Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 13 of 183)

Die jaar van genade en vryheid

Skriflesing: Lukas 4:14-32; Jesaja 61:1-3; Jesaja 66:2 (1983)
Teksvers: Lukas 4:18,19

Maak gerus ‘n tydjie om die twee teksverse van Jes 61 en Luk 4 se aanhaling daarvan met mekaar te vergelyk. 

As Lukas die Here Jesus aan die Griekssprekendes (heidendom) bekendstel, gebruik hy hierdie spesifieke woorde wat nou in die koms van Jesus as die langverwagte Messias vervul is. Vir die Jode van sy tyd voldoen Hy nie aan hulle vereistes nie. So is die prediking van die Gekruisigde Jesus nie so baie aanvaarbaar vir die huidige wêreld met sy wellustige soeke na sukses nie. 

Is hierdie Jesus vir jou genoeg? 

Jesus van God verlate, sodat ons nooit verlate sal wees nie

Skriflesing: Matteus 27:32-56 (2020)
Teksvers: Matteus 27:46

Het jy al werklik eensaam, vergeet en verlate gevoel? As gevolg van die sondeval, kan selfs gelowiges soms ‘n verlatenheid ervaar. Die Bybel vertel ons van mense wat God verlaat. Ons lees ook dat God die Israeliete soms oënskynlik verlaat het. Ons hoor egter ook van gelowiges wat pleit dat God hulle nie sal verlaat nie. 

Tydens die kruisiging hoor ons Jesus Christus se kreet: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Hoe is dit moontlik dat God vir Jesus kon verlaat, terwyl ons tog bely dat die Drie-enige God, Vader en Seun en Heilige Gees onskeibaar is? Kan Jesus dan deur God verlaat wees en tog nie van God geskei wees nie? Waarom was dit dan nodig dat Jesus van God verlaat moes word? Wat is die troos wat ons put uit Jesus se Godverlatenheid aan die kruis? 

Kom ons verwonder ons oor die blye boodskap, dat Jesus ter wille van ons deur God verlaat is en dat ons nou die sekerheid het dat ons op grond van Christus nooit van God verlate sal wees nie. 

SPIEËL JOUSELF IN DIE WOORD WAT VRYMAAK

Skriflesing: Jakobus 1:19-27; Matteus 7:13-28 (1983)
Teksvers: Jakobus 1: 22-25

Ons het verlede week gehoor dat elke mens ‘n keuse of keuses het, maar nie ‘n vrye wil nie. Ons het eenvoudig nie die waarheid in onsself nie en moet dus van die slawerny van ons sondige wil bevry of vrygemaak word! 

Hierin sien ons die liefdevolle en genadige hand van die God en Here wat ons in Christus só liefhet dat Hy vir ons die wet gegee én vervul het. En nou kan ons deur die geloof (die nou poort) ingaan en op die (smal) pad van gehoorsaamheid lewe deur die krag van sy Gees. 

Hierin moet ons egter God se medewerkers wees en daarvoor het Hy ons sy Gees en Woord gegee. 

Bly die Here dien, al het jy verkeerde besluite geneem

Skriflesing: 1 Samuel 12 (2020)
Teksvers: 1 Samuel 12:20 en 21

As jy iets wou hê of iets wou doen, wat jy voor jou siel weet, verkeerd is en in stryd is met die Here se wil? 

Die Israeliete wou graag soos die omliggende volke graag ook ‘n menslike koning hê, terwyl hulle die beste Koning van alle konings het. Hulle weet dit is teen die Here se wil, maar tog soek hulle ‘n koning wat meer sigbaar vir hulle sal wees. Wanneer Samuel met hulle praat en sê dat die Here aan hulle versoek sal voldoen, al is dit verkeerd in sy oë, en dan waarsku Samuel die koning en die volk om die Here te bly dien, anders sal die Here hulle straf. 

Die gevolge van verkeerde en sondige besluite, besluite wat teen die wil van die Here, deur die Here toegelaat is, sal na gekyk word. Wat doen mense as hulle verkeerde besluite geneem het en wat die Here doen as ons verkeerde besluite geneem het? 

Die sg. ‘vrye wil’ van die mens

Skriflesing: Genesis 2:4-17; Galasiërs 5:13-26 (1983)
Teksvers: Gen 2:16,17

Ons hoor die mense praat, en veral die media, van die ‘vrye wil’ van die mens. In ons verstaan van sonde en vloek is dit egter vreemde taal, aangesien die mens immers sy vryheid deur sondeval verloor het. 

Hoe moet ons dus oor die sonde en die vrye wil van die mens dink? 

Onthou: valse vryheid kan lei tot losbandigheid. Ware vryheid is nie gelyk aan geen reëls of geen regulasies nie. Dit is eerder die idee van die libertyne en lei tot valse vryheid. Dit is wetteloosheid en verval. 

Ware vryheid is alleen in Christus te vinde. 

« Older posts Newer posts »