Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 196 of 345

PROEFGEBOD

Skriflesing: Gen 2:4b-25
Teksvers: Gen 2:16,17 

Voorregte bring verantwoordelikhede! God se genade vra gehoorsame verantwoordelikhede 

1 God skep die man Gen 2:4b-7 

2 God skep ’n tuiste Gen 2:8-15 

3 God skep ’n Proefgebod Gen 2:16,17 

4 God skep die vrou Gen 2:18-23 

5 God skep die huwelik Gen 2:24,25

Ds Gerrit Kruger 

Ons Enigste Troos

Dit is ongeveer 2 maande gelede, aan die einde van Aprilmaand wat die wêreld met afgryse toegekyk het hoe derduisende mense se liggame sommer so in die openbaar in Indië verbrand is, toe hulle deur hierdie selfde vlaag van die virus getref is. 

Die wyse waarop heidene in hulle ongeloof optree sê baie oor wat hulle glo. Hierdie afskuwelike tonele van brandende liggame het baie mense bitter gelaat in die siel. Hoe kan dit wees dat mense sommer so in ‘n openbare park of op straat op ‘n houtstapel geplaas word en net daar aan die brand gesteek word…? 

Ons kan dit net verstaan as ons begrip het vir die heidense oortuiging van Hinduïsme, die grootste panteïstiese geloofsoortuiging in Indië. Die Hindu’s glo dat alles gode is en die gode in alles. Daarom dat hulle nie diere doodmaak nie. En hulle glo in reïnkarnasie. 

Met ander woorde, dat wanneer mense sterf hulle weer in ‘n nuwe vorm lewe vind. Omdat die menslike liggaam in hulle oë net ‘n dop is, moet die liggaam vernietig word so gou moontlik dat die siel nie weer daarheen terugkeer nie, maar eerder na ‘n hoër vorm van goddelikheid sal inkarneer. 

By Christene is die geheel anders. Ons glo dat die liggaam net so kosbaar is soos die siel en die gees. Christus het immers met sy liggaam en bloed betaal, en boonop sit Hy as mens aan die regterhand van sy Vader as verheerlikte Koning. 

Dit is ook die diepe troos van waar ons belydenis begin, by Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus: Dat ons enigste troos daarin bestaan dat ons na liggaam en na siel, in lewe en in sterwe aan Christus behoort. Ons liggaam is immers ‘n tempel van die Heilige Gees wat in ewigheid by God sal wees. 

Mag hierdie troos ook ons berusting en vrede bring in hierdie onsekere tye, dat ons as Christene nie soos die heidene sal wees nie, maar eerder ‘n Lig en Sout wat ons liggame stel as heilige, welgevallige offers om God te verheerlik. 

Lourens (vdm) 

Die derde plaag tref Egipte en die derde golf van die virus tref ons

Die derde plaag wat Egipte getref het was muggies. Ironies dat die eerste twee plae, nl. die water wat in bloed verander het en tweedens die padda-plaag, kon die Egiptiese towenaars ook doen. Maar die derde plaag, wat miskien nie so erg klink nie, nl. ’n muggieplaag, kon die towenaars van Egipte Moses nie nadoen nie. Dit het tot gevolg gehad dat die towenaars gesê het: Ex 8:19 “Toe sê die towenaars vir die Farao: “Dit is die vinger van God!” Hulle het uitein-delik erken aan die Farao dat dit God is wat met Egipte handel. 

Die derde plaag van die Covid-19 infeksies het Suid Afrika nou getref en veral ons in Gauteng loop die ergste deur. Met die eerste twee plae was dit dalk nog ver van ons af en enkele mense het siek geword. Nou is dit so dat daar feitlik in elke wyk ’n hele paar huisgesinne getref en geaffekteer word. Dit het nou werklik ’n pandemie geword. Dank die Here die medici begin die virus al ’n bietjie verstaan met die nodige behandeling, maar nog steeds sterf daar mense vanweë die virus. 

Nou kan ons sekerlik steeds vra: Waar kom die virus vandaan? Hoekom tref dit ons en die hele wêreld? Wat moet ons doen en hoe moet ons dit hanteer? 

Sekerlik is daar meer vrae as antwoorde! Daar is sekerlik vrae waarop ons nooit die antwoorde sal verkry nie. MAAR verseker vra dit van ons om afgesien van ons verantwoordelikheid, van protokolle wat gevolg moet word, OM na God toe terug te keer en ons te bekeer. Ons moet ons voor God verootmoedig en ons voor God werp in gebed. Ons moet ons opnuut voor God verootmoedig. Mat_10:28 “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.” 

Luk_12:4 “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie.” 

Ons moet nie bevrees wees nie. God is altyd en steeds in beheer. Steeds sal daar nie ’n haar van ons hoof val sonder dat God dit weet nie. God sal ons nie bo ons vermoë beproef nie. Ja natuurlik is al hierdie gebeure traumaties. Natuurlik is die dood veral vanweë die virus baie traumaties. Maar kom ons bly vertrou en bid. Kom ons bly erken dat God almagtig en in beheer is. Kom ons bid vir genade en beskerming, SODAT ons God kan dien en aanbid en voor Hom buig.

Ds. Gerrit 

« Older posts Newer posts »