Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 321 of 346

Hoe lief het ek u wet!

Skriflesing: Psalm 119
Teksvers: Psalm 119:97

Die Marathon-Psalm 119 is die langste hoofstuk in die Bybel. In sy 176 verse handel die digter net oor die Wet van die Here. Dit neem ongeveer 20 minute om die psalm rustig hardop deur te lees.
Alfabetiese akroestiek is die digvorm waarin hierdie psalm aange-bied word. Anders as ander akroestiese dele van die Bybel (Klaagliedere, Spreuke 31:10-31, en Ps 25, 34, 37, 111, 112, en 145 in die Hebreeuse Bybel) word in Ps 119 elke agste vers begin met die volgende letter van die Hebreeuse Alfabet. Die doel was natuurlik esteties (as poësie) en ook om makliker te maak vir memorisering.
Die “rym” is dus in die begin en nie aan die einde soos ons dit vandag gebruik nie! Die alfabet het net 22 letters, dus bestaan Psalm 119 uit 22 onderdele, elkeen met ‘n soortgelyke struktuur.
Eintlik bring die hele Psalm en sy onderdele die eenluidende bood-skap dat kinders van die verbond lief is vir die Wet van die Here. Hoe lief het jy sy wet?

Laai af

Calvyn se Nagmaalstafel

Een van die grootste dorings in Calvyn se vlees in Genève was die Libertyne. Selfs nadat Calvyn vir meer as 15 jaar in St. Peter kerk in Genèvegepreek het, was morele verval oral aan die orde van die dag – selfs in die kerk. Vir die Libertyne het “gemeenskap van die gelowiges” (koinonia) beteken dat alles gedeel is – huise, besittings… en vrouens. Hulle was seksueel promisku in die naam van Christelike vryheid. Maar hulle wou nog steeds aan die Nagmaalstafel sit…
Die krisis rondom die Nagmaal het in 1553 tot breekpunt gekom. ‘n Welgestelde Libertyn genaamd Berthelier is deur die kerk verbied om aan die Nagmaal deel te neem, maar hy het by die Stadsraad appèl aangeteken teen die besluit. Die Stadsraad het die kerk se besluit omgekeer.
Dit het ‘n krisis vir Calvyn veroorsaak wat op geen manier ‘n Libertyn by die Nagmaalsta-fel kon toelaat nie. Sy beginsel was soos altyd – die glorie van God.
Op die dag het die Libertyne opgedaag om aan die Nagmaal deel te neem. Die preek was klaar en Calvyn het van die preekstoel afgeklim om die Nagmaal te bedien. Die Libertyne het opgestaan en in die rigting van die Nagmaalstafel beweeg.
Calvyn het sy arms om die brood en wyn geslaan en met ‘n harde stem uitgeroep:
“Hierdie hande kan julle verbrysel, hierdie arms kan julle afkap, my lewe kan julle neem, my bloed kan julle verspil, maar julle sal my nooit kan dwing om die tafel van my God te ontheilig nie”
Hierna het die Libertyne die aftog geblaas en die res van die gemeente het die sakrament in besonderse gewyde stilte gevier…
Ds Maarten

NET TWEE DINGE NODIG!

Skriflesing: Spreuke 30:1‑9, en 15,16; 1 Tim 6:6-16 (6)
Teksvers: Spreuke 30:7‑9

Die boek Spreuke gaan oor ware wysheid. Wysheid is nie geleerdheid of slimmigheid nie. Wysheid is die kuns van die ware godsdiens, toegepas in ons daaglikse lewe. Ons praat van ‘lifeskills”. Gaan bestudeer weer die boek Spreuke en jy sal groei in ware wysheid wat van bo kom (Jak 3).
Ons teksvers is in wese ‘n gebed om die vervulling met die Heilige Gees. Die Spreukedigter besef dat hy ‘n sondaar is. Vol van homself en selfsugtigheid. Hy bid hier om genade om te kan verander. Maar ook dit kan hyself nie doen nie. Hy vra hulp van buite, van bo af, van die Here. En die Here gee ons die belofte in Jak 1:5 dat as ons wysheid kortkom, dank na ons dit van Hom vra. Hy gee aan almal sonder verwyt.
Laat Agur se gebed ook ons gebed wees!

