Roeping is baie meer as net ‘n gevoel. Roeping is ‘n opdrag van die Here. Dit geld nie net vir apostels, profete en evangeliste nie, maar vir elke gelowige. God roep ons tot verlossing. Hy roep ons tot redding. Maar verloste kinders se roeping strek verder as net om gered te word. Ons word geroep as ouers, as eggenote, in ons werk, in die gemeente, in die koninkryk. Op elke plek en op alle tye word ons geroep as getuies van God se genade en verlossing, om te getuig van die hoop wat in ons is. (1 Petrus 3:15)
Roeping is ook om gestuur te word. Daar was baie dissipels wat Jesus gevolg het, maar slegs 12 van hulle word apostels genoem, dit beteken om gestuur te word. Hulle taak is baie spesifiek: om hulle toe te spits op gebed en die bediening van die Woord (Handelinge 6:1-4).
So versamel Christus sy kerk. Hy stuur geroepe dienaars om die evangelie te verkondig. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Romeine 10:13-15
Ons gemeente gaan nou ‘n nuwe opwindende fase in waar ons ‘n nuwe predikant gaan beroep. Tog is dit nie net die gemeente wat “demokraties” met meerderheid van stemme die beste kandidaat kies nie, maar God wat ons biddend lei deur die Heilige Gees om die geroepe dienaar te stuur wat Hy aan hierdie gemeente wil gee.
Ons kerkorde reël in artikel 5 hierdie proses, dat Waar ʼn bedienaar van die Woord van een kerk na ʼn ander binne die kerkverband beroep word, geskied dit soos volg:
ten eerste, die verkiesing deur die kerkraad en die diakens na voorafgaande gebede, met onderhouding van die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is, en van die algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedien het, en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis [65] of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;
ten tweede die goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk as daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige beswaar ingedien is nie;
ten derde, die kontrolering deur die kerkraad saam met die klassikale deputate van die goeie kerklike getuienis ten opsigte van leer, lewe en ampsbediening en van die losmaking;
ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.
Mag ons as gemeente, die vreugde ervaar van God se roeping, dat Hy self roep en stuur, en dat ons saam biddend tot die troon van genade sal nader en Hy ons gebede sal verhoor.
Lourens (VDM)