Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 275 of 345

Die wet ontbloot ons gebrek aan liefde

(Last updated on Februarie 14th, 2020)

Skriflesing: Matteus 5:17-48
Teksvers: Matteus 17-19
HK: Sondag 2

‘n Mens kan jou maklik misgis met die wet… Baie Christene verklaar met groot bravade dat die wet geen betekenis of plek meer het in Christus nie, maar helaas.

In Christus spreek die wet nog baie skerper. Jesus wys ons deur die vervulling van die wet hoe gebrek-kig ons begrip van die wet en daarmee van die liefde is.

Ons staan vanaand stil by die tema: Die wet ontbloot ons gebrek aan liefde.

Laai af

HEILIG, HEILIG, HEILIG is die HERE ONSE GOD!

Skriflesing: Op 4; Esegiël 1 en Jer 23:23
Teksvers: Op 4:8b en 11

Hoe lyk die Here? Kan ons Hom sien. Miskien moet ons maar tevrede bly met die beskrywing van Johannes, wat die Here op aarde gesien het, toe hy sy dissipel was en daarna Hom wéér gesien het as die Verheerlikte, die Seun van die mens! Hy gee bepaalde beskrywinge van Jesus en van God die Vader! (Op 1, 4 en 5)

Miskien is Hy werklik so groot dat ons Hom nie (lees: nooit) anders kan sien as in die simboliek waarmee Johannes Hom vir ons beskrywe nie. Want geen mens kan God sien en bly lewe nie! Miskien word sy grootheid (én sy grootsheid) op dié manier beskrywe sodat ons op die regte manier teenoor Hom reageer en optree…

Laai af

Die Koronavirus

Die Koronavirus bring skrik en vrees oor die wêreld. In China het die bekampings- en voorkomingsmetodes, drastiese afmetings aangeneem. Mense, gesinne, studente is beperk tot hul blyplekke en slegs een familielid mag die huis verlaat om te gaan kos koop. In Wuhan is daar net een Supermark oop vir 11 milj. inwoners. Daar word spesiale hospitale in China gebou vir die behandeling van pasiënte. Dit is ’n epidemie wat verskriklike gevolge het en nog kan hê. Maar die vraag is altyd, hoe moet ons as Christene dit verstaan en daaroor dink? Ons moet weet dat ons altyd onder die genade van God alleen leef. Ons moet ook weet dat ons in lewe en sterwe aan ons Here Jesus Christus behoort. Daarom moet ons biddend ook met hierdie saak handel en bid vir God se genade. Die lewe moet met respek hanteer word en Christelike liefde moet teenoor almal uitgedra word.

Die Skrif is duidelik daaroor dat daar swaarkry gaan kom. As ons Mat 24,25 lees, dan lees ons die profetiese redes van rampe en vervolging en verdrukking wat daar sal wees. Maar ons moet nie nou dink hierdie Koronavirus is noodwendig die aanbreek van die laaste plae voor die wederkoms nie, daar was al baie groot en baie ernstige plae voorheen. Dink maar aan die groot griep in vroeë 1900 toe die sogenaamde “Drie-daggriep” in Suid Afrika uitgebreek het en meer as 350 000 Suid Afrikaners dood is. Dit was ’n verskriklike tragedie en hartseer. (https://www.vryeweekblad.com/wetenskap-en-tegnologie/2019-04-19-die-groot-griep-vergete-stemme-se-stories-van-seer-herleef/)

Wat kan ons as gemeente doen? Ons kan en moet vir hierdie saak bid. Daar is van ons broers en susters in die geloof, wat in China onder hierdie verskriklike plaag deurloop. Kom ons bid….

  • Dra almal, die siekes, die mediese personeel en die hele bevolking aan God op.
  • Bid vir wysheid en insig by almal rondom hierdie saak.
  • Bid dat die evangelie uitgedra sal word ook onder hierdie omstandighede oor die hele wêreld.
  • Bid vir God se genade omdat Hy alleen die Groot Geneesheer is.

Mag ons almal biddend ons voor God verootmoedig en mag sy genade vir ons almal genoeg wees.

ds. Gerrit

Naturalisme

Naturalisme is ‘n filosofiese en wetenskaplike denkrigting waarvolgens die wêreld en sy ontstaan in suiwer wetenskaplike terme beskryf kan word en niks meer is as ‘n natuurlike gebeure nie. Tot sy essensie gereduseer, beweer naturalisme dat “alles natuur is“. Dit is dus die vooropgestelde idee dat daar geen God is nie of dat God geen aandeel in die skepping gehad het nie.

Daar word aangeneem dat die prosesse wat die werking van verskynsels verduidelik, die enigste ding is wat gebruik kan word om die oorsprong van die verskynsel te verklaar. Evolusie is ‘n voorbeeld daarvan.

Word die term in ‘n suiwer natuurkundige betekenis gebruik, kan uit die eenvoudige leuse ‘Alles is natuur’ op ‘n materialistiese of fisikalistiese uitgangspunt geformuleer word. Sodanige teorieë beweer dan ook dat die gees van ʼn mens deel uitmaak van die fisiese natuur hoegenaamd nie bestaan nie en ‘n blote illusie is.

Hierdie benadering het veral voortgespruit uit die motivering om alle filosofiese en weten-skaplike denke af te grens van bonatuurlike verskynsels in die religieuse sin. Hierdie soort naturalisme verwerp byvoorbeeld alle wonderdadige werkings en verskynsels of die bestaan van bonatuurlike wesens. Die naturalis ontken dus die bestaan of God en van sy skeppingshandele.

Uniformitarianisme (of uniformisme of gelykmatigheid) is die naturalistiese filosofiese aanname dat dieselfde natuurlike wette en prosesse wat tans in die heelal werk nog altyd in die heelal in die verlede en oral van toepassing was. Dit het die konsep ingesluit dat “die huidige is die sleutel tot die verlede” en funksioneer op dieselfde tempo’s. Uniformisme word veral gebruik in geologie en ook ander velde van die wetenskap.

Hierdie sg. Algemeen-aanvaarde-filosofiese uitgangspunte, druis egter direk in teen die heel eerste verse van die Skrif en ontken die skeppingswerk van Gen 1 asook die sondvloed van Genesis 6-9.

In die Bybelskool wil ons hierdie kwartaal ons weer vergewis van wat die Bybel ons leer oor die Skepping van alle dinge en die Sondvloed waarvan ons lees in Genesis. U is hartlik welkom om dit by te woon.

(Kyk elders in nuusbrief vir die advertensie met besonderhede)

Ds M

« Older posts Newer posts »