Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 263 of 345

Die duiwel is los, onder die vaandel van die kruis

Skriflesing: Op 20:1-15
Teksvers: Op 20:6

Die duiwel is los! Dit is die gesig wat Johannes sien op Patmos. Waar hy kort te vore in hoofstuk 19 gesien het hoe die wederkoms en eindoordeel so te sê op die randjie is om finaal aan te breek, word hy in die volgende oomblik terug gebring na die huidige tyd… Eers word die duiwel gebind en toegesluit, en dan word hy weer losgelaat. Hierdie 1000 jarige ryk (chiliasme) bring soms verwarring, maar die saak is ook eenvoudig: Voordat Christus gekom het, was die duiwel die koning van die wêreld. Met Christus se koms is die werk van die duiwel verydel. Hy is gebind, en kan nie die evangelie stop wat aanvanklik net tot die Jode gekom het nie… Maar in die laaste tyd word hy weer losgelaat voordat die finale oordeel en die wederkoms plaasvind… Ons staan vanoggend stil by die tema: Die duiwel is los, maar onder die vaandel, die heerskappy van Christus. Amen

Laai af

CHRISTEN: Jou erenaam?

Skriflesing: Hand 11; Ps 133; Matt 5:13-16
Teksvers: Hand 11:26b; Op 3:12
HK: Sondag 12

Het jy dalk ook ‘n bynaam? Soos ou Bakkies…. die ou met die groot bakore… of Oom Piet-14dae, die oom wat so lank kan bid… Wel ek gaan nou nie vertel wat my bynaam op skool was nie, maar is seker sommige ouens het maar byname vir die dominees uitgedink of selfs uitgespreek.

Sommige byname is egter spot-name en ander is weer ere-name vir erkenning en respek. Die naam CHRISTEN is egter in alle opsigte bedoel as ‘n erenaam! En dit sê ek net omdat hierdie naam my en jou aan Jesus Christus verbind.

En as jy nou mooi diep daarna kyk, dan is dit omdat Hy Homself van ewigheid af aan jou en my verbind het. Hy is bereid om sy Naam op jou en my te skryf! Hom met my te vereenselwig?

EN jy? Wil jy jouself met Hom vereenselwig??

Laai af

Veertig lewensbelangrike dae!

Skriflesing: Hand 1:1-8
Teksvers: Hand 1:3

Met Jesus se koms het die koninkryk van God by die mens gekom!

Na Jesus Christus se opstanding het Hy nog veertig dae op aarde deurgebring. Dit was veertig baie belangrike dae, want in hierdie tyd het Jesus dit wat Hy aan die dissipels verkondig het, net herbevestig. Jesus het meer as tien maal aan verskillende mense op aarde verskyn. Dit was ’n volkome bewys dat Hy opgestaan het en lewe. Wat baie belangrik was, was dat die dissipels in hierdie tyd nie net begin verstaan het nie, maar volkome begryp het wat Jesus kom doen het. Hy is die Koning van die kerk. Hy is die Messias maar nie ’n verlosser van die aardse lyding in die eerste plek nie, maar ʼn Verlosser wat hulle losgekoop het uit die sondige bestaan en burgers gemaak het van die Koninkryk van God waar Jesus Christus self die Koning van is.

Ons gaan na twee sake kyk:

  • Jesus verskyn aan die dissipels en meer mense.
  • Jesus praat oor die dinge van die Koninkryk van God.

Laai af

Wees bly in verdrukking

Paulus skryf aan die gemeente in Rome (5:1-ev) dat hulle moet bly wees en roem in hulle verdrukking, net soos hy ook aan die gemeente in Korinte skryf dat hulle moet bly wees en roem in swaarkry…

“Ek is bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus” 2 Korintiërs 12:10

Later skryf Petrus en Jakobus ook soortgelyke dinge: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom…” (Jak. 1:2) en “Verheug julle selfs as dit nodig is dat julle ‘n kort tydjie bedroef word deur allerhande beproewinge…” 1 Petrus 1:6.

Hoekom sal hierdie gelowige manne, apostels van ons Here Jesus, sulke vreemde woorde sê? Dryf hulle nie dalk met ons die spot nie? Hoe kan ‘n mens bly wees as dit sleg gaan? Hoe kan jy uitbundig van vreugde wees as jy swaarkry?

Moet ons nie juis vreugde, blydskap en oorwinning beleef hier op aarde nie?

Inderdaad! Maar die wyse waarop dit geskied is anders as hoe ons dink dit moet wees. Die vreugde wat God gee staan los van alle wêreldse dinge. God wil ons leer wat hemelse vreugde is… Dit is ‘n vreugde wat niemand van jou kan wegneem nie, en wat niemand behalwe God vir jou kan gee nie…

Daardie vreugde is gewortel in God self, in die vrug van die Heilige Gees (Galasiërs 5) en word ons deel alleen in Jesus Christus. Daardie vreugde kom voort uit Christus, wat die vreugde wat Hom voorgehou is, verruil het vir die kruis, sodat ons volkome blydskap kan ervaar…

En dit is: vergifnis van sondes en die ewige lewe by God. Dit is ‘n vreugde wat geld nie kan koop nie, en beter as enige pensioen… Dat jy die Here ontvang as erfenis!

Die prys vir hierdie pensioen is gratis (Sola Gratia) en tog nie verniet nie. Want die volle prys is betaal deur Christus. Ons kry egter slegs deel aan hierdie genade deur die geloof… Maar die geloof moet suiwer wees. Dit word gelouter en getoets en skoongemaak, geheilig en gereinig van alle onsuiwerhede (sonde).

Dink dan so daaraan: Beproewinge is ons eksamens vir geloof. Deur beproewinge word ons gelouter sodat ons rein vir God kan wees. Dit maak ons bly, want die Here maak met ons bemoeienis…

Wees dan bly in verdrukking…

Ds Lourens

« Older posts Newer posts »