Skrywer: admin (Page 306 of 328)
God gee vir ons om, daarom gee ons ook om deur vir mekaar te bid.
Die Here het ons geroep om hier op aarde vir Hom en ons naaste lief te hê en om werklik ‘n oog vir ander te behou.
Daar is soveel oproepe in die Skrif wat ons aanspoor om met ‘n sagte hart teenoor ons naaste en selfs teenoor ons vyande en vreemdelinge op te tree. Dit is immers die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons gestel het. Hy het sy alles vir ons as gebroke mense gegee. Hy het verder vir ons die Heilige Gees gegee om altyd by ons te bly en ons te leer en te lei om biddend ‘n oog en hart vir ander mense te kan hê.
Wie is daar in jou lewe wat voorbidding nodig het? Dit is onder andere mense wat jy ken wat siek is, mense wat oud geword het en nie meer die krag het om dinge te kan doen soos wat hulle gewoond was om te doen nie. Verder word ons ook opgeroep om vir elkeen wat twyfel, wat onverskillig is en wat perspektiefloos is, te bid.
Dink aan jou geliefdes wat ‘n belangrike rol in jou lewe speel en jou ondersteun. Weet jy wat hulle eie worsteling en vrae is? Bid dan in besonder ook vir hulle.
Om vir iemand anders te bid is alleen moontlik as die Heilige Gees jou in staat stel om jouself te verloën en op die Here en jou medemens te fokus. Gebed is ‘n besondere en uitstaande manier om jou medemens te dien.
Verder lei gebed, vir ander mense, ons om nie net te praat nie, maar ook te doen. Hoe meer jy bid, hoe meer sal die Heilige Gees jou in staat stel en wysheid gee om mense in woord en daad te kan bedien.
In besonder het ons ‘n geleentheid om te bid vir mense wat in die geloof verslap het, mense wat in die strik van sonde vasgeval het en vir mense wat in die mag van die duiwel beland het. Daarom sal ons nooit opgee en nooit ophou bid vir elkeen wat nie die troos en krag en hoop in Jesus Christus ken nie.
Jesus Christus is by uitnemendheid ons voorbeeld vir voorbidding. Hy is ons ware Middelaar wat by die Vader vir ons intree en pleit vir genade vir ons. Hy is die ware Voorbidder saam met die Heilige Gees vir elkeen van ons wat God se kinders is.
Kom laat ons werklik biddend tot die Here nader vir elkeen wat jy weet voorbidding en omgee nodig het.
Ds Paul
Skriflesing: Joh 7:37:39 Openbaring 22:1 en 22 (Esegiël 47)
Teksvers: Johannes 7: 38
Ons gee vanaand aandag aan die betekenis van die loofhuttefees in Israel en in die Ou Testament. As ons dit verstaan kry die teks ʼn baie besonderse betekenis in terme van die uitstorting en werking van die Heilige Gees in ons lewe.
Laat ons op hierdie Pinksterfees maar weer die wonderlike krag en genade van die Heilige Gees eer en aanbid!
7:37 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!
7:38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.
7:39 En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.
Skriflesing: Joh 14:15-26; Joh 15:26 – 27; Joh 16:12-15
Teksvers: Joh 14: 15-17 en 25-26
Jesus is besig om sy dissipels voor te berei dat Hy binnekort na sy Vader toe gaan. Sy Vader sal vir hulle egter ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by hulle te wees.
Hierdie Voorspraak is die Heilige Gees. Daarteenoor sê Jesus dat die dissipels die Heilige Gees wel ken en daarom altyd by hulle sal bly en wees. Die Voorspraak, die Heilige Gees, sal hulle alles leer en hulle herinner aan alles wat Jesus vir hulle gesê het.
Is die Heilige Gees in jou daaglikse lewe vir jou ‘n werk-likheid?
Volgens die Kernwoordeboek is die idioom “om in die tuig te sterwe” die manier om aan te dui dat iemand oorlede is terwyl hy nog in diens was. Dit verwys natuurlik na die tuig van rieme waarmee donkies of osse voor die wa ingespan is. Die idioom word dan toegepas op iemand wat getrou sy werk gedoen het terwyl hy of sy gesterwe het.
Ek sou dit graag van ons ouderling wat die week oorlede is wou sê. Johan Raubenheimer was juis oppad huistoe van die ouderlingvergadering (Blok C) af. Soos gewoonlik was hy die eerste ouderling wat by die vergadering aangekom het. Hy was altyd baie vroeg in die konsistorie, selfs ook elke Sondag vir die eredienste. ‘n Man op sy pos. Hy was lief vir die Here. Lief vir die kerk. Hy was deel van die kleingroep en trots op sy groepslede. Hy was juis besig om voor te berei vir die volgende groepsbyeenkoms waar hy die Bybelstudie sou lei.
Oppad huistoe vanaf die vergadering het hy klaarblyklik probleme ondervind en voor die aankomende verkeer op die snelweg beland. Hy is op die toneel dood. Net so on-geveer tien minute vroeër was dit sy beurt om die ouderlingvergadering met gebed af te sluit. Sy laaste woorde in die vergadering was: “…en Here, lei ons vanaand veilig huistoe. Sy gebed is verhoor. Hy is veilig huistoe!”
In die tuig gesterf. ‘n Ouderling op sy pos. Sy werk getrou gedoen. Sy huisbesoeke op datum. ‘n Voorbeeld vir die gemeente. ‘n Gelowige broer wat beslis gemis sal word.
Ons harte is seer vir sy skielike heengaan. Ons bid vir Rika en haar gesin die ryke troos van die Heilige Gees toe. Ons eer sy nagedagtenis.
Die vraag wat my bybly: As die Here my skielik kom haal.. en vir jou… is jy ook met sy dinge besig? Is jy in die tuig vir die Here? Is jy besig om te werk aan sy koninkryk? Is jy op jou pos en vol ywer en vuur vir die saak van jou Koning?
Waarmee sal ons besig wees as Jesus weer kom?
Liefdegroete
Ds Maarten