Page 186 of 345
Skriflesing: Psalm 133; Levitikus 8:1-12
Teksvers: Psalm 133:1-3
HK Sondag 12
Een van die kortste Psalms in die Bybel maar ‘n pragtige beeld. Die plek is die tabernakel. Paasfees. Die priesters moet hulle reinig en heilig voor die Here.
Die hoëpriester Aaron moet gereed maak om voor God te verskyn en die volk voor die Here te verteenwoordig. Die salwing. Salfolie. Geurig en ryk. Spesiaal net vir hierdie doel. Aan die Here gewy. Dit word op sy kop uitgegiet en deurtrek sy hare baard en klere soos dit afdrup en hom geheel en al aan God toewy. Gesalf in die Here se Naam!
Alles wys heen na Christus. Die Messias. Gesalfde (Annointed). Jesus Christus die Gesalfde van God!
Skriflesing: 2 Tessalonisense 1:1- 2:17
Teksvers: 2 Tessalonisense 1: 3-5
Elke dag beleef ons uitdagings om nie moedeloos te word en handdoek in te gooi nie. Ons voel so magteloos teen al die reëls en regulasies en natuurlik die onsekerheid van die siekte. Baie mense is emosioneel uitgeput en gespanne. Niemand weet wat more inhou nie. Dit was eintlik nog altyd so. Nie op dieselfde manier nie, want daar was voorspelbare planne. Ons lewens was vooruit geskeduleer in ons dagboek.
Dit is juis wat geloof so kosbaar maak. Dat ons kan vashou aan die sekerheid van God se Woord, al val die wêreld rondom ons inmekaar. So het die gemeente in Tessalonika ook volhard in die geloof ten spyte van die teenstand en vervolging wat hulle ervaar het, en selfs vererger het.
Deur volharding in die geloof word ons geslyp en getoets sodat ons die koninkryk van God waardig mag wees. Amen
Wat ‘n wonderlike genade dat ons kinders van God genoem word (1 Joh 3:1). Dit is wat ons is omdat God ons so noem. Sy eie Seun het dit moontlik gemaak. Sy Vader is nou ons Vader! En ons is dan die aangenome kinders van God.
Net so aangrypend en wonderlik is die feit dat Jesus ons sy “vriende” noem. Van vyande tot vriende van die Here! En dat Hy die grootste liefde bewys deur sy lewe vir sy “vriende” te gee. En nou het Hy alles wat Hy van die Vader gehoor het aan sy vriende bekend gemaak (Joh 15:15). Hy is immers die openbaring van God die Vader. Deur Hom sien en ken ons die Vader!
Ons lees dat Abraham ‘n vriend van God genoem word. In Jakobus 2:23 lees ons: “Abraham het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken. En hy is ‘n vriend van God genoem.”
Die enigste direkte verwysing in die Ou Testament na Abraham as “vriend van God” vind ons in Jesaja 41:8: “…nageslag van Abraham, my vriend…”. Ook in die huweliksformulier praat ons van Abraham, Isak en Jakob as “vriende” van God. In Genesis 18 sien ons dat God sy hart met Abraham deel omdat God met hom en sy nageslag ‘n verbond gemaak het. Dan open-baar God wat Hy van plan is om met Sodom te doen. Ook met Moses het God gepraat” soos ‘n man met sy vriend praat”.
Nou is dit wel belangrik om te verstaan dat as enige hooggeplaaste jou sy ‘vriend’ noem, hy dan nie noodwendig jou vriend word nie. So is dit dan dat jy nie van God as jou vriend of maatjie kan praat nie. Hy bly God. Jesus is nie jou vriend nie, maar jou Here. Jou God en Meester. Dit is egter ‘n buitengewone voorreg en genade dat Hy ons sy vriende en kinders noem! En dan gee Hy sy lewe vir sy vriende.
As jy egter nie sy vriend is nie, dan is jy sy vyand. Jakobus skryf dit: “Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God” (Jak 4:4). Vyande van God wil ons nie wees nie. As vyand van God kom jy in die ewige oordeel. Dit is geen mooi vooruitsig nie.
Jesus sê egter dat ons sy vriende is. Dit is as ons dan ook doen wat Hy wil. “Julle is my vrien-de as julle alles doen wat ek julle beveel” Joh 15:14) en sy gebooie is nie swaar nie. Laat ons dan dit doen wat God wil – al haat die wêreld ons as sy vriende.
Laat ons dan die Here dank dat Hy ons sy vriende noem en laat ons aan Hom die eer gee wat Hom as ons Verlosser en heilige ewige God toekom.
Ds M