Sedert die vernietiging van Jerusalem in die jaar 70 AD, is daar nog nie weer offers aan God in die tempel in Jerusalem gebring nie. Juis daarom wil die Joodse volk die 3de tempeltyd herstel. Vir bykans 2000 jaar kan die Jode nie offer nie, wat die wese is van die erediens soos dit in die Ou Testament beskryf word. 

Daar was verskeie sulke tydperke waar die tempel vernietig was, en weer herstel moes word, soos die wegvoering na Babel, en die herstel deur Esra en Haggai en Sagaria. Daar was ook tye wat die volk wel offers gebring het, maar nie met die regte gesindheid nie. Dink sover terug as die seuns van Adam en Eva. Daar is die eerste moord opgeteken as Kain vir Abel dood maak. En dit oor die erediens. 

Ons lees ook op ander plekke, onder meer waar Samuel vir koning Saul teregwys oor sy gebrek om die banvloek oor Amalek te volbring. Samuel herinner vir Saul dat gehoorsaamheid beter is as offers. 

Hebreërs leer ons verder oor die heenwysing van die offers van die Ou Verbond, wat op Christus gefokus is. Dit gaan nooit oor die offer van diere nie, maar eerder die diere wat in die plek van die mens moet betaal met hulle lewe. Die bloed wys op lewe, want die lewe is in die bloed. 

Daarin is Christus die ware offer. Hy gee sy lewe, sodat Hy met sy lewe betaal vir die sonde. Die vraag is egter of die bedoeling van ons bestaan daarop gemik is dat almal hulle lewens offer net om te sterf? Dan is die antwoord baie duidelik nee. God wil dat ons lewens geoffer word aan Hom, om vir Hom te lewe. Dit is juis wat hierdie woorde uit Hebreërs 13 ons aan herinner, om offers van lof te bring uit dankbaarheid. 

“Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” 

Hebreërs 13:15 

Elkeen wat Christus bely as verlosser, bring die vrug voort van lof aan God. Daarin is nie net ons lofsange offers aan God nie, maar ook ons gebede. 

Laat ons dan opnuut onthou om lofoffers aan God te bring, tot lof en roem en eer van sy Naam. 

Lourens (vdm)