 52

Satan versoek die mens maar God beproef die mens 

Wanneer laas het jy gesê: “Wyk Satan, wyk!” Satan die wêreld en ons eie vlees val ons elke dag aan. Waarmee God ons beproef, om ons geloof te louter en te versterk, gebruik Satan om ons te versoek. Deut 13:1-3. God versoek nie die mens om hom tot sonde te beweeg nie, maar God laat ons soms in versoeking kom, 

Die Lof aan God die Vader en die Seun as die Lam van God kan nooit genoeg wees nie. Die kring van engele wat rondom die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan het, was duisende der duisende, miljoene der miljoene. So geweldig is die lof, wat aan God, die Lam gebring word. En met hierdie selfde lofverheffing sluit ook die gebed af wat ons Here Jesus Christus ons geleer het om te bid. Hier het ons die gebedsgrond en gebeds-vertroue waarmee ons die Onse Vader mee afsluit. 

‘n Nuwe verbond met ‘n lieflike uitsig!

Skriflesing: I Kor 11:23‑29; Markus 14:22-25; Matt 26:17‑19,26‑30; Jeremia 31:31
Teksvers: Markus14:24-25 (Matt 26:29)

Ons het nou al vir weke aaneen gepreek oor God wat met sy volk ‘n reeks verbonde sluit om gemeenskap met ons te beoefen. Die besondere daarvan is dat die heilige God met sondaars ‘n verhouding soek en onderhou en aan hulle groot beloftes maak. Aan Adam en Noag en Abraham… by Sinaï en aan Dawid en Jeremia maak die HERE groot beloftes, maar stel ook sy verbondseise waaraan sy kinders gehoorsaam moet wees. Hierdie beloftes word in die koms en lyde en sterwe van Christus vervul. Beloftes van verlossing en vergifnis. 

As Jesus dan die Nagmaal instel as ‘n NUWE VERBOND is dit vervulling van al daardie verbonde, maar ook weer nuwe beloftes en nuwe hoop, en nuwe gehoorsaamheid. 

« Older posts Newer posts »