Skriflesing: Efesiërs 1:1-14; Prediker 2 (1983)
Teksvers: Efesiërs 1:4
In ’n stukkende wêreld vol pyn en trauma lyk alles dikwels so doelloos en leeg. Dit is nie snaaks dat mense na die ware sin van die lewe soek nie. Die hele boek Prediker gee byvoorbeeld op ’n besondere wyse aandag aan hierdie vraag. Hy bekyk die vraag vanuit die oogpunt van ’n ongelowige en dan kry hy geen antwoord nie… totdat hy by God self uitkom: “Dien God en onderhou sy gebooie” (Pred 12:13). Daar kry mens die sin van jou bestaan. Anders nie!
Paulus draai nie doekies om nie. Vir die Efesiërs gee hy die antwoord ondubbelsinnig: God het ons gemaak om Hom te dien. Niks anders nie. En selfs toe die mens nie meer aan sy doel kon beantwoord nie, weens die sonde en die gevolge daarvan, het God ingegryp en ’n plan gemaak. Hy het ons in en deur Christus weer sy kinders gemaak, SODAT ons weer aan ons oorspronklike skeppingsdoel kan beantwoord: Om Hom te prys en te dien.