Maak oop

Woorde ‘n gawe en verantwoordelikheid

Skriflesing: Spreuke 15
Teksvers: Spreuke 15:1

Dit is opvallend dat mense gewoonlik wanneer hulle wil argumen-teer, ‘n ander stemtoon gebruik. Die stem word gewoonlik harder en hoër. Verder is daar mense wat in ‘n argument net eenvoudig die ander persoon dood praat en glad nie vir die ander persoon kans gee om sy of haar standpunt te stel nie. Of iemand onder-breek die ander persoon die heeltyd totdat die ander persoon maar later noodgedwonge moet stilbly.
Dit is daarom selde dat ‘n argument in ‘n fluistertoon gevoer word, behalwe as jy nie wil hê dat iemand dalk sal hoor hoe hard en lelik jy kan praat nie. Sou iemand egter nie kwaad word nie en altyd sag terug antwoord, dan is dit moeilik om ‘n geveg voort te sit. ’n Harde antwoord lei byna altyd tot ’n heftige reaksie. Is dit vir jou belangrik dat jy altyd ‘n argument sal wen? Laat jy jou le-wensmaat en jou kinders toe om met jou in liefde te verskil?
Hier kom die Here in sy Woord en sê dat ’n sagte antwoord altyd beter is. Glo jy dit?

Laai af

Die toepassing van die tug

In die kerk regeer Jesus Christus deur sy Woord en sy Gees. Dus is die toepassing van die tug die dissiplinering van die kerk deur Christus self. Die mense wat in leer en lewe afwyk word getug. Die tug is daar sodat sekere dele van Christus se liggaam (Christene) nie verlam word nie, maar ‘n gesonde lewende lid sal wees.

Die ouderlinge in die gemeente oefen Christus se gesag namens Hom uit. Die kerkraad het geen hoof behalwe Jesus Christus nie. Dit is dus een van die kerkraad se regeringspligte om die tug op afgedwaaldes toe te pas.

Die tug, saam met die evangelie, is praktiese sleutels tot die koninkryk. Dit kan die hemel vir iemand oopsluit (as die persoon hom bekeer) of toesluit (as die persoon hom nie bekeer nie en afgesny word). Die doel van die tug is drieledig: Die eer van God, die opbou/suiwering van die kerk. Die tug moet altyd in liefde bedien word. Daarom word soms gepraat van die tug as “die bediening van die versoening”.

Maar, eerstens moet die tug nie net deur die kerkraad toegepas word nie. As iemand teen jou persoonlik gesondig het, moet jy hom eers alleen aanspreek. As hy nie wil luister nie, moet jy weer gaan, maar dié keer met getuies saam. As hy/sy dan nie wil luister nie moet jy dit aan die gemeente (kerkraad) bekend maak. (Matt 18: 15 – 17).

Tydens die tugtiging van ‘n persoon moet die persoon van die sakramente (Doop en nag-maal) afgehou word (Kerkorde Art. 76). Daar word dan ook drie afkondigings aan die ge-meente gemaak. Daar kan ‘n hele tydperk tussen die afkondigings verloop. (Kerkorde Art. 77)

  1. Maak die saak aan die gemeente bekend, sonder om die persoon se naam te noem, en vra dat die gemeente vir hom moet bid.
  2. Maak die saak bekend en noem die persoon se naam.
  3. Finale afsnyding. (Daar is ‘n formulier hiervoor agter in jou psalmboek)

Die doel van die tug word gereeld misverstaan en mense bedank die kerk vanweë hulle onkunde. Ten eerste is die tug ‘n liefdeshandeling vanaf God (Spr 3:11,12), toegepas deur ‘n persoon of die kerkraad. Verder is dit daar gestel om die sondaars te red wat afgedwaal het en om die gemeente heilig te hou. Maar op die ou end is dit alles net tot die eer van God

Ds Maarten

« Older posts Newer posts